Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só kies Cele kant teen die boere

Kort ná ’n dubbele plaasmoord in die noorde van KwaZulu-Natal ’n maand gelede het Bheki Cele, minister van polisie, op ’n vergadering na boere se probleme geluister, “sy hoed afgehaal”, en belowe om met oplossings terug te kom.

Anton Pitout was een van twee boere wat die afgelo
Anton Pitout was een van twee boere wat die afgelope Maandag op ’n gemeenskapsvergadering, gelei deur Bheki Cele, minister van polisie, onder skoot gekom het. Foto’s: Deon Raath

Maar in plaas daarvan het hy gemoedere met sy uitbarsting op ’n imbizo Maandag verder opgesweep, sê wit, swart en In­diërboere by wie Rapport op hul plase besoek afgelê het.

“Hy motiveer die slegte mense om by goeie mense te steel en hulle te vermoor. As mense aanhou om boere so te vermoor, gaan die kos opraak. Hongersnood kom,” sê Sipho Hadebe (62), wat sedert 1998 in die Normandien-omgewing boer.

Dit is waar Glen en Vida Rafferty op 29 Augustus op hul plaas, Hanover, doodgeskiet is.

Siyabonga Goodman Macu (29) doen Maandag in die landdroshof op Newcastle aansoek om borgtog. Hy het volgens die polisie ’n bekentenis oor die moorde voor ’n landdros afgelê. Hy staan ook in ’n ander saak tereg weens die aanranding van sy voormalige werkgewer Anton Pitout (43), wie se plaas, Elandsklip, drie kilometer van die Raffertys s’n is.

Pitout het voorheen rugby gespeel vir die Cheetahs, die Bulle, Munster (in Ierland) en die Ricoh Black Rams (in Japan). Hy is een van die boere teen wie Cele Maandag op die vergadering uitgevaar het.

Abu Docrat: “In 2018 het ek opgehou tel by 120 bee
Abu Docrat: “In 2018 het ek opgehou tel by 120 beeste wat gesteel is.”

“Vyf mense het my van ’n klomp lelike dinge beskuldig: drie lede van die Macu-familie wat op my plaas verblyfreg het – die gogo en twee van die susters – en ook twee vroue wat op die buurplaas bly,” het Pitout die afgelope week aan Rapport gesê.

Die vroue het onder meer gesê hy is ’n rassis, jaag hulle en hul kinders met gewere en laai hul boerbokke in sy voertuig.

Pitout ontken dit ten sterkste.

“Ek het my plaas in 2018 gekoop. Saam met die plaas het ’n verblyfregkontrak (occupancy agreement) gekom. Die Macu-familie mag op die grond bly, maar hulle mag net 15 beeste aanhou.”

Ek het aangebied om amper ’n kwart van my plaas af te sny, maar hulle soek alles.

Hy sê hulle hou ongeveer 50 boerbokke aan wat gereeld in sy landerye kom wei. “Dit het my verlede Desember R140 000 gekos om ’n interdik te kry om hulle te dwing om hul bokke in hul kraal te hou. Die Macu’s steur hulle nie daaraan nie en die polisie doen niks nie,” sê Pitout.

Hy het na ’n vreedsame oplossing gestreef. “Ek het aangebied om amper ’n kwart van my plaas – 90 ha van die 426 ha – af te sny vir hulle, maar die Macu’s soek alles.”

Tydens Rapport se besoek was van die Macu-bokke in Pitout se onlangs gestroopte mielielande.

Sipho Hadebe boer sedert 1998 in vrede saam met sy
Sipho Hadebe boer sedert 1998 in vrede saam met sy wit bure.

Aan die ander kant van die plaas was nog ongenooide boerbokke op Pitout-grond.

“Dié ander bokke behoort aan die ander twee vroue wat my by die vergadering beskuldig het se families,” beweer Pitout.

Minute later het die Normandien-polisie opgedaag.

Die Macu’s het hul bokke dadelik kraal toe gejaag.

Twee sersante het Pitout se interdik bestudeer en toe na die Macu-nedersetting gery. Die matriarg, Gladys Macu, het botweg geweier om kommentaar te lewer.

Pitout beskuldig die Macu’s van deurlopende intimidasie.

’n Video wat tydens verlede jaar se ploegtyd vanuit sy trekkerkajuit geneem is, wys hoe Siyabonga Macu se suster Goodness ’n trekker se buiteband reg voor die aankomende trekker insleep. Pitout ry ’n draai om haar en sy wys vir hom vinger. In haar ander hand hou sy ’n kierie.

Moshin Ameen: “Mens moet kyk na die mense wat vir
Moshin Ameen: “Mens moet kyk na die mense wat vir jou werk.”

In nóg ’n video dam lede van die Macu-familie hom met kieries by.

“Vir hierdie aanranding wou die polisie nie ’n saak oopmaak nie. Hulle het gesê ek kan nie bewys dis ek wat in die video is nie.”

Pitout se stem is deurentyd hoorbaar in die video.

Hy sê herhaaldelik: “Shaya mina.” Dit beteken “slaan my” in Zoeloe.

“Ek het baie sake teen die Macu’s probeer indien, maar net die aanranding van verlede Oktober het dit tot in die hof gemaak.”

Op Maandag se vergadering het Roland Collyer, voorsitter van die Normandien-boerevereniging, vir Cele gekonfronteer oor verblyfreg­eisers se beeste wat op boere se grond wei.

Cele het Collyer toe van arrogansie en ’n gebrek aan respek beskuldig.

Moshin Ameen by een van die hutte op die Ameen-plaas wat glo deur verblyf-eisers brandgesteek is. Foto: Deon Raath

“As jy my só behandel, wat doen jy met die mense wat vir jou werk?” wou die minister by hom weet.

Collyer was nie tydens Rapport se besoek in die omgewing nie. Die boerevereniging se ondervoorsitter, Stephan Boshoff, het gesê hy moes “wegkom van die onnodige druk”.

“Roland het vir die minister probeer verduidelik dat die bewerings teen Anton Pitout onwaar is. Minister Cele is die een wat dinge uit verband geruk het.”

Boshoff en ander boere is uit die veld geslaan oor hoe dié tweede vergadering met Cele ontaard het.

“Hy het dae ná die moorde ook met sy gevolg opgedaag om te simpatiseer, nie om klagtes aan te hoor nie, maar hy het tog na ons geluister.

“Dit was só ’n intieme vergadering, min. Cele het selfs sy hoed afgehaal.” Boshoff sê boere het toe gekla oor die Normandien-polisiekantoor, veediefstalle en vee wat onregmatig op hul grond wei.

'n Video wys Goodness Macu by ’n trekker se buiteb
'n Video wys Goodness Macu by ’n trekker se buiteband wat sy voor Anton Pitout se trekker ingesleep het, glo om hom te “intimideer” terwyl hy probeer ploeg.

“Die minister het gesê as hy weer terugkom, is dit nie vir klagtes nie, dis met oplossings.”

Daarna het lede van die polisie se provinsiale topbestuur teruggekom vir wat Boshoff die “hoendervleis-vergadering” noem.

“Die offisiere het die mense in beheer van al die polisiekantoor se komponente een vir een in ons boeresaal voor ons oor hul pligte ondervra.”

Die van Macu is wéér genoem.

“Die kommissaris het gevra wie die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is. Thandi Macu, een van Siyabonga Macu se susters, het opgestaan. Hy vra haar toe wanneer sy haar laaste vergadering gereël het. Macu kon hom nie antwoord nie,” beweer Boshoff.

Hy sê die offisiere het die Normandien-polisiekantoor behoorlik die kop gewas.

“Ons het gedink die openhartigheid en wedersydse respek van die vorige twee vergaderings sou oorspoel na Maandag se imbizo toe. Ons was verkeerd,” sê Boshoff.

Hadebe sê: “Dis die verblyfreg-eisers wat probleme veroorsaak. Toe ek my plaas gekoop het, was daar twee families van minder as 20 mense. Nou is hulle meer as  30 mense.

“Die mense het bokke én beeste. Ek het 10 ha afgesny vir hul diere, maar dis nie genoeg nie.”

Cele hét vrese glo ‘getakel’
Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, sê Cele het die nasionale kommissaris opdrag gegee om die klagtes teen die Normandien-polisiekantoor te ondersoek.
“Min. Cele was in wisselwerking met georganiseerde strukture wat boere en plaaswerkers verteenwoordig en ook met verteenwoordigers van die gemeenskapspolisiëringsforums.”
Sy sê die eerste besoek was ’n kort vergadering.
“Die minister het die mense verseker dat hy binne weke sou terugkeer om ’n groter skakeling met die gemeenskap te hê om hul vrese oor veiligheid te takel. Dit is presies wat toe gebeur het.”
In antwoord op verdere vrae het sy Rapport na ’n video-opname van die dag en na die polisie in KwaZulu-Natal verwys.
Brig. Jay Naicker, provinsiale woordvoerder, het versoek dat Rapport se vrae per e-pos gerig word, maar teen druktyd het die polisie nog nie daarop reageer nie.
Die departement van grondhervorming het ontvangs van Rapport se vrae erken, maar nie daarop gereageer nie.

Hy het vrede met sy bure.

“Ons boer saam en blus brande saam. Die politici probeer ’n wig dryf tussen ons,” sê Hadebe.

“Korrupsie het al die staat se geld opgeëet, nou kom hulle vir die plase. Hierdie regering gaan Normandien in Somalië verander.”

Moshin Ameen (33) se familie boer sedert die vroeë 1980’s net buite Newcastle.

Drie families het op hul plaas gewoon.

“Ons het saam met hulle grootgeword. Die grootmense het my as kind soms pak gegee en ek en hul seuns het saam gespeel en perd gery,” sê Ameen.

In 2016 het alles verander.

“Ons is gedagvaar om in die grondeisehof in Randburg te verskyn. Die mense wou ons grond hê.”

Hy sê dit was stank vir dank.

“My oupa, hy is intussen oorlede, het in elk geval vir elkeen van die drie gesinne R150 000 gegee sodat hulle ander blyplek kan kry.”

Abu Docrat (34) sê ’n plaaslike politikus (sy naam is aan Rapport bekend) het sonder sy toestemming ’n huis op sy grond gebou.

“Hy het die huis glo met sy eie geld gebou en vir die oppasser van ’n plaasskool gegee. Dis alles net vir publisiteit.”

Ook hy sukkel met veeverliese.

“In 2018 het ek opgehou tel by 120 beeste wat gesteel is. En skape verdwyn makliker. Die diewe sny hul ore af, dan is hul plastiekmerkers weg,” sê Docrat.

Sifiso Nkosi (38) het aan ’n optog ná die Rafferty-moorde deelgeneem.

“Ek bly op ’n plaas, kry my kos daar en werk daar,” sê hy. “As my boer vermoor word, verloor ek alles. Ek kan dit nie bekostig nie.”

Meer oor:  Glen Rafferty  |  Moshin Ameen  |  Abu Docrat  |  Bheki Cele  |  Siyabonga Goodman Macu  |  Anton Pitout  |  Kwazulu-Natal  |  Boere  |  Cele  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.