Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só is De Ruyter verkies, aanvaar dit nou – Gordhan
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

André de Ruyter, Eskom se nuwe uitvoerende hoof, is nie net dapper nie, maar ook ’n patriotiese Suid-Afrikaner, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Gordhan het dit Dinsdagmiddag tydens ’n mondelingse vrae-en-antwoordsessie in die parlement gesê nadat Wayne Thring, ACDP-LP, dit aan hom gestel het dat daar talle kritiek op De Ruyter se aanstelling is.

“Van die kritiek is dat hy wit is en dat u as minister teen transformasie gekant is. Nog kritiek is dat hy nie ’n ingenieur is nie en dat Suid-Afrikaners weens sy geskiedenis by Nampak nie moet verwag dat De Ruyter Eskom sal regruk nie.”

Gordhan het hierop gesê Suid-Afrika se Grondwet aanvaar die “beginsel van nierassigheid net soos positiewe diskriminasie in die gelykheidsklousule van die Handves van Menseregte aanvaar word.

“Tweedens is hy ook die een persoon wat gesê het dat hy ’n 20%-verlaging van sy salaris sal neem. Min mense sal dit in vandag se wêreld doen.”

André de Ruyter Foto: Getty Images

Oor die stelling dat hy teen transformasie gekant is, het Gordhan gesê dat hy hom nie daaroor hoef te regverdig nie. “Dit is omdat ek al vir langer as 40 jaar ’n aktivis en deel van ’n nierassige beweging genaamd die ANC is wat verbind is tot transformasie.”

Gordhan het bygevoeg dat De Ruyter by Sasol lank ten nouste saam met ingenieurs gewerk het.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, wou ook by Gordhan weet of daar nie ’n gepaste swart kandidaat was “wat transformasie kon bevorder” wat in die Eskom-toppos aangestel kon word nie.

Gordhan het gesê Suid-Afrika “behoort aan almal wat daarin woon, swart en wit. Die ANC en die regering steun De Ruyter se aanstelling. Enige aannames oor ras is daarom verkeerd.”

Nazier Paulsen, nog ’n EFF-LP, het dit ook aan Gordhan gestel dat daar weens De Ruyter se aanstelling “ ’n persepsie daar buite is” dat Gordhan ’n stelselmatige proses lei om swart leiers uit uitvoerende bestuursposte by staatsentiteite te sluit.

Gordhan het dit as “fopnuus” beskryf.

“Al die statistieke wat in die jaarverslae van alle staatsentiteite gepubliseer is, weerspieël die demografiese samestelling van hul leierskap.

“In die grootste staatsentiteite onder ons departement verteenwoordig swart mense minstens 70% tot 75% van hul topbestuur. Die syfers is daar, maar as ons oor vals politieke narratiewe in gesprek wil tree, het ons die demokratiese reg van vryheid van spraak om dit te doen.”

Gordhan het dit duidelik gemaak dat De Ruyter nie deur hom as Eskom se nuwe uitvoerende hoof geïdentifiseer of aangestel is nie.

Volgens hom was daar ’n Eskom-direksieproses van meer as 140 name. “Dit is tot 17 verminder deur ’n werwingsagentskap wat onderhoude met hulle gevoer het.

“Agt het onttrek. Daar was ’n kortlys van ses. Toe ’n kortlys van vier. Al vier het bevoegdheidstoetse ondergaan. Toe was daar 'n kortlys van drie.

“ ’n Groep ministers het onderhoude met hulle gevoer. De Ruyter was die Eskom-direksie se verkose kandidaat. Dit is die feite. Aanvaar dit,” het Gordhan gesê.

Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Nuwe Voorsitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.