SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘Só wou ANC ons stemme koop’
Musa Novela, die EFF se streekvoorsitter in Johannesburg, maak Maandag beswaar teen die inhuldiging van Dan ­Bovu as raadslid. Foto’s: FELIX DLANGAMANDLA
Herman Mashaba word skouerhoog gedra ná sy verkiesing tot uitvoerende burgemeester van ­Johannesburg Maandagaand.

Verskeie EFF-lede is glo tot R1 miljoen aangebied om die afgelope Maandag vir die ANC te stem in die verkiesing van die burgemeester en ander uitvoerende poste in Johannesburg.

Hulle sou R500 000 voor die stemmery ontvang en nog R500 000 daarna, sê Musa Novela, die EFF se streeksvoorsitter in Johannesburg, aan Rapport.

Volgens Novela is 12 EFF-lede genader.

“Sommige is by die ­Viking Garage naby die Golden Highway ontmoet, terwyl ander gebel is.”

Die aanvanklike eerste bedrag was teen Donderdag en Vrydag nog R300 000, maar dit is teen verlede naweek glo opgestoot tot R500 000.

Die saak wat by die Brixton-polisiekantoor aanhangig gemaak is, is na Kliptown verwys. Die polisie daar het bevestig dat ’n strafregtelike klag van omkopery en korrupsie ingedien is.

Die EFF het die ANC-raadslid Dan Bovu as die skuldige uitgesonder en Maandag tydens die inhuldiging van raadslede in die stadsaal van Johannesburg luid en aanhoudend teen sy inhuldiging geprotesteer.

Lede van die party het versoek dat die polisie Bovu daar en dan in hegtenis neem, maar Trevor Fowler, stadsbestuurder, het gesê niemand kan in hegtenis geneem word as hy of sy nie in ’n hof ­skuldig bevind is nie.

Bovu, die voormalige uitvoerende komiteelid vir behuising in Johannesburg, is ook uitgejou.

Hy het nie gister gereageer op versoeke om kommentaar nie, maar die ANC in Johannesburg het vroeër die week in ’n verklaring namens Bovu gesê hy neem kennis van die “ernstige en lasterlike” aantygings.

“Ek het nooit die EFF-raadslede ontmoet nie en niemand omkoopgeld aangebied om vir die ANC te stem nie,” sê Bovu.

Hy het gedreig om klagtes van naamskending teen die EFF aanhangig te maak.

’n Prokureursbrief is ook aan die EFF gerig waarin Bovu se regsverteenwoordigers, Victor Nkhwashu Attorneys, die aantygings ontken.

Die DA se kandidate is verkies sonder dat enige EFF-lid vir die ANC gestem het.

Die EFF het ook in ’n verklaring gesê geen omkoopbedrag sal die ANC, wat deur die mense van Johannesburg verwerp is, met hulle laat versoen nie.

“Die ANC moet aanvaar hulle het die raad verloor en nie probeer om verkiesings deur korrupsie te wen nie.”

In die verkiesing van 3 Augustus het die ANC 44,5% van die stem ontvang en die DA 38,4%. Die EFF het 11,1% gekry en die IVP 1,7%.

Danksy die hulp van die EFF en kleiner partye is Herman Mashaba met 144 stemme as uitvoerende burgemeester verkies teenoor 125 vir die ANC se Parks Tau, uittredende burgemeester.

Vasco da Gama is tot speaker en Kevin Wax as hoofsweep verkies.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Omkopery  |  Anc  |  Burgemeester  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.