Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só wil Ace sy pos terugkry

Ace Magashule wil ANC-takke oortuig om hom by ’n spesiale hoofraadsvergadering (HRV) van die ANC in sy amp as sekretaris-generaal te herstel, net soos wat Jacob Zuma in 2005 gedoen het nadat Thabo Mbeki hom as adjunkpresident afgedank het.

Oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, toe nog premier van die Vrystaat, tydens die onthulling van ’n Nelson Mandela-standbeeld in Bloemfontein in 2013. Foto: Leon Sadiki

Dít het talle aktiviste in die ANC se radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie bevestig aan Rapport.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Magashule Maandag 30 dae gegee (tot 28 April) om sy pos te ontruim weens 70 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery teen hom.

Sy kamp beskou dit egter as slegs ’n tydelike terugslag voordat hy later vanjaar triomfantelik terugkeer.

“Hy gaan die ANC-takke opsweep, wat druk op die nasionale leiers van die party sal sit om hom weer in sy pos in te stel,” het een RET-bron, wat Woensdag met Magashule in gesprek was, bevestig.

Carl Niehaus, woordvoerder van Umkhonto we Sizwe se veteranevereniging, het aan Hanlie Retief gesê Magashule deurkruis die land sodat hy “sy posisie (kan) verduidelik aan die ANC-takke wat hom demokraties verkies het” (lees die onderhoud in Weekliks).

’n Tweede RET-bron het bevestig: “Dit is ’n soortgelyke strategie as oudpres. Zuma in 2005.

Magashule gaan glo soortgelyke taktiek as Zuma gebruik...

“In die ANC is die (ondersteuning van) takke mag, en kameraad Ace gaan seker maak hy kry daardie mag voor die HRV,” het dié bron gesê.

Zuma is op 14 Junie 2005 as adjunkpresident van die land afgedank nadat sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik, op 31 Mei skuldig bevind is aan korrupsie. Zuma het toe vrywillig afstand gedoen van sy amp as adjunkpresident van die ANC.

In die twee weke ná die Shaik-uitspraak het Zuma deur die land gereis om steun te werf by ANC-takke, wat hom uiteindelik by die HRV in Julie 2005 in sy posisie as adjunkpresident van die party herstel het.

By dié vergadering is Mbeki uitgejou en het ondersteuners van Zuma “Zuma for president” gedreunsing.

’n HRV moet weer vanjaar gehou word, maar ’n datum is nog nie vasgestel nie. Magashule se hoop is op dié vergadering gevestig. Sy steunwerwery het die afgelope week reeds begin toe hy in Soweto bome geplant en kontant aan inwoners uitgedeel het. Een vrou het op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê Magashule het haar R800 in die hand gestop toe sy hom wou keer om ’n boom in haar erf te plant.

Volgens Rapport se bronne sal Magashule veral ANC-takke in sy tuisprovinsie, die Vrystaat, teiken, asook in Limpopo en KwaZulu-Natal – twee provinsies met van die grootste ANC-ledetalle.

Sy Vrystaat-strategie kan egter beduiwel word nadat ’n volbank van die appèlhof in Bloemfontein Woensdag bevind het die verkiesing in 2018 van die ANC se huidige provinsiale uitvoerende komitee (PUK) in die Vrystaat was onwettig en ongrondwetlik. Die pro-Magashule PUK is dus nou ontbind.

’n Werkkomitee van die ANC moet nou tot stand gebring word om die party in die Vrystaat te bestuur.

Die groot vrae is of Magashule toegelaat sal word om die werkkomitee saam te stel, soos wat die sekretaris-generaal gewoonlik doen, en hoe lank dit sal neem om ’n HRV te reël.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê gewoonlik neem dit sowat ses maande vir die ANC om vas te stel of sy sowat 4 000 takke gereed is om na ’n HRV of kieskongres te gaan. Venter sê dis ’n ou politieke set om “takties terug te staan” en dan ’n terugvegpoging te loods wanneer jy nie in die politieke oog is nie.

“In die politiek is dit nogal belangrik om ’n ou besig te hou, anders kan hy aan baie maniere dink om terug te baklei,” waarsku Venter.

“Ons weet ook dis pres. Cyril Ramaphosa se groot swakpunt in sy politieke mondering. Hy is nie goed met steun werf by takke nie, terwyl Magashule in daardie veld gedy.”

In Desember verlede jaar het Magashule juis gespog dat hy die ANC se betalende ledetal van 990 000 in 2017 tot 1,4 miljoen laat toeneem het.

As Magashule se strategie om steun te kry slaag, sal takke gevra word om ’n “spesiale kongres” op die laaste dag van die HRV te eis, waar leiers weer verkies kan word.

’n Spesiale kongres kan gehou word indien die meerderheid provinsies dit by die NUK vra.

Die besluit dat Magashule opsy moet staan het ’n lang aanloop gehad. Die ANC het by sy Nasrec-kongres in Desember 2017 – waar Magashule verkies is – besluit “enige lid wat van ’n ernstige misdryf beskuldig word” moet opsy staan.

Dié besluit is in Augustus 2020 deur die NUK bekragtig, maar die uitvoering het gesloer totdat ’n spesiale taakgroep van ANC-veterane in Desember gevra is om riglyne neer te lê oor hoe presies die resolusie geïmplementeer moes word.

Die taakgroep, gelei deur oudpres. Kgalema Motlanthe, het op 13 Februarie aanbeveel enige ampsdraer, openbare verteenwoordiger of lid van die ANC “wat daarvan aangekla word om in die hof te verskyn op ’n aanklag van korrupsie en ander ernstige misdaad”, moet dadelik uit hul pos tree tot hul saak afgehandel is.

Dit was hierdie wysiging aan die Nasrec-resolusie wat Magashule se doppie verlede naweek geklink het.

Die 30 dae wat hy gegun word, was boonop die resultaat van ’n kompromis met sy ondersteuners.

Die “grasietydperk” was aanvanklik net een week.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Anc  |  Ret  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.