Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
So lyk Cyril se 'aggressiewe' bouprogram

’n Aggressiewe openbare-sektor-bouprogram is nodig om Suid-Afrika se sukkelende ekonomie ’n geloofwaardige en onmiddellike inspuiting te gee, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Om dié rede het hy die Kantoor vir Beleggings en Infrastruktuur (KBI) in die presidensie opdrag gegee om ’n simposium oor volhoubare infrastruktuurontwikkeling te hou wat onmiddellik infrastruktuurprojekte van nasionale belang moet identifiseer.

“Dit moet projekte wees wat die potensiaal het om ekonomiese groei te dryf, betekenisvolle beleggings uit die privaat sektor te lok én kan help om die regering se strategiese doelwitte te bereik,” het Ramaphosa Dinsdagoggend in Tuynhuys in Kaapstad gesê.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: CITY PRESS

Dit is die heel eerste keer dat hy die regering, ontwikkelingsfinansierders, die privaat sektor en ander rolspelers in die infrastruktuursektor in ’n buitengewone vergadering onder een dak bymekaargebring het om ’n sinvolle gesprek oor openbare-sektor-infrastruktuur te voer.

Volgens Ramaphosa is beleggings in die bou van paaie, hawens, spoorweë en lughawens, die skep van elektrisiteitsinfrastruktuur en die aanlê van pyplyne en kabels van uiterse belang. Enigiets wat die vervoer van mense en goedere, die ontwikkeling van kommoditeite en die lewering van water, energie en inligting bevorder, is ’n kritieke dryfveer vir ekonomiese groei. Terselfdertyd speel dit ook ’n betekenisvolle rol in ’n land se ekonomiese welstand.

Volgens hom is die werklikheid in Suid-Afrika egter dat besteding op openbare infrastruktuur die afgelope jare afgeneem het en tans net op sowat 13% van die totale besteding staan.

“Die begrotingsverslag van 2019 lui dat openbare beleggings onlangs afgeneem het en dat daar by munisipaliteite ’n onderprestering is op beleggingsprojekte wat aan hulle oorgedra is.

“Speling binne die fiskus is verder deur enorme reddingsboeie aan staatsentiteite soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens beperk.”

Hy het benadruk dat infrastruktuurbeleggings teen 2030 tot 30% sal moet groei om die Nasionale Ontwikkelingsplan se ekonomiese groeiteikens te haal.

Ramaphosa het gesê die gebrek aan infrastruktuurbeleggings in Suid-Afrika het tot die ineenstorting van die infrastruktuurbedryf, die onttrekking van beleggings en dalende beleggersvertroue gelei.

“Dit is ’n prentjie wat ons onmiddellik wil regstel. Om hindernisse vir infrastruktuur te verwyder, is noodsaaklik om die vereiste groei te kan behaal.”

Ramaphosa het daarom ’n stel onmiddellike ingrypings aangekondig om “die situasie reg te stel”.

Dit behels onder meer:

*Die skep en opskerp van tegniese en ingenieursvermoëns in die regering om onder meer verlore vaardighede terug te lok;

*Ontwikkeling van ’n gedetailleerde infrastruktuurbeleggingsplan wat ’n positiewe boodskap aan beleggers en leners uitdra en veral die stagnante konstruksiebedryf sal laat herleef;

*Hervorming van bestaande beleid en regulasies waarvan die onbedoelde gevolge die vertraging en ontsporing van beleggings is en die ekonomie duur te staan kom;

*Hersiening van die aard van finansiering, veral met die koms van die beplande Infrastruktuurfonds wat deelname van die privaat sektor in die implementering van openbare-infrastruktuur-projekte kan verseker; en

*Bestaande raamwerk vir openbare infrastruktuur wat hersien moet word omdat dit te gefragmenteerd en daar te veel onduidelikhede is, wat die optimale implementering van infrastruktuurprojekte belemmer.

Volgens Ramaphosa sal die onlangs gestigte KBI die hersieningsproses bestuur om probleme uit te skakel en ’n gekoördineerde benadering vas te stel, met die presidensie wat as die strategiese sentrum vir beleggings en infrastruktuur dien.

Die president het gesê hy sal binnekort ’n beleidsverklaring vir infrastruktuurbeleggings bekend stel, wat verwarring uit die weg sal ruim, ’n raamwerk sal verskaf vir goeie infrastruktuurbeleggings en toesighoudende maatreëls sal insluit.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Kaapstad  |  Ekonomie  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.