Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só ignoreer Gama Transnet-raad glo oor tender, hoor Zondo

Transnet was op die punt om te begin met ’n yslike beleggingsprojek van R84 miljard oor vyf jaar toe Siyabonga Gama, oogappel van oudpres. Jacob Zuma, ten alle koste probeer het om die nuwe uitvoerende hoof van dié openbare onderneming te word.

Gama het egter die probleem gehad dat hy as finansiële hoof van Transnet se vragafdeling afgedank is weens twee kontrakte waarmee daar ernstige onreëlmatighede was.

Die een ’n R800 miljoen-kontrak waar Gama net mooi die teenoorgestelde gedoen het wat die Transnet-direksie se aanbeveling was, en die ander ’n veiligheidskontrak wat hy goedgekeur het vir die maatskappy General Nyanda Security (GNS), ’n maatskappy waarin Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, aandele gehad het.

Chris Todd getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Gama en Nyanda het gereeld saam gholf gespeel en ook by mekaar aan huis gekuier, maar Gama het in sy tugverhoor by Transnet aangevoer hulle ken mekaar net van sien.

Getuienis oor verskeie oproepe tussen Gama en Nyanda in sy tugverhoor het egter gewys hulle het heelwat kontak gehad voordat Gama die kontrak onderteken het.

Dít is van die inligting wat Donderdag aan die lig gekom het in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se sitting en ondersoek na Transnet-ongerymdhede.

Chris Todd, ’n prokureur met breedvoerige kennis van die arbeidsreg, het Donderdag getuig hy was by die regsfirma Bowman Gilfillan toe hy in 2009 regsadvies aan Transnet gegee het oor die hantering van die Gama-saak.

Gama het aangevoer daar is ’n sameswering teen hom sodat hy nie as uitvoerende hoof van Transnet aangestel kon word in die plek van Maria Ramos nadat sy Transnet verlaat het nie.

Twee lede van die Transnet-direksie het in beëdigde verklarings hieroor aangevoer hy was nie in daardie stadium as ’n kandidaat vir dié pos aanbeveel nie.

Todd getuig een van die dissiplinêre klagte teen Gama het gehandel oor die verkryging van 50 lokomotiewe as deel van ’n kontrak van R800 miljoen.

Daar is besluit om tweedehandse lokomotiewe in te voer en dit op te knap eerder as om nuwe lokomotiewe te koop.

Die Transnet-direksie het aangedui dat die lokomotiewe deur Transnet self aanmekaargesit sou word, maar Gama het voorgestel ’n maatskappy van buite moet gekontrakteer word om die werk te doen. Gama het uiteindelik dit gedoen presies wat die direksie nié wou gehad het nie, en het ’n buite-maatskappy aangestel.

Uiteindelik moes Transnet ook die koste dra wat die maatskappy aangegaan het om ’n nuwe aanleg te bou om die lokomotiewe aanmekaar te sit.

Gama, wat in daardie stadium finansiële hoof van Transnet se vragafdeling was, het aangevoer regskenners het die kontrak opgestel en die projekbestuurder was verantwoordelik vir die toepassing daarvan.

Die Transnet-direksie het gemeen dit was Gama se direkte verantwoordelikheid, volgens Todd.

Hy het getuig in die geval waar Gama die veiligheidsmaatskappy General Nyanda Security aangestel het, is daar “geen twyfel nie” dat dit bedrog was. Die onreëlmatigheid van Gama se besluit was duidelik. Die kontrak moes deur ’n oop tenderproses toegeken word. In dié geval was daar ’n tenderproses, maar General Nyanda Security het nie daarvoor getender nie. Die kontrak van R18 miljoen is as ’n saak van dringendheid deur Gama afgeteken, terwyl hy slegs die mag gehad het om kontrakte tot die waarde van R10 miljoen af te teken.

Gama het aangevoer hy het geen persoonlike verhouding met Nyanda nie, maar Transnet het telefoonrekords gehad wat wys daar is verskeie oproepe tussen hulle gemaak. Gama het ook in dié geval die skuld op ander amptenare gepak en het aangevoer dat hy slegs die dokumentasie onderteken het sonder om op te let General Nyanda Security se naam is in die kontrak.

Uiteindelik is Gama daaraan skuldig bevind dat hy die dokumente onderteken het sonder om homself van die inhoud daarvan te vergewis.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het hierop gesê uiteindelik is Gama aangestel as uitvoerende groephoof van Transnet, oftewel hy is in der waarheid bevorder tot die pos.

Zondo het verwys na die getuienis van Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, in November 2018 voor die kommissie waarin sy gesê het Zuma het aan haar gesê daar is vir hom net een kandidaat vir die pos van uitvoerende hoof van Transnet, en dit is Gama. Selfs al was daar in daardie stadium tugstappe teen Gama.

Todd het getuig volgens Hogan se getuienis sou daar oor die volgende vyf jaar R84 miljard bestee word as deel van ’n program van grootskaalse kapitaalbeleggings in Transnet.

Die Transnet-direksie was van mening die uitvoerende bestuur sal die regte aanstelling moet wees van iemand wat dié verantwoordelikheid kon hanteer.

Hogan is op 31 Oktober 2010 deur Zuma afgedank as minister en opgevolg deur Malusi Gigaba.

In Desember 2010 is ’n nuwe Transnet-direksie aangestel.

Gama is vroeg in 2011 heraangestel en is later as groephoof van Transnet aangestel.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Eskom  |  Siyabonga Gama  |  Zondo  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.