Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só verloor DA sy kiesers

Die DA het reeds in 2013 Afrikaanse kiesers begin vervreem en uitsprake deur DA-leiers sedert die verkiesing boesem min vertroue in dat die party die redes vir die afname in sy Afrikaanse steun verstaan.

Elana Barkhuizen is in die nadraai van die gebeure by die Laerskool Schweizer-Reneke verkeerdelik geskors.

Pogings om DA-kiesers, wat vanjaar besluit het om liewer vir die VF Plus te stem, uit te beeld as “rassisties”, kan boonop die uittog van veral wit Afrikaanse kiesers versnel, word nou gewaarsku.

Die DA het ná die verkiesing ’n ondersoek van stapel gestuur na die redes vir sy verlies aan stemme, waarin spesifiek na die verlies aan wit en Afrikaanse kiesers gekyk word, verneem Rapport.

Die ondersoekpaneel, waarby onder andere die oud-DA-strateeg Ryan Coetzee en die oud-DA-leier Tony Leon betrokke is, sal gebeure van so lank gelede soos 2013 moet oorweeg as hy regtig Afrikaanse kiesers se gedrag wil verstaan, het ’n bron in die party die afgelope week gesê.

Enkele dae ná die verkiesing reeds het Helen Zille, voormalige DA-leier, in haar eerste rubriek in Rapport geskryf dat die DA se eie “ondeurdagte rassisme” tydens die storm oor beweerde rasseskeiding in ’n klaskamer in Schweizer-Reneke kiesers die harnas in gejaag het omdat dit deel gevorm het van ’n gevestigde patroon: bewerings van wit rassisme word op sigwaarde aanvaar en dadelik gebruik om politieke punte vir die DA aan te teken.

Distansieer hom van belangrike simbole.

“Hier het die DA elke stemdistrik wat ons voorheen maklik gehou het, verloor. Dit was ongetwyfeld ’n gevolg van die DA se ondeurdagte rassisme gemik op ’n jong wit onderwyseres by die plaaslike skool, gegrond op ’n enkele foto op sosiale media, sonder om onsself van die feite van die saak te vergewis. As enigiemand hier rassisties was, was dit die DA,” het Zille oor Schweizer-Reneke geskryf.

Die DA se huidige ondersoek sal egter ver verby Schweizer-Reneke moet kyk, word die paneel gemaan.

In 2013 reeds het DA-jeugstrukture se kritiek op die wit, Afrikaanse Kleinfontein-gemeenskap buite Pretoria halwe waarhede as genoegsame aanduidings van wit rassisme aanvaar.

Die DA het eers ná sy jeugtak se beskuldigings dat die Kleinfonteiners rassisties was, die plaas besoek.

Ook by die landgoed Kameelfontein was daar in Mei 2013 volgens die DA rassisme. Die bewerings is gegrond op ’n koerantberig wat later onttrek is omdat dit foutief was.

Die party het ook geweier om betrokke te raak by talle hofsake wat vir baie Afrikaanse kiesers van groot belang was, soos die litigasie deur lt.kol. Renate Barnard teen die polisie, wat haar nie wou bevorder nie omdat sy ’n wit vrou is.

Barnard en haar simpatiseerders het eerder hulp by die vakbond Solidariteit gaan vra.

Die DA het hom ook gedistansieer van simbole wat vir sommige Afrikaanse kiesers belangrik was, soos die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria en “Die Stem”, en het geweier om in die bres te tree vir Afrikaanse studente wat Afrikaans as onderrigtaal wou behou by Tukkies.

Rapport het in 2015 berig dat DA-jeugleiers slagspreuke soos “Afrikaans Must Fall” by Tukkies ondersteun het.

’n Senior partylid, wat met Rapport gepraat het op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie, het ná die verkiesing gesê daar is ook ongelukkigheid omdat die party nooit opgetree het teen DA-aktiviste wat saam met EFF-lede die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer” gesing het nie.

Nog ’n bron het aan Rapport gesê die DA is jare lank gesien as ’n party wat die strydbyl opneem vir minderhede.

“Maar as jy begin om op jou eie kernondersteuners te trap en uitsprake teen hulle te maak, dan soek hulle ’n ander heenkome.”

John Moodey, DA-leier in Gauteng, het ná die verkiesing aan Rapport gesê die uittog uit die DA kan toegeskryf word aan nasionalisme wat wêreldwyd kop uitsteek.

Ander DA-leiers het selfs daarop gesinspeel dat die VF Plus en EFF deel is van dieselfde populistiese verskynsel, iets waaraan die DA betreklik min kan doen.

* ’n Warm patat wat tydens die DA se federale raadsvergadering in Oktober bespreek sal word, is die party se beleid jeens swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Mmusi Maimane, DA-leier, het opdrag gegee dat ’n splinternuwe beleid oor groei en regstelling geskep word deur ’n kommissie oor groei en regstelling.

Rapport kan egter bevestig dat hierdie kommissie nog nie een keer vergader het nie, en dat van die lede selfs nie eens weet dat ’n nuwe beleid teen Oktober op die federale raadsvergadering bespreek moet word nie.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Elana Barkhuizen  |  Vf Plus  |  Stemme  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.