Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só wou staat lieg

Die regering wou doelbewus vir Suid-Afrikaners lieg oor die geraamde kostes van oudpres. Jacob Zuma se kernkragdrome.

Tina Joemat-Pettersson

Boonop het die kabinet besluit om voort te gaan met die kernkragverkryging op grond van hopeloos verkeerde en ooroptimistiese “feite” wat die departement van energie aan die kabinet voorgehou het, soos ’n veronderstelling dat die wisselkoers R10 per dollar sou wees.

’n Hoogs geheime kabinetsnotule en meegaande memorandum wat nou gedeklassifiseer is en die afgelope week by die staatskapingskommissie ingedien is, onthul vir die eerste keer hoe naby Suid-Afrika aan die rand van die ekonomiese afgrond was en hoe desperaat Zuma en sy trawante was om ’n kernkragooreenkoms deur te druk.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het voor die kommissie getuig Zuma het hom uitgetrap omdat hy nie gou genoeg met die kernkragproses gevorder het nie.

Syfers was hopeloos onrealisties.

Tydens ’n staatsbesoek aan Rusland in Julie 2015 wou Tina Joemat-Pettersson, toe minister van energie, gehad het Nene moes ’n enkelblad-ooreenkoms teken. “Dit was ’n brief wat aan die Russiese owerhede gerig was. Ek kan nie die presiese besonderhede van dié brief onthou nie, maar ek onthou dat dit feitlik ’n waarborg verskaf het aan die Russiese regering oor die kernkragprogram as die Russiese regering dit sou finansier,” het Nene getuig.

Hy het geweier omdat dit katastrofies vir die land sou wees. Zuma was glad nie beïndruk nie, want hy wou iets kon voorhou aan pres. Wladimir Poetin wanneer hulle vergader.

’n Paar maande later het Joemat-Pettersson se departement nog voortgestoom met die projek sonder om na die tesourie se waarskuwings te luister.

Die kabinetsnotule van 9 Desember 2015 lui dat die kabinet die groen lig gegee het om voort te gaan met die kernkrag-verkrygingsproses.

Foto:

Nene is in ’n gesprek van “twee of drie minute” net ná dié vergadering deur Zuma afgedank. Hy is vervang met Des van Rooyen, wat ’n spiraal van verontwaardiging in die markte ontketen het. Die departement van energie het ’n voorlegging aan die kabinet gedoen deurspek met onwaarskynlikhede en gate.

“As enige kommunikasie nodig is betreffende die koste van die program, is dit beter om oor die goedkoper projeksies te praat,” lui die memorandum wat bespreek is.

Zizamele Mbambo, adjunk-direkteur-generaal belas met kernkrag, het daardie dag die kabinet meegedeel dat die projek om agt kernkrageenhede te bou wat 9 600 megawatt elektrisiteit lewer, minstens R240 miljard, maar tot R720 miljard sou kos – en dit was met skattings oor wat dit kos om ’n kernkragstasie in Asië te bou. Sy voorlegging was gloeiend oor die program. Dit het gesê die voordele van die program moet beklemtoon word vir die publiek.

Onder moontlike nadele soos veiligheidsoorwegings het die departement gesê niemand is dood in die Foekoesjima-kernkragramp in Japan nie.

Luidens die kabinetsdokumente het die regering oorweeg om vir ’n lening by die Brics-bank aansoek te doen vir finansiering om die projek te finansier.

Die departement het swaar gesteun op ’n studie van prof. Dawie Serfontein van die skool vir kernwetenskap en ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit wat bevind het die program sou moontlik R650 miljard kos, “maar R54 miljard se wins elke jaar vir 60 jaar in ’n ry” meebring.

Suid-Afrika sou daarom R3 200 miljard se opbrengste kry uit die belegging, het die departement beklemtoon in die voorlegging.

Serfontein het gister aan Rapport gesê die syfers is reeds vier jaar vroeër, in 2011, bereken. “Die berekeninge is gedoen teen ’n wisselkoers van R8,50 per Amerikaanse dollar, wat die vooruitgeskatte wisselkoers in die 2010- geïntegreerde hulpbronplan was,” het hy gesê.

Toe Joemat-Pettersson en Mbambo hul voorlegging aan die kabinet gedoen het, was die wisselkoers R14,28 teenoor die dollar en volgens die voorlegging is ’n wisselkoers van R10/$ vir die berekeninge gebruik.

Die notules wys dat die laagste moontlike boukoste vir kernkrag sowat $2 500 per kilowatt opwekkingsvermoë sou wees. Die departement van energie het die hoogste moontlike koste op $6 500 per kilowatt bereken en die nasionale tesourie het bereken dat dit $7 500 per kilowatt sou kos om die kernkragsentrales te bou.

’n Kernkragingenieur van ’n groot Westerse kernkragmaatskappy wat ook vir die projek sou tender, het aan Rapport gesê die syfers is hopeloos onrealisties. “Die syfer van $2 500 is syfers waarteen kernkragsentrales vandag in Asië, hoofsaaklik in China en Korea, gebou word. Dis hopeloos onrealisties om te dink dat mens ’n kernkragsentrale in Suid-Afrika teen sulke lae kostes kan bou. In Suid-Afrika kan mens daarop reken dat dit rondom $5 000 per kilowatt sal kos as alles reg verloop.”

Dié ingenieur en Serfontein het albei gister gesê die bouprojek sou onder die beste moontlike omstandighede aansienlik meer as R1 000 miljard gekos het. Albei het bygevoeg dit sou Suid-Afrika finansieel ruïneer as die land ’n bindende ooreenkoms vir só ’n groot kernkragprogram sou aangaan soos die kabinet daardie dag besluit het.

Joemat-Pettersson het gister by navraag aan Rapport gesê geen voorstel of ooreenkoms is onderteken terwyl sy minister was nie. “ ’n Brief van een bladsy kan geensins ’n voorstel wees vir verkryging van daardie omvang nie.”

Sy wou nie reageer op vrae oor waarom dit nodig was om verouderde wisselkoerse te gebruik in haar voorleggings aan die kabinet of waarom dit nodig was om die publiek te mislei oor die koste van die beplande kernprogram nie. “Ons het gevra vir inligting sodat ons meer akkurate inligting kon kry,” het sy gesê.

Dit was teen daardie tyd algemeen bekend dat die Russiese staatsbeheerde kernkragfirma, Rosatom, die voorkeur-bieër sou wees omdat Joemat-Pettersson net meer as ’n jaar tevore, op 22 September 2014, ’n raamwerk-ooreenkoms met Rosatom onderteken het wat die Russe die alleenverskaffer vir Suid-Afrika se kernkragprogram sou maak.

Die hooggeregshof in Kaapstad het verlede jaar dié ooreenkoms tersyde gestel.

Meer oor:  Tina Joemat-Pettersson  |  Nhlanhla Nene  |  Kernkrag  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.