Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só raak SA ‘irrelevant’ in Midde-Ooste, waarsku Joodse Raad

Suid-Afrika se besluit om sy ambassade in Israel af te skaal tot net ’n belangekantoor maak sy rol in die Midde-Oosterse vredesproses irrelevant.

Dié waarskuwing kom van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD).

Die organisasie sê in ’n verklaring Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en pres. Cyril Ramaphosa praat nie uit een mond wanneer hulle oor Israel praat nie.

Dit was nog altyd Suid-Afrika se standpunt dat hy met alle betrokkenes in gesprek moet tree en hom nooit moet wend tot boikotpolitiek nie.
SAJBD

Hy sê die uitlating van Sisulu dat die afgradering van die ambassade voltooi is, is in skerp teenstelling met wat Ramaphosa in September by die Garden’s-sinagoge in Kaapstad en ’n maand later op die organisasie se Gautengse kongres gesê het.

Ramaphosa het op dié geleenthede gesê Suid-Afrika wil ’n konstruktiewe rol speel om al die partye bymekaar te bring om ’n oplossing vir die krisis in die Midde-Ooste te vind.

Deur die land se ambassade tot ’n belangekantoor in Israel af te skaal word sy rol egter irrelevant, sê die SAJBD.

Die ANC het in Desember 2017 op sy nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg besluit Suid-Afrika moet sy ambassade in Tel Aviv afgradeer. Omdat die ANC die meerderheidsparty is, moet die regering die ANC se opdragte uitvoer.

Die SAJBD sê die afgradering van die ambassade moet eers deur die Suid-Afrikaanse parlement bespreek en dan deur die kabinet goedgekeur word.

“Veranderinge in regeringsbeleid kan nie sommer net deur ’n minister verklaar word nie.”

Die SAJBD sê die besluit van die regering is boonop strydig met sy eie buitelandse oogmerke.

“Dit was nog altyd Suid-Afrika se standpunt dat hy met alle betrokkenes in gesprek moet tree en hom nooit moet wend tot boikotpolitiek nie.”

Die SAJBD sê die werklikheid is dat al hoe meer lande in Afrika, en selfs die Midde-Ooste, deesdae diplomatieke en ander bande met Israel vorm.

Boonop het die leiers van twee van Suid-Afrika se Brics-bondgenote, Rusland (pres. Wladimir Poetin) en Brasilië (pres. Jair Bolsonaro) die afgelope week in Israel met Benjamin Netanyahu, die land se premier, vergader.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het nog nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Sajbd  |  Lindiwe Sisulu  |  Midde-Ooste  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.