Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
So sê besorgdes by sittings oor ‘Uber-wet’

Wes-Kapenaars het beswaar gemaak teen die lang wagtye om bedryfslisensies vir e-taxidienste soos Uber te bekom én teen ’n voorgestelde wetswysiging dat dié voertuie gemerk moet word.

Nceba Hinana, DA-wetgewerlid en voorsitter van die staande komitee oor vervoer en openbare werke, sê dit is van die griewe wat gelug is tydens die openbare sittings vir die Nasionale Wysigingswetsontwerp op Landvervoer (die sogenaamde Uber-wet).

Nceba Hinana, DA-wetgewerlid en voorsitter van die staande komitee oor vervoer en openbare werke in die Wes-Kaapse wetgewer. Foto: Verskaf

Sittings oor die wysigings is die afgelope week in Kaapstad en George gehou.

“Onder die sake wat kommer veroorsaak, is die lang wagtye vir bedryfslisensies terwyl dit voorsiening maak vir strenger strawwe, onder meer tronkstraf vir bestuurders wat daarsonder ry. Sommige bestuurders het aangedui dat hulle al tot twee jaar vir dié lisensies wag en dat hulle sonder werk sal sit as die wysigings deurgevoer word.”

Hinana sê daar is ook beswaar gemaak oor die voorstel dat voertuie van dienste soos Uber en Taxify met kleurkodes of spesifieke simbole vir e-taxidienste gemerk moet word.

“Die vervoerbedryf word gekenmerk deur intense mededinging, taxigeweld en die brand van treine en busse. Om dié voertuie te merk kan hulle ’n maklike teiken vir geweld maak.”

Hinana sê die staande komitee in die Wes-Kaapse wetgewer sal ook navraag by die Kaapse metroraad doen oor wat die grootste oorsaak van wagtye vir bedryfslisensies is en hoe dit reggestel kan word.

Die wysigingswetsontwerp maak voorsiening vir dié verwikkelings sedert 2009, waaronder die regulering van e-taxidienste, sowel as om nie-gemotoriseerde vervoer te reguleer.

Dit maak voorsiening daarvoor dat sekere magte om kontrakte vir openbare vervoerdienste te sluit, aan die provinsies toegewys word. Ook vir die skep van riglyne en vereistes vir munisipaliteite wat sulke kontrakte sluit en ook dat die minister se magte uitgebrei kan word om regulasies en veiligheidsmaatreëls in te stel. Ook dat die minister die magte het om standaarde vir die meters vir metertaxi’s te stel.

Vier Uber-bestuurders is in Junie in Groenpunt, Kaapstad, in hegtenis geneem nadat die kantore van die verkeersdepartement met motors versper is en beamptes wat die pad probeer oopstel het, aangerand is.

Van die bestuurders het toe betoog oor die wagtye vir bedryfslisensies en ’n gebrek aan regulasies vir dié bedryf.

Die staande komitee in die Wes-Kaapse wetgewer sal ná 20 Augustus vergader en sy terugvoer oor die sittings met die nasionale raad van provinsies deel voordat dit na die Nasionale Vergadering sal gaan vir oorweging.

Geskrewe insette oor die wysigingswetsontwerp kan nog tot 20 Augustus om 12:00 gestuur word aan Shareen Niekerk, komiteekoördineerder, vierde verdieping, Wes-Kaapse wetgewer, Waalstraat 7, Kaapstad.

* Die wetsontwerp kan hier gelees word.

Meer oor:  Nceba Hinana  |  Wes-Kaap  |  Uber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.