Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
So lyk parlement se reëls om ’n OB te kan pos

Die parlement het nou amptelik ’n stel spesifieke reëls oor hoe om van ’n sittende openbare beskermer (OB) of die hoof van enige ander hoofstuk 9-instelling ontslae te raak.

Die nasionale vergadering (NV) het Dinsdagmiddag ’n voorlopige verslag van die komitee oor parlementêre reëls met aanbevelings oor sulke reëls en prosedures, aanvaar. Die reëls is dus nou van krag.

Die druk op die parlement om sulke reëls ingestel te kry, het gekom nadat John Steenhuisen, voormalige DA-hoofsweep en tans partyleier, vroeër die wetgewer verskeie kere versoek het om die proses te bespoedig om adv. Busisiwe Mkhwebane, die huidige OB, uit haar amp te verwyder. Dit is weens ’n reeks verdoemende hofbeslissings teen haar vroeër vanjaar.

Die parlement het egter nie sulke reëls gehad nie.

Die aangeleentheid is daarna na die reëlskomitee verwys om sulke reëls op te stel. Die komitee het ná aanbevelings die voorlopige verslag verlede week goedgekeur en na die NV verwys vir goedkeuring.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê die nuwe reëls maak nou onder meer voorsiening dat enige LP so ’n verwyderingsproses kan begin deur ’n substantiewe mosie wat presiese gronde van wangedrag, onbekwaamheid of onbevoegdheid uitstippel.

Drie gronde van verwydering

Die nuwe reëls bepaal ook presies wat die drie gronde van verwydering is.

Hierna moet die speaker van die NV so ’n mosie en ondersteunende dokumente vir ’n voorlopige assessering na ’n onafhanklike paneel verwys en die NV en staatshoof daarvan in kennis stel.

Dié paneel, wat uit drie geskikte Suid-Afrikaners moet bestaan, moet as ’n kollektief die nodige regs- en ander bevoegdhede en ervaring hê om die assessering te kan doen.

Die speaker kan ná konsultasie met die hoofregter ook ’n regter in die paneel aanstel.

Politieke partye in die NV moet ook ’n redelike geleentheid kry om mense vir die paneel te nomineer. Die paneel moet sy werk binne 30 dae nadat dit aangestel is, afhandel en aanbevelings aan die speaker maak.

Volgens Mothapo moet die speaker dan die paneel se aanbeveling vir goedkeuring aan die NV voorlê.

As die NV besluit dat die ondersoek moet voortgaan, moet die aangeleentheid na ’n spesiale hoofstuk 194-komitee verwys word vir ’n formele ondersoek.

Die komitee, wat dieselfde magte as ander parlementêre komitees sal hê, moet dan die formele ondersoek doen en daaroor aan die NV verslag doen.

Die komitee se verslag, wat bevindings en aanbevelings en redes daarvoor moet bevat, moet dan aan die NV voorgelê word vir dringende oorweging en debat.

As die verslag aanbeveel dat die betrokke openbare ampsdraer verwyder moet word, moet die NV daaroor stem en as die vereiste meerderheid in die NV dit ondersteun, moet die besluit aan die president oorgedra word, het Mothapo gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.