Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só maak Zondo rug styf toe Zuma weer steeks raak

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het nie Vrydag teruggehou toe oudpres. Jacob Zuma sê hy gaan nie verder met die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping saamwerk of voor hom getuig nie.

“Ek en net ek het die besluit geneem (dat Zuma moet getuig). Ek glo ek het die regte besluit geneem. Ek is die enigste mens in die vertrek wat bevindinge moet maak oor die getuies wat hier kom aantygings maak het oor korrupsie en staatskaping,” het Zondo gesê.

Oudpres. Jacob Zuma Vrydagoggend voor die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Dit was nadat adv. Muzi Sikhakhane SC, Zuma se regsverteenwoordiger, gesê het Zuma weier om verder te getuig.

Zondo was nie gelukkig nie.

“Sover as wat dit prakties moontlik is, moet ek albei kante van die saak hoor, nie net die een kant nie. Dit is in dié konteks dat ek besluit het ek wil die oudpresident se storie hoor.”

Hy het daarop gewys dat daar twee maniere is om iemand sover te kry om voor die kommissie te kom getuig – óf jy stem in dat jy sal getuig óf jy word gedagvaar om dit te doen.

Toe Zuma aanvanklik aangedui het hy sal saamwerk en getuig, was dit nie nodig om hom te dagvaar nie.

Zondo het gesê eerstens het Zuma die geleentheid gekry om sy kant van die saak te stel. Die tweede aspek van sy verskyning voor die kommissie is dat die getuienisleier, adv. Paul Pretorius SC, en Zondo vrae aan hom kan stel.

Zuma se besware kan nie die werk van die kommissie belemmer nie. Niemand is gevra om hul regte of pligte prys te gee nie, het Zondo gesê.

Hy het gesê hy wil nie hê Pretorius of die regspan van die kommissie moet gekritiseer word oor ’n besluit wat hulle nie geneem het nie. “Ek het die besluit geneem,” het Zondo weer gesê.

Oudpres. Jacob Zuma kom Vrydagoggend by die kommissie se sitting aan. Foto: Felix Dlangamandla

Toe Zuma Maandag begin praat, het Zondo geen tydsbeperking daarop gestel nie.

“Zuma is die kans gegee om sy sê te sê totdat hy klaar is. Hy het sy kant van die saak gestel totdat hy self gesê het hy is nou klaar. Zuma is nie onderbreek nie,” het Zondo gesê.

In ’n stadium het Sikhakhane gesê die kommissie se span is “onbevoeg”. Hy het die woord teruggetrek en gesê hy wil dit vervang deur “ondoeltreffend”.

Zondo het Vrydag gesê die dag se verrigtinge is nie sommer net verby nie, albei die partye se regspanne moet hom in sy kamers gaan spreek.

Daarna het Zondo uitgekom, die sitting het voortgegaan en hy het gesê Zuma het ingestem om weer saam te werk en dat daar ’n skedule opgestel sal word wat hy (Zondo) onderneem om te doen.

Zuma sal weer kom getuig en die kommissie sal die datums daarvoor saam met hom bepaal.

Zondo het nie gesê wat hy vir die regspanne in sy kamers gesê het om Zuma te oortuig om weer saam te werk nie, behalwe dat hulle binne tien minute tot daardie besluit gekom het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.