Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só wil president SA se grootste probleme oplos

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy repliek op die debat oor sy staatsrede verwys na wat sy administrasie spesifiek gaan doen om aandag te gee aan van die land se grootste probleme of kwessies.

cyril
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Adrian de Kock

Onder volg ’n opsomming van wat hy Donderdagmiddag oor die vernaamste kwessies gesê het:

Ekonomiese groei en werkskepping:

Die aansienlike infrastruktuur-belegging wat hy verlede week aangekondig het, sal ’n katalisator wees vir ekonomiese aktiwiteite en werkskepping.

“Maar dit sal ook ’n onmiddellike bydrae lewer om die lewenskoste vir miljoene mense te verlaag en hul lewensgehalte verminder.”

Die infrastruktuur-bouprogram sal volgens hom openbare vervoer veiliger en meer betroubaar maak, skole en gesondheidsorg verbeter, die internet meer toeganklik en bekostigbaar, riviere veiliger maak vir skoolkinders om oor te steek, huisvesting vir studente daarstel en dit makliker vir kleinboere maak om markte te bereik.

Eskom:

Volgens hom kan Eskom nie toegemaak word nie omdat dit die ekonomie en land in chaos sal dompel.

“Ons het ’n duidelik padkaart om Eskom se finansiële en operasionale posisie te herstel en om ons hele energie-sektor op ’n nuwe trajek van volhoubaarbeid te plaas.

“Soos ons die onmiddellike probleme oplos en die dringende take onderneem, neem ons ook beslissende besluite vir die land se toekoms.”

Die bou van ’n bekwame staat:

Volgens Ramaphosa is dit ’n hoofprioriteit en die rede waarom sy administrasie die afgelope twee jaar gekwalifiseerde en bekwame mense begin aanstel het om verskeie strategiese regeringsinstellings en staatsentiteite te lei.

“Ons is daartoe verbind om net mense met die vereiste vaardighede, kennis en ervaring aan te stel en om hulle aanspreeklik vir hul prestasie te hou.”

Versterking van plaaslike regering:

Hy het die steun vir die nuwe distriksontwikkelingsmodel vir munisipaliteite verwelkom en bygevoeg dat dit dienslewering verbeter.”

Volgens hom sal al drie regeringsfere onder dié model hul dienslewering en begrotings koördineer en integreer.

“Volgende week sal ons ’n vergadering van die Presidensiële Koördineringsraad hou waar alle provinsies en 44 distrikte en 8 metro’s sal vergader om die distriksontwikkelingsmodel te bespreek en om die proses te begin om een plan vir een land daar te stel.”

Stryd teen staatskaping en korrupsie:

Sy administrasie gaan voort om kritieke instellings wat deur staatskaping afgetakel is, te herbou.

So is aansienlike hulpbronne reeds in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestort en is 800 poste reeds einde verlede jaar geadverteer.

Die NVG se nuwe ondersoekende direktoraat wat staatskapers moet vervolg, werk reeds nou saam met ander wetstoepassingsagentskappe en die Zondo-kommissie.

Verder het die nuwe Spesiale Ondersoekeenheid-tribunaal ook reeds met siviele eise begin om gesteelde geld te verhaal.

“Eskom en Transnet het tussen hulle meer as R2,3 miljard verhaal van geld wat deur korrupsie verloor is.”

Ramaphosa sê hy is vasbeslote om alle gesteelde geld terug te kry en dat alle staatskapers en oortreders die volle mag van die gereg in die gesig moet staar.

Nasionale Gesondheidsversekering (NGV):

Is volgens Ramaphosa noodsaaklik en nodig om toegang tot gehalte gesondheidsorg aan alle landsburgers te gee. “Ons is duidelik dat die pas en die skaal oor hoe ons die NGV sal implementeer, bepaal sal word deur die hulpbronne tot ons beskikking.”

MIV/ vigs:

“Ons is binne bereik van ons doelwit van 90-90-90 wat onder meer behels dat ten minste 90% van MIV-positiewe mense hul status ken, dat 90% van hulle op behandeling is en dat 90% van diegene op behandeling onopspoorbare virale ladings het,” het Ramaphosa gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Debat  |  Staatsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.