Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só is teen Dramat ‘gekonkel’

Anwa Dramat moes destyds ten alle koste uit sy pos as nasionale Valke-hoof gedryf word om plek te maak vir die omstrede lt.genl. Berning Ntlemeza, het die Zondo-kommissie van ondersoek Maandag gehoor.

Robert McBride. Foto: Felix Dlangamandla

Daar is selfs probeer om Innocent Khuba, ’n senior ondersoeker van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) wat die beweerde onwettige Zimbabwiese uitleweringsage destyds teen Dramat en Shadrack Sibiya, destydse Gautengse Valke-hoof, ondersoek het, om te koop om dit te doen.

Dit het Maandag tydens die derde dag van Robert McBride, voormalige Opod-hoof, se getuienis aan die lig gekom.

McBride het vroeër getuig hoe die aanvalle teen hom Dramat en Sibiya asook ander Opod-personeel in 2014 en 2015 alles deel was van doelbewuste pogings om instellings soos Opod, die Valke en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te verswak deur hul hoofde deur vals bewerings te verwyder en hulle met jabroers te vervang.

Getuienis oor die beweerde pogings om Khuba om te koop, het Maandag aan die lig gekom toe die kommissie geluister het na ’n bandopname van ’n telefoongesprek tussen hom en Ntlemeza in November 2013.

Ntlemeza was toe nog adjunk-polisiekommissaris in Limpopo.

Pretorius het gesê Khuba gaan ook self daaroor voor die kommissie getuig.

Volgens McBride wou Ntlemeza toe al by Khuba weet hoe hy met die uitleweringsaansoek – wat Dramat en Sibiya by die onwettige deportasie van Zimbabwiese burgers betrek het – vorder omdat dit Ntlemeza se “loopbaanbevordering teruggehou het”.

Daar is ook uit die geledere van die nasionale vervolgingsgesag druk op Khuba geplaas oor sy ondersoek.

Ntlemeza het op daardie vergadering ook geweet iets sou met Dramat gebeur en dat Khuba die pers daaroor moet dophou.
McBride

McBride het gesê dat Ntlemeza weer in 2014 met Khuba vergader het.

Dit in dieselfde tyd dat Nathi Nhleko, destydse minister van polisie, ook alle inligting oor die Zimbabwe-uitleweringsage van Opod aangevra het.

“Die vergadering tussen Ntlemeza en Khuba het ook plaasgevind kort voordat Dramat ’n kennisgewingsbrief oor sy komende skorsing van Nhleko ontvang het.

“Ntlemeza het op daardie vergadering ook geweet iets sou met Dramat gebeur en dat Khuba die pers daaroor moet dophou.”

Die kommissie het Vrydag gehoor daar sal binnekort getuig word oor hoe Dramat op 23 Desember 2014 geskors is kort nadat hy as Valke-hoof saakdossiere oor onder meer die veiligheidsopgraderings by oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-kompleks begin aanvra het.

McBride het vroeër ook getuig hoe Nhleko, ’n Zuma-lojalis, Dramat geskors het op grond van ’n verkeerde Opod-aanbeveling.

Dit het gebeur ondanks ’n amptelike aanbeveling deur Opod dat daar geen bewyse teen Dramat en Sibiya in die Zimbabwiese uitleweringsage was nie

McBride, Khuba en Matthew Sesoko, Opod se ondersoekhoof, is ook kort daarna in opdrag van Nhleko geskors en strafregtelik aangekla.

* Intussen het Pretorius adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, Maandag gevra om dit te heroorweeg of hy maj.genl. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, wat ná McBride sal getuig, se getuienis self wil aanhoor of homself wil verskoon om botsende belange te vermy. Booysen gaan glo vir adv. Mxolisi Zondo, Zondo se broer, direk in sy getuienis betrek.

Zondo het gesê hy wil eers hoor wat Booysen sê en dat hy ook voorleggings van professionele regsorganisasies daaroor sal wil aanhoor voordat hy oor dié komplekse regskwessie besluit.

* Hy het Maandag aangekondig dat hy Dinsdagoggend ook uitspraak sal lewer in Tom Moyane, voormalige SAID-kommissaris, se aansoek om Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, te kruisondervra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.