Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só vang Valke onder korruptes

Die Valke se skoonmaakoperasie om korrupte regerings- en munisipale amptenare te vervolg het vanjaar reeds daartoe gelei dat heelparty amptenare aangekla en ’n vrou in die Oos-Kaap tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Kol. Katlego Mogale, ’n woordvoerder van die Valke, sê heelparty ondersoeke en verhore is tans aan die gang.

Een van die Valke se ondersoeke na korrupsie het in 2014 begin en in Maart daartoe gelei dat Nyameka Qongqo (43) in die hooggeregshof in Umtata aan bedrog van bykans R10 miljoen skuldig bevind is en 15 jaar tronkstraf moet uitdien.

Qongqo, ’n werknemer van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, het vals eise ingedien en die geld is by haar man en moontlik haar suster se bankrekeninge inbetaal.

Haar man, Thobani Alex Ntshokovu, is tot ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy moet ook ’n boete van R50 000 betaal.

Qongqo se suster, Thumeka Qongqo, moet in Mei in verband met dieselfde ondersoek in die hof verskyn.

Die opspraakwekkendste ondersoek waarby die Valke se ondersoekspan tans betrokke is, is dié na Ace Magashule, die gewese Vrystaatse premier, en sy 15 medebeskuldigdes, wat vyf maatskappye insluit.

Magashule en sy medebeskuldigdes het in Februarie in verband met beweerde bedrog van R225 miljoen in die hof verskyn.

Dié verhoor hou verband met asbesdakke op Hop-huise in die Vrystaat wat vervang moes word.

Magashule, Olly Mlamleli, die gewese burgemeester van Mangaung en ook ’n gewese LUR van Magashule, asook Bertus Venter, hoof van die regsdienste in Magashule se kantoor, is van die ander beskuldigdes.

Hulle moet weer op 11 Augustus in die hof wees.

’n Taakspan van die Valke het in Maart vyf munisipale amptenare van die Matjhabeng-munisipaliteit in hegtenis geneem.

Die vyf, Tumelo Makofane (55), Izizwezidibene Lawrance Springkaan (36), Gloria Constans Smith (48), Tiisetso Manuel Mahlatsi (52) en Mantoa Yvonne Mahloko (43), het die munisipaliteit na bewering uit meer as R1 miljoen bedrieg en word van korrupsie, bedrog, vervalsing van dokumente, geldwassery en oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur beskuldig. Hulle moet weer op 4 Mei in die hof verskyn.

In nog ’n ondersoek wat na die OR Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap gedoen word, is Phumzile Gwadiso (48), ’n munisipale amptenaar, op klagte van bedrog van meer as R4,8 miljoen in hegtenis geneem.

Die staat voer aan dat Gwadiso tenderbedrog gepleeg en betalings goedgekeur het vir bewusmakingsveldtogte vir Covid-19 wat nooit plaasgevind het nie.

Die direkteur van die Phathilizwi Training Institute, Pumza Poshee Gambula, word ook aangekla omdat fakture vir die veldtogte by verskeie munisipaliteite in die Oos-Kaap ingedien is.

Die Valke in Durban het Nkosingizwile Gama (36) in Februarie vir beweerde bedrog by die Ndwedwe-munisipaliteit in hegtenis geneem.

Gama het na bewering spookwerkers op die munisipaliteit se salarisstelsel geskep.

Sy is op borgtog vrygelaat en moet weer later vanjaar in die hof verskyn.


Meer oor:  Korrupsie  |  Valke  |  Bertus Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.