Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só staan sake nou by SAL

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) staan met een voet in die graf, maar die staat hou eenvoudig aan om geld in dié donker gat af te gooi. Baie mense glo dit is een van sy grootste ydelheidsprojekte, wat so gou as moontlik uit belastingbetalers se lewens en sakke moet kom. Dié geld kan dalk eerder gebruik word om ’n noodsaaklike staatsonderneming soos Eskom te help red. Dit lyk nie of die staat gaan toelaat dat die SAL ten gronde gaan nie, en sakeredders stoei om voor einde Maart met ’n plan vorendag te kom.

Die maalkolk van politieke inmenging, korrupsie en wanbestuur by die SAL dateer volgens berigte van so ver terug as 1991.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het verlede jaar self erken die uitdagings by die SAL is die “regstreekse gevolg van magsmisbruik en korrupsie wat deur staatskaping veroorsaak is” en die werkers is nie verantwoordelik vir die situasie nie.

Is dit nie tyd om die SAL-vlerke te knip en die geld in ander sukkelende staatsondernemings in te stoot nie?

Tito Mboweni, minister van finansies, het skaars drie maande gelede nog so gedink.

Tog het hy verlede week in sy begrotingsrede aangekondig die tesourie het R16,4 miljard oor die volgende drie jaar opsygesit om staatsgewaarborgde skuld en die rente op die SAL se skuld terug te betaal.

Bykomende koste vir herstrukturering sal herprioritiseer word in die begroting, het Mboweni gesê.

Hy glo vas dié ingrype sal lei tot ’n volhoubare lugdiens wat nie die fiskus verder belas nie.

Die SAL-vloot is 54 vliegtuie sterk, luidens die 2016-’17-boekjaarverslag, wat volgens Africa Check die jongste beskikbare inligting is. Daar werk 5 752 mense – 107 per vliegtuig. Die lugdiens het in daardie boekjaar 6,8 miljoen passasiers vervoer.

’n Halfdooie perd

Die moeilikheid kom al jare. Business Insider berig die regering het in 1991 die plaaslike lugvaartbedryf gedereguleer, wat beteken enige maatskappy kon enige roete vlieg. Die lugdiens het ook aangehou om sy vloot uit te brei.

Waar die SAL eens sowat 95% van die plaaslike lugvaartmark beheer het, het hy nou teen mededingers begin verloor.

Baie van nuwe, opkomende lugdienste, soos 1time, Sun Air, Phoenix Airways, Nationwide en Flitestar, het uiteindelik misluk, maar die SAL het steeds ’n knou weg.

Volgens Bloomberg het die nasionale lugdiens in 1999 20% van sy aandele aan SwissAir verkoop en dit in 2002 weer teruggekoop nadat SwissAir bankrot gespeel het.

Die SAL het sedert 1994 – tot voor die jongste inspuiting van R16,4 miljard – al nagenoeg R57 miljard se reddingsboeie van die staat gekry en het in 2011 laas ’n wins getoon.

Die staatsonderneming is einde verlede jaar op sy knieë gedwing toe werkers ’n week lange staking oor lone gehad het en talle vlugte gekanselleer is.

In die 2019-mediumtermynbegrotingsraamwerk sê die tesourie die SAL het oor die laaste 13 jaar sowat R28 miljard in oplopende verliese gely.

“Die lugdiens is insolvent en in sy huidige vorm (is dit) onwaarskynlik dat hy ooit voldoende kontantvloei sal genereer om sy bedrywighede vol te hou,” lui ’n gedeelte uit die verslag van die mediumtermynbegrotingsraamwerk.

“Die lugdiens is insolvent en in sy huidige vorm (is dit) onwaarskynlik dat hy ooit voldoende kontantvloei sal genereer om sy bedrywighede vol te hou.

Die SAL het die gestalte van onbetroubare lugvervoer aangeneem wat sover moontlik vermy moet word.

Boonop loop die lugdiens toe sy sperdatum mis om sy finansiële state, wat einde Oktober verlede jaar moes verskyn, te publiseer en betaal werknemers se November-salarisse laat.

Die tesourie moet nou nog uitwerk presies waar hy die nuwe beloofde reddingsboei vir die SAL vandaan gaan kry, maar dit sal uit bestaande voorlopige toekennings aan staatsondernemings kom, blyk uit die begrotingsoorsig.

Waarom klou die regering so aan die SAL?

Alf Lees, DA-LP en lid van staande komitee oor openbare rekeninge, het verlede week in ’n verklaring gesê die SAL se sakereddingsplan is net die ANC se poging om likwidasie te verhoed, sodat die party beheer oor die staatsonderneming kan behou.

Die DA meen die SAL is ’n ydelheidsprojek en sê dis skandalig dat geld wat nodig is om die ekonomie te stimuleer en werk te skep, vir die SAL gebruik word.

Dudu Myeni in Februarie in die hooggeregshof in Pretoria vir die aansoek om haar as ’n misdadige direkteur te verklaar. Sy ontken die aantygings.Foto: Daily Sun

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, het nie veel hoop vir die SAL nie.

Hy het in sy ontleding van die begrotingsrede aan die Vryemarkstigting gesê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hou die staatsinstellings aan die lewe, kom wat wil. Roodt skryf dit toe aan Gordhan se “sosialistiese” politieke aanslag.

“Pravin Gordhan… glo in sy ideologie. Hy glo sy kollegas glo ook sy ideologie. Daarom hou hy aan om vir die SAL ’n tweede kans, ’n derde kans en ’n vierde kans te gee en hy kan nie kleinkry waarom dit nie werk nie. Dit werk nie, want hulle (sy kollegas) sien dit nie soos hy dit sien nie: Hulle sien dit as ’n manier om van die staat af te leef. Hy sien dit as die verantwoordelikheid van die minister van openbare ondernemings om seker te maak hy behou die mense se bates.

Waarom belastingbetalers moet aanhou opdok ter wille van staatstrots, is ’n ope vraag.

Kan die SAL nie maar net gelikwideer word nie?

Die Airlines Association of Southern Africa (Aasa) meen as die SAL gelikwideer word, sal dit die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf knak.

Lede van Aasa sluit al die plaaslike lugdienste in Suid-Afrika in, asook die meeste lugdienste in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-streek en eilande in die Indiese Oseaan.

Chris Zweigenthal, uitvoerende hoof van Aasa, het in Desember 2019 in ’n verklaring verduidelik Suid-Afrika se plaaslike lugvervoermark is een van die mees kompeterende lugvaartmarkte in Afrika. Die hele ekonomie vind baat daarby.

“Daar is ook ’n hoë vlak van mede-afhanklikheid regoor die bedryf met die SAL wat ’n beduidende rol speel,” het hy gesê.

Hy noem dat South African Airways Technical (SAAT) wat instandhoudingswerk doen, nie net diens aan die SAL en sy laekostefiliaal Mango verskaf nie, maar ook deur BAComair en Kulula gekontrakteer word. Die SAL voorsien verder finansiële en uitbetalingsdienste aan sy franchisevennote, SA Express en Airlink.

Die hele bedryfswaardeketting van lugdienste, lugvervoerinfrastruktuur en diensverskaffers, toerisme, handel, logistiek, ingenieurswerk en die bousektor eis voorspelbaarheid om bedrywighede, inkomste, kontantvloei en koste te bestuur.

Volgens Zweigenthal word die koste van die Airports Company South Africa (Acsa), Air Traffic, die Suid-Afrikaanse Weerdiens en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid se dienste geraam op ’n verwagte aantal vlugte en passasiers, wat die SAL se vlugte insluit.

“Die hele bedryfswaardeketting van lugdienste, lugvervoerinfrastruktuur en diensverskaffers, toerisme, handel, logistiek, ingenieurswerk en die bousektor eis voorspelbaarheid om bedrywighede, inkomste, kontantvloei en koste te bestuur…Die lugvervoer- en toerismebedryf, wat die regering as ’n primêre strategiese sektor geïdentifiseer het om werk te skep en ekonomiese groei te dryf, is weerloos wanneer die mark vertroue verloor… as ’n gevolg van die kansellering (van vlugte),” sê hy.

Zweigenthal haal ’n studie in 2018 deur Oxford Economics aan, wat toon dat die lugvervoerbedryf en breër toerismebedryf vir meer as 470 000 mense werk skep en tot sowat R150 miljard tot die ekonomie bydra, wat 3,2% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk uitmaak.

“Dit stel die mite aan die kaak dat die lugvervoerbedryf net ’n diens aan die rykes is. Inteendeel, dis ’n sosio-ekonomiese spilpunt vir Suid-Afrika en almal wat hier woon.

Zweigenthal sê die netto effek van ’n skielike, ondeurdagte SAL-uitgang, waar die lugvervoer- en toerismebedrywe nie gebeurlikheidsplanne kon instel nie, is ’n stadige, of selfs negatiewe ekonomiese groei wat sal uitloop op ’n fiskale inkrimping.

Die staat gaan nie toelaat dat SAL vou nie. Sakeredders stoei om voor einde Maart met ‘n sakereddingsplan vorendag te kom. Foto: Hansueli Krapf
 

Linden Birns, onafhanklike lugvaartkenner en besturende direkteur by Plane Talking, het verlede jaar op ’n vraag van Netwerk24 oor of daar ’n plek is vir ’n staatsbeheerde lugdiens, gesê dit is onbelangrik wie die lugdiens besit. Singapore Airlines word deur die staat besit, asook Emirates in Dubai, wat baie winsgewend is.

“Staatseienaarskap is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Dit moet gepas gekapitaliseer wees, genoeg geld hê vir sy bedrywighede, beleggers moet genoeg geld beskikbaar stel sodat daar in die regte toerusting en mense belê kan word,” het hy gesê.

Birns kan tans nie kommentaar lewer oor die SAL nie, weens kontraktuele voorwaardes met ’n ander maatskappy.

’n Ander lugvaartkenner wat op voorwaardes van anonimiteit praat, sê dis nie so maklik om SAL se vlugte deur dié van byvoorbeeld British Airways te “vervang” nie. Buitelandse lugdienste mag net volgens sekere bepalings vlieg. Daardie bepalings word deur diplomatieke kanale tussen lande bepaal. Dis nie net van vlugskedules wat aangepas word nie,” sê die kenner.

Swak bestuur en ‘korrupsie’

Die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping het lankal die SAL in sy visier.

Die kommissie probeer onder meer vasstel  hoe dit kon gebeur dat die ouditfirmas PwC en Nkonki Inc. van 2012 tot 2016 skoon oudits vir die SAL kon gee. Die kommissie het in Februarie vanjaar gehoor die ouditeur-generaal (OG) het destyds op versoek van die minister van finansies ingekom om die SAL te oudit, en die boeke in chaos aangetref.

Die OG het besef die SAL het grootskaalse skuld aan verskeie banke, maar dat hy dit nie kan delg nie – dít terwyl die lugdiens vir jare skoon oudits gehad het.

Een van die name wat kort-kort opduik wanneer daar oor die wanbestuur binne die SAL gepraat word, is dié van Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie.

Onder Myeni se voorsitterskap het die SAL tussen Desember 2012 en Oktober 2017 ’n verlies van R16,84 miljard gely. Myeni veg tans in die hof teen ’n aansoek om haar as misdadige direkteur te verklaar.

’n Skuldigbevinding beteken sy sal minstens sewe jaar nie in enige ander direksie mag dien nie. Sy het volgens die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) in 2019 op 13 direksies gedien.

Van toeka tot nou

1934: Die lugdiens begin met sy bedrywighede nadat die regering die bates en verpligtinge van Union Airways oorgeneem het en noem dit die “Suid-Afrikaanse Lugdiens”. Dit val onder die Suid-Afrikaanse Spoorweg- en Hawe-administrasie.

1945: Die SAL stel sy eerste buitelandse vlugte van Johannesburg af bekend. Die vliegtuie stop in Nairobi, Khartoem, Kaïro, Castel Benito (Tripoli) en Bournemouth en elke vlug duur 34 uur.

Die SAL het baie jare lugvervoer tussen Afrika en die res van die wêreld gedryf. Die lugdiens het spesiale regte op Afrika-roetes gehad. Maar later het Ethiopian Airlines sy posisie begin inneem, berig Business Insider.

1952: Die Jan Smuts- Internasionale lughawe in Kempton Park (nou O.R. Tambo) open sy deure.

1957: Die eerste SAL-vlug vertrek na Australië.

1968: Die inwydingsvlug van Johannesburg na Rio de Janeiro word met ’n Boeing 707 onderneem. In daardie boekjaar vervoer die SAL meer as 1 miljoen passasiers.

1970’s: Die SAL skaf ’n Boeing 747B, ZS-SAN ‘Lebombo’, ’n Airbus ‘Blesbok’, 12 Boeing 737's, drie Boeing 747SP's en vier Airbus A300's aan.

1986: Vlugte na New York word in November 1986 opgeskort weens die ekonomiese sanksies wat apartheid teweeg gebring het. Amerika en Australië onttrek ook van sy landingsregte in Suid-Afrika. Die sanksies word eers weer in die 1990’s gelig.

1997: SAL kondig ’n nuwe korporatiewe identiteit aan met die kleure van die nuwe landsvlag op vliegtuie se sterte.

2000: Die SAL en die departement van openbare ondernemings tree in ’n massiewe kontrak met Airbus en bestel nuwe vliegtuie ter waarde van meer as R54,7 miljard, met die doel om die vloot uit te brei en ou vliegtuie te vervang. Die kontrak tree in 2000 in werking en verstryk eers in 2015.

Volgens Fin24 het SAL die volgende vliegtuie aangekoop:

* ses A340-600's gekoop by Airbus plus 3 x A340-600s gehuur van ’n verhuringsmaatskappy

* ses A340-300's gekoop by Airbus

* 11 x A319's gekoop by Airbus

* 15 x A320's gekoop by Airbus

* ses A340-200's gehuur by Airbus

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week by sy begrotingsrede aangekondig dat die tesourie R16,4 miljard oor die volgende drie jaar opsygesit het om staatsgewaarborgde skuld en die rente op die SAL se skuld terug te betaal. Bykomende koste vir herstrukturering sal herprioritiseer word in die begroting.Foto: News24

Die 6 x A340-200's word later vervang deur nuwe A330-200’s, wat van AirCastle gehuur word.

2009: SAL heronderhandel die A320-element van sy kontrak met Airbus, om die getal A320's van 15 na 20 te verhoog. Die bykomende kapasiteit was volgens hom nodig om sy bestaande binnelandse en streekvlugte uit te brei, maar ook om aan die aanvraag na nuwe vlugroetes op die Afrika-kontinent te voldoen. Dit was die kern van sy nuwe sakestrategie.

2012-2014: Die eerste 10 A320-vliegtuie word afgelewer. Die SAL ly egter ’n verlies van R2,5 miljard in die 2013/14-boekjaar.

2012-2013: Weens die hoë olie- en brandstofpryse reik die SAL ’n tender uit vir nuwe, kostedoeltreffende langafstandvliegtuie. Die destydse minister van finansies, Malusi Gigaba, staak die tenderproses nadat die departement van handel en nywerheid die reëls vir die National Industrial Participation Programme hersien het. Hierdie proses geld staatsondernemings wat verkrygingskontrakte van meer as R150 miljoen aangaan.

2015: Die SAL en Airbus onderhandel en besluit op ’n nuwe ooreenkoms, wat beteken die aankoop van die oorblywende tien A320’s moet omgeskakel word in ’n huurkontrak vir vyf A330-langafstandvliegtuie. Volgens die ooreenkoms sou Airbus die betalings wat die SAL reeds vir die A320's gemaak het, aan hom terugbetaal. Airbus sou ingevolge die ooreenkoms ook alle toekomstige betalings vir die A320-vliegtuie ophef.

Daarna sou die SAL weer in ’n positiewe finansiële posisie wees. Die nasionale tesourie keur die voorstel goed, maar Myeni, wat ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma is, weier om dit af te teken. (Myeni bestuur vandag die Jacob Zuma-stigting.)

Steeds in 2015 beïnvloed die omstrede en stinkryk Guptafamilie die SAL glo om regstreekse vlugte tussen Moembai en Johannesburg te staak, sodat ’n Indiese lugdiens, Jet Airways, die roete kan oorneem, berig News 24.

Januarie 2015: Die nasionale tesourie belowe volgens Fin24 die SAL byna R6,5 miljard in staatswaarborge. Teen dié tyd is sy totale staatswaarborge al R14,5 miljard

In Oktober 2015 stel Myeni voor dat Airbus sy A330-vliegtuie aan ’n plaaslike verhuringsmaatskappy verkoop, wat op sy beurt weer die vliegtuie aan die SAL sal verhuur. Airbus verwerp die voorstel, omdat dit nie aan sy interne nakomingstandaarde voldoen nie.

Oktober 2015: Die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA dat die SAL sedert Maart 2012 byna 6 miljoen The New Age-koerante vir sy vliegtuie en sitkamers by lughawens gekoop het. Die koste beloop byna R10 miljoen. Die koerant was die Guptas se skepping.

Oktober tot November 2015: Myeni maak ’n nuwe voorstel aan die parlement se staande komitees oor finansies en openbare ondernemings en sê die SAL wil ’n huurkontrak in rande aangaan, want dit hou glo minder buitelandse valuta-risiko’s vir die lugdiens in.

November 2015: Joernaliste van Media24 (waarvan Netwerk24 ’n filiaal is) en ander kry ’n “uiters vertroulike” interne memorandum van die SAL in die hande). Van die inligting in dié memorandum waarvan Myeni nie wou hê Suid-Afrikaners moet weet nie, is dat die SAL “insolvent” en “roekeloos” is.

Nog onthullings in die “geheime dokument” sluit in:

* “Die SAL is in finansiële moeilikheid en handel tans in insolvente omstandighede. Die SAL handel gevolglik roekeloos”;

Vakbonde staak verlede jaar November weens loongeskille. Foto: Daily Sun / Christopher Moagi

* Wolf Meyer, voormalige finansiële hoof, sê die SAL kan nie sy peperduur Airbus-transaksie deurvoer én al sy krediteure betaal nie. (Hy is só geboelie en geteiken hieroor dat hy uiteindelik bedank het.);

* Myeni se besluit om voort te gaan met die Airbus-transaksie waarteen Meyer gewaarsku het, “vererger die SAL se reeds swak finansiële posisie”;

* Ingevolge die Maatskappyewet “moet die SAL-raad om sakeredding of likwidasie aansoek doen”;

* Alternatiewelik kan enige krediteur of werknemer aansoek by die hof doen om die SAL onder sakeredding te plaas;

* As Myeni en haar raad weier, kan hulle ingevolge die Maatskappyewet tronkstraf of ’n boete opgelê word weens die bedrog teen ’n krediteur, werknemer of aandelehouer.

SAL het in die hooggeregshof in Johannesburg ’n suksesvolle aansoek gebring om Media24 (waarvan Netwerk24 ’n filiaal is), Moneyweb en Business Day te muilband sodat hulle nie oor ’n interne memorandum kan skryf nie.

2 Desember 2015: Die tesourie reik ’n nuusverklaring uit waarin Nhlanhla Nene, Myeni en haar direksie aansê om met die Airbus-ooreenkoms, wat die tesourie reeds goedgekeur het (om die vloot om te ruil en geld van voorafbetalings terug te kry), voort te gaan.

Volgens die tesourie kon die SAL nie genoegsaam bewys dat hy in ’n beter finansiële posisie sal wees as hy die ooreenkoms met ’n plaaslike verhuringsmaatskappy aangaan, soos Myeni voorgestel het nie.

9 Desember 2015: Zuma steek Nene as minister van finansies in die pad, deels omdat hy nie gehoor wou gee nie aan Myeni se plan om vliegtuie aan die verhuringsmaatskappy te verkoop en dan weer te huur.

17 Desember 2015: ’n Sege vir die media, toe die hooggeregshof die hofbevel om hom te verhinder om die inligting soos in die interne memorandum vervat, te publiseer, tersyde stel.

21 Desember 2015: Spertyd vir die volgende ronde van betalings vir die tien x A320's wat in 2016 afgelewer moet word. In 2015 word die SAL ook die eerste Suid-Afrikaanse lugdiens wat biobrandstof gebruik.

Tussen 2016 en 2017 vervoer die SAL sowat 6,8 miljoen passasiers. Zuma dank vir Gordhan as minister van finansies in 2017 af.

Junie 2019: Vuyani Jarana, SAL-hoof, bedank omdat hy glo sy omkeerstrategie vir die SAL word ondermyn weens ’n gebrek aan staatsgeld en te veel burokrasie.

Teen Augustus 2019 trek die SAL se skuld al by R12,7 miljard.

Die SAL het in 2011 laas ’n wins getoon. Foto: Getty Images

September 2019: Die SAL verwag sy staatsinspuiting van R5,5 miljard wat vir die 2019/20-boekjaar goedgekeur is, aan die einde van die maand, maar sê hy kort nog geld.

In Oktober 2019 onderneem die tesourie om die SAL se R9,2 miljard skuld van tóé oor drie jaar te betaal, berig Fin24.

November 2019: Twee van die SAL se grootste vakbonde staak agt dae lank en dwing die lugdiens om honderde vlugte te kanselleer.

Die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) eis saam met die metaalwerkersvakbond Numsa ’n salarisverhoging van 8% van die totaal bankrot SAL. Die SAL het aanvanklik 5,9% aangebied soos wat sy vlieëniers kry (dit is egter eers van krag van April 2020). Die staking het die SAL R50 miljoen per dag gekos.

November 2019: Maatskappye verloor vertroue dat die lugdiens gered kan en sal word, sê Fin24.

Op 28 November het die reisversekeringskonsultante-eenheid van Sanlam gesê hy sal die SAL uit sy insolvensiedekking skakel.

Daardie aankondiging en die gemengde boodskappe van die staat oor reddingsboeie laat Flight Centre Travel Group, een van die grootste reisagentskappe in Suid-Afrika, besluit om op te hou om die lugdiens se vliegkaartjies te verkoop.

Desember 2019: Die ministerie van openbare ondernemings sê die SAL kort ’n “radikale herstrukturering” en sê die staking het “enorme skade” aan SAL se reputasie en bedrywighede berokken en dat dit sy geldsake verder versleg het.

Sedertdien het die SAL verskeie reddingsboeie van die staat gekry om aan die gang te bly en is op 5 Desember in sakeredding geplaas, met krediteure en die regering wat volgens Fin24 elkeen R2 miljard as steun aangebied het.

Maar in Januarie kon die regering steeds nie die geld bymekaar maak om sy kant van die ooreenkoms (staatswaarborg) na te kom nie.

Teen einde Januarie het die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) – ’n staatsentiteit – ingestem om die R3,5 miljard staatswaarborg beskikbaar te stel om te keer dat die SAL gelikwideer word.

Obsa verwag egter die regering (dus belastingbetalers) sal die lening terugbetaal, nie die SAL self nie.

Die SAL in sakeredding

Die sakereddingspraktisyns, onder leiding van Les Matuson, het op ’n gesamentlike sitting van die staande komitee oor openbare rekeninge en die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê hulle het tot die slotsom gekom dat SAL as onderneming gered kan word, maar nie in sy huidige vorm nie.

Hulle is nou besig om ’n omvattende sakereddingsplan op te stel. Dit sal openbaar gemaak word teen 31 Maart.

Die sperdatum van Saterdag 29 Februarie is uitgestel omdat die herstruktureringsplan en die stappe wat nodig gaan wees om dit ten uitvoer te bring, nog nie afgehandel is nie.

Vuyani Jarana, voormalige SAL-hoof, in 2018 by die SAL-kantoor in Kempton Park, Johannesburg. Foto: City Press / Rosetta Msimango

Alf Lees het mense Donderdag in ’n verklaring mense opgekommandeer om teen die voorgestelde uitsteldatum vas te skop.

Volgens Lees is die sogenaamde gebrek aan dringendheid om met die sakereddingsplan vorendag te kom, die feit dat die SAL in elk geval aan die lewe gehou word.

Hy meen die “gesloerdery” is ’n produk van die Ontwikkelingsbank se lening, asook die belofte van die R16,4 miljard se reddingsboei.

Hy sê die krediteure is nie haastig nie, omdat hulle “tereg glo” dat Pravin Gordhan “geen voorneme” het om SAL ooit onder likwidasie te laat plaas nie en dat hul uitbetalings gewaarborg is.

Chris Zweigenthal van Aasa het in sy verklaring genoem die sakereddingsproses moet dit vir die lugvaartbedryf moontlik maak om aan te pas en hul kliënte te verseker die markte en gemeenskappe aan wie hulle ’n diens lewer, sal van volhoubare, mededingende, betroubare en veilige dienste voorsien word.

Net soos in die geval van Eskom sal Suid-Afrikaners maar moet wag en kyk wat met die nasionale lugdiens gebeur.

* Ander bronne: Reuters, Fin24 en die SAL-webblad.


Meer oor:  Sakeredding  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.