Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só lyk korrupsieklagte teen Ace

Een van die korrupsieklagte teen Ace Magashule hou verband met die betaling van studiegeld vir die dogter van ’n voormalige regshoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Nog ’n korrupsieklag gaan oor ’n betaling van R250 000 aan ’n reisagentskap vir ’n luukse reis vir afgevaardigdes wat Kuba besoek het.

Die staat beweer Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het in sy termyn as premier van die Vrystaat vir Ignatius (Igo) Mpambani, alleendirekteur van die maatskappy Diamond Hill Trading 71 wat ’n kontrak met die Vrystaatse regering gehad het, opdrag gegee om R53 550 vir Refiloe Mokoena se kind se oorsese studie by te dra en Astra-reise te betaal. 

Die Valke het Dinsdag ’n lasbrief uitgereik vir Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se inhegtenisneming na aanleiding van sy beweerde rol in die omstrede oudit van asbesdakke terwyl hy premier van die Vrystaat was. Foto: Argief

Die staat voer in nog twee aanklagte aan dat Magashule vir Mpambani opdrag gegee het om R470 000 aan M-Tag-system, ’n IT-maatskappy in Midrand, vir 200 tabletrekenaars en R300 000 aan Griffin Edge in Bloemfontein vir nog 200 tabletrekenaars te betaal.

Magashule is die enigste een op die klagstaat vir dié vier aanklagte van beweerde omkopery in 2015, en op die klagstaat van ’n beweerde betaling van R30 000 van Diamond Hill Trading 71 aan S.W.C. Nkate.

Diamond Hill Trading 71 is saam met Magashule en nog 11 ander mense en maatskappye beskuldigdes in die asbesdak-oudit-tender van R255 miljoen wat in Oktober 2014 deur die Vrystaatse departement van menslike nedersettings gesluit is om asbesdakke in die provinsie op te spoor en te tel met die doel om dit te vervang.

Mpambani is in Junie 2017 helder oordag in vermoedelik ’n sluipmoord doodgeskiet waar hy in sy Bentley in Sandton gesit het.

Magashule verskyn Vrydag in die landdroshof op aanklagte van korrupsie, asook bedrog en geldwassery. Die verhoor van sy medebeskuldigdes is vroeër vandeesweek tot Februarie uitgestel.

Hulle is Olly Mlamleli, uitgeskopte uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Edwin Sodi, miljoenêrsakeman, Thabane Zulu, voormalige direkteur-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings, Nthimotse Mokhesi, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, Mahlomola Matlakala, verkrygingshoof van dieselfde departement, Sello Radebe, eienaar van die maatskappy Mastertrade 232, en Abel Manyeki, direkteur van die Ori Group.

Blackhead Consulting, wat aan Sodi behoort, Mastertrade 232 Edms. Bpk. en die Ori Group Edms. Bpk. is ook beskuldigdes.

Hulle staan op agt aanklagte van bedrog en 44 aanklagte van geldwassery tereg.

Daarmee saam word Sodi, Mokhesi en Zulu deur aanklagte van korrupsie in die gesig gestaar.

Mlamleli en Magashule word in hul hoedanigheid as lede van die provinsiale regering, asook lede van die provinsiale uitvoerende raad, daarvan aangekla dat hulle die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree het.

• Mokoena is vroeër uit haar amp by die SAID geskors nadat sy haarself aan “ernstige wangedrag” skuldig gemaak het.

Hoewel die SAID geen besonderhede gegee het nie, het hy reeds in September 2018 gesê hy gaan haar skors oor haar betrokkenheid by die terugbetaling van R420 miljoen se belasting op toegevoegde waarde aan die Guptas. Dié geld is aan ’n derde party betaal.

Blackhead Consulting en Diamond Hill Trading 71

In Mei 2014 het Sodi en sy maatskappy, Blackhead Consulting, met Diamond Hill Trading 71, wat aan Mpambani behoort het, ’n kontrak gesluit om die huise met asbesdakke in Gauteng teen R1 350 per huis te tel.

Die staat beweer hulle het ook R32 760 per huis gevra om die dakke te vervang.

Die Vrystaatse departement van menslike nedersettings het glo in Julie 2014 op aandrang van Mokhesi aansoek gedoen om by die projek ingesluit te word.

Die aansoek is in Augustus 2014 goedgekeur en ’n ooreenkoms van R255 miljoen is tussen Sodi en Blackhead Consulting, asook Diamond Hill Trading 71 en die Vrystaatse departement van menslike nedersettings gesluit.

Die departement het toe glo R51 miljoen vooruit aan Sodi en Blackhead Consulting, asook Diamond Hill Trading 71  betaal en daarna is gereelde betalings gemaak sonder dat die dakke vervang is.

Die staat voer aan dat die Vrystaatse departement van menslike nedersettings enkelbedrae van tot R77,5 miljoen (4 Augustus 2016) aan Blackhead Consulting betaal het. Van die ander enkelbedrae wat glo tussen 2014 en 2016 betaal is, is onder meer R36,5 miljoen (11 Augustus 2015), R31 miljoen (15 Januarie 2015) en R25 miljoen (26 Maart 2015).


Meer oor:  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Klagte  |  Korrupsie  |  Bedrog  |  Geldwassery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.