Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Korruptes moet in hegtenis geneem word'
Ronald Lamola
Ronald Lamola.

Enige “gewetenlose” individu of maatskappy wat Covid-19-geld deur korrupte tenders plunder, moet in hegtenis geneem word.

“Maak nie saak of dít ’n minister, direkteur-generaal, adjunkdirekteur-generaal, hoof- uitvoerende beampte of ’n amptenaar in ’n munisipaliteit is of iemand in die private sektor nie.”

Dit is volgens Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, die duidelike boodskap van pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet aan alle wetstoepassingsagentskappe wat die korrupsie met veral tenders vir beskermende toerusting (PPE) ondersoek.

Lamola het dít Donderdagmiddag gesê toe hy besluite van Woensdag se kabinetsvergadering op ’n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak het. Dit was kort nadat Ramaphosa Donderdag ook aangekondig het dat hy ’n interministeriële komitee van ses ministers, onder leiding van Lamola, saamgestel het om die korrupsie-beweringe te help ondersoek.

Dit het gevolg op ernstige openbare verontwaardiging in Suid-Afrika omdat senior ANC-leiers en hul families regstreeks daarby betrokke is.

Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, en haar man word ook by ’n PPE-tender van R125 miljoen in Gauteng betrek. Dr. Bandile Masuku, die provinsie se LUR vir gesondheid, word ook betrek. Diko en Masuku is albei op spesiale verlof daaroor.

Maak nie saak of dít ’n minister, direkteur-generaal, adjunkdirekteur-generaal, hoof- uitvoerende beampte of ’n amptenaar in ’n munisipaliteit is of iemand in die private sektor nie.

Ramaphosa het gesê alle ministers en premiers moet alle inligting met die name van maatskappye en besonderhede oor Covid-19-tenders nog vandeesweek aan die interministeriële komitee verskaf.

“Die komitee sal ’n omvattende verslag voorberei wat die president as openbare inligting sal uitreik,” het hy in ’n verklaring gesê.

Bogenoemde kom nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vroeër ook sy kop in skaamte laat sak het oor die betrokkenheid van sy eie leiers by die beweerde korrupsie.

Die NUK het sy volle steun aan Ramaphosa se besluit gegee dat die spesiale ondersoekeenheid alle bewerings van korrupsie met Covid-19-geld ondersoek.

Die komitee sal ’n omvattende verslag voorberei wat die president as openbare inligting sal uitreik.

Tito Mboweni, minister van finansies wat deel van die aangestelde ministeriële komitee is, het Woensdag ook aan die parlement gesê die nasionale tesourie sal alle noodaankope van PPE’s weens die korrupsie staak.

Lamola het verder op die nuuskonferensie gesê die interministeriële komitee sal alle lyste met inligting oor tenders en maatskappye publiseer.

Dit is volgens hom die eerste stap van deursigtige, aanspreeklike en etiese leierskap.

Hy het dit ook duidelik gemaak dat die interministeriële komitee nie wetstoepassingsagentskappe wat reeds saam Covid-19-korrupsie ondersoek, sal vervang nie.

“Dit sal net die nodige tenderinligting van staatsinstellings kry en aan wetstoepassers beskikbaar stel.”

Verskeie wetstoepassingsagentskappe soos die Finansiële Intelligensie-sentrum, onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat, nasionale vervolgingsgesag, die Valke, die polisie se misdaadintelligensie- en speurafdeling, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die staatsveiligheidsagentskap ondersoek tans saam deur die spesiale koördineringsentrum alle beweringe van Covid-19-korrupsie.

Dit sluit beweringe van korrupsie met kospakkies, maatskaplike toelaes, PPE-tenders en die plundering van die Werkloosheidsversekeringfonds se tydelike verligtingskema aan werkgewers en werkers in.

Op ’n vraag of die kabinet ’n permanente struktuur soortgelyk aan die destydse aanklaer-geleide Skerpioene beoog om korrupsie te ondersoek, het Lamola gesê dit is duidelik dat Suid-Afrika so ’n struktuur benodig.

Dit sal net die nodige tenderinligting van staatsinstellings kry en aan wetstoepassers beskikbaar stel.

Die ANC se NUK het vroeër vandeesweek ook voorgestel het dat die regering dringend so ’n permanente multidissiplinêre wetstoepassingsagentskap stig om alle witboordjiemisdaad, georganiseerde misdaad en korrupsie te ondersoek.

Lamola het gesê die kabinet sal dit nog moet bespreek, maar is tevrede met wat die wetstoepassingsagentskappe tans saam vermag.

Lamola het dit ook duidelik gemaak dat die jongste teenkorrupsie-planne nie net weer lippetaal is nie omdat die “politieke wil” nou daar is om korrupsie uit te roei.

Meer oor:  Korrupsie  |  Ronald Lamola  |  Tenders  |  Covid-Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.