Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só het Mdluli-hulle ‘geplunder’

Richard Mdluli én ander top-offisiere van misdaadintelligensie het dié eenheid se geheime fonds destyds uit honderde duisende rande geplunder op veral private vlugte vir hulself, familielede en hul pastore.

Op een van dié vlugte is Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, se kinders selfs as intelligensie-agente beskryf.

Kol. Kobus Roelofse, ’n senior Valke-ondersoeker, het Dinsdag ’n prentjie van dié beweerde plundertog geskets toe hy voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.

Richard MdluliFoto: DANIELLE KARALLIS

Geld uit die geheime fonds word normaalweg gebruik om informante, skuilhuise en ander bates vir koverte operasies van misdaadintelligensie-operasies te finansier.

Roelofse het ook getuig hoe luukse motors vir die privaatgebruik van Mdluli en ander ook uit die geheime fonds gefinansier is.

Hy het ook aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter onthul hoe verontwaardig hy is omdat hy in die maand wat hy vir sy getuienis voorberei het, geïntimideer is om nie te getuig nie.

Zondo het dit as “baie onaanvaarbaar” beskryf en Roelofse versoek om die kommissie se regspan in te lig as hy enige hulp daaromtrent soek.

Roelofse het getuig hoe hy aanvanklik in 2011 opdrag gekry het om Mdluli en ander op klagte van onder meer ’n moord in Vosloorus, te ondersoek.

“Tydens ons ondersoek van die Vosloorus-saak, het ons sekere inligting van lede van misdaadintelligensie ontvang wat ons laat glo het dat daar misdade binne misdaadintelligensie en veral met die geheime fondsrekening gepleeg is.”

Vroeër is berig dat Mdluli en nog ’n man se vonnisverrigtinge komende Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg begin nadat hulle in Julie vanjaar op vier aanklagte van intimidasie, twee van ontvoering, twee van gewone aanranding en twee van aanranding met die opset om te beseer skuldig bevind is.

Roelofse het onder meer getuig hoe hy destyds inligting van kol. Dhanajaya Naidoo, ’n gewese lid van misdaadintelligensie, gekry het oor hoe Mdluli en genl.maj. Solomon Lazarus, destydse finansiële hoofbeampte van die geheime fonds, en ander hooggeplaastes honderde duisende rand vir vlugte vir hulself, hul families en selfs hul pastore uit die geheime fonds betaal het.

Volgens hom kon hy deur dokumente wat hy in sy ondersoeke bekom het van ’n reisagentskap wat misdaadintelligensie destyds gebruik het, vasstel dat Mdluli en sy familie vlugte tussen April 2010 en 25 Oktober 2011 onderneem het waarvoor die geheime fondse sowat R306 919 moes betaal.

Dit het privaatvlugte na Singapoer en China met onderskeidelik Mdluli se eks- en huidige vroue ingesluit.

“Ek kon ook vasstel dat Mdluli se kinders op een vlug selfs as (intelligensie)-‘agente’ ingeteken was.”

Daarby het Mdluli ook deur die normale polisie-begroting tussen Julie 2009 en Maart 2011 verder vlugte ter waarde van R700 000 onderneem, sê Roelofse.

Lazarus en sy familie het volgens Roelofse ook vlugte van R160 124 onderneem waarvoor die geheime fonds betaal het. Daarby is ’n verdere R215 130 vir privaatvlugte uit die fonds betaal vir nog ’n senior polisie-agent en sy familie.

Dit terwyl twee senior polisie-offisiere en een se man volgens Roelofse ook, sonder hul medewete deur die geheime fonds, na ’n tentkerkdiens in KwaZulu-Natal gevlieg is.

Roelofse sê ’n “aantal pastore en kerkleiers” is destyds ook tussen Durban en Johannesburg uit die geheime fonds rondgevlieg.

Hy het gesê Lazarus is later in ’n tugverhoor skuldig bevind.

Roelofse se getuienis duur Woensdag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.