Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só rig Twitter SA se politiek

Twitter-bots word deur linkse én regse groeperings gebruik om Suid-Afrika se politieke diskoers te beïnvloed.

Helen Zille se tweet in Maart 2017 wat ’n ongekende aantal bots se reaksies ontlok het. Foto:

’n Verslag van Superlinear, ’n dataontledingsblog, wys daar is drie hoofgroepe Twitter-gebruikers wat die Suid-Afrikaanse politiek die afgelope vier jaar op dié sosialemediaplatform probeer rig het.

Die groepe is voorstanders van die EFF, Twitter-gebruikers wat hulle vir radikale ekonomiese transformasie (RET) uitspreek én verregse twieters uit die buiteland.

Twitter het dié groepe geskors as deel van hul pogings om die verspreiding van vals nuus hok te slaan.

’n Twitter-bot is sagteware wat ’n Twitter-rekening bestuur deur selfstandig te twiet, hertwiet en twiets te “like”. Die bots volg ook mense se Twitter-profiele en stuur persoonlike boodskappe.

Superlinear het 28 stelle data ontleed wat tussen 2014 en 2018 ingesamel is en honderdduisende twiets insluit. Dit strek oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, waaronder die #FeesMustFall-betogings, die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se twiets oor kolonialisme, die Swart Maandag-protesoptogte en twiets oor die ANC se leierskonferensie in Desember.

In elk van die datastelle is gevind dat bots verantwoordelik was vir tot 9% van alle twiets oor die gebeurtenis. As hertwiets ingesluit word, was bots verantwoordelik vir tot 18% van Twitter-verkeer oor die betrokke onderwerp.

Luidens die Superlinear-verslag is die pro-EFF- geskorste verbruikers onderskei van die ander bots omdat dié rekeninge hul oorsprong in Suid-Afrika gehad het.

“Dit is nie duidelik of hierdie ware gebruikers is wat geskors word oor hul verdelende inhoud nie, en of dit georkestreerde vals rekeninge is nie,” lui die verslag.

Die pro-RET-groepe doen meestal aanvalle op pres. Cyril Ramaphosa en maak uitsprake oor staatsondernemings en rasseverhoudinge.

Internasionale verregse bots beklemtoon hoogs emotiewe kwessies soos plaasmoorde en grondonteiening. Hulle trek dit ook deur na die konsep van ’n “wit volksmoord”.

Volgens die verslag is dié narratief, wat veral op wit Afrikaanssprekende gebruikers fokus, in pas met die wêreldwye verregse agenda van wit nasionalisme. Volgens Superlinear was bots verantwoordelik vir 70 uit elke 1 000 twiets oor Swart Maandag, maar hulle het nie ’n groot impak gehad nie.

Meeste van die geskorste bots het oorsese wit nasionaliste gehertwiet, terwyl plaaslike geskorstes hoofsaaklik pro-EFF was.

Meer oor:  Superlinear  |  Dataontleding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.