Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Soldate kan op vragmotor-roetes ontplooi word, sê Cele

Die ontplooiing van meer polisielede op die vernaamste vragmotorroetes landwyd het daartoe gelei dat die situasie met die aanvalle op vragmotors die afgelope 48 uur gestabiliseer het.

As dit egter weer vererger, sal die regering dit oorweeg om versterkings in te roep deur ook soldate op hierdie roetes te ontplooi, sê Lirandzu Themba, woordvoerder vir Bheki Cele, minister van polisie.

Volgens Themba het Cele al “op rekord” gesê indien dit nodig is, “is die land in die posisie om soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te ontplooi om die polisie te help om die uitbrand van vragmotors te takel”.

“Die nasionale (polisie-)kommissaris (genl. Khehla Sitole) sal met die SANW-hoof moet skakel en sodra die nodigheid vasgestel is, sal daar ’n ontplooiing wees,” sê Themba.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Adrian de Kock

Vroeër is berig hoe die interministeriële komitee wat vragmotorbestuurders se griewe ondersoek, Donderdag gesê het 13 voorvalle waarin vragmotors aan die brand gesteek is, is die afgelope maand aangemeld.

Van April tot November is 84 gevalle aangemeld.

Mosebenzi Zwane, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer, het verlede week ook sy kommer oor die “onaanvaarbare” aanvalle op vragmotors uitgespreek.

Zwane sê dat die ekonomiese invloed van hierdie “wetteloosheid” massief is en dat dit ook die potensiaal het om die beeld van die land se padvervoerbedryf in die buiteland skade aan te doen. Hy het ook ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om “beslissend” hierteenoor op te tree en om die verantwoordelikes aan die pen te laat ry.

Intussen het biskop Victor Phalana, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe-konferensie se kommissie oor justisie en vrede, ook namens dié konferensie die aanvalle op vragmotors en “buitelandse” bestuurders in ’n verklaring veroordeel.

Phalana het ’n beroep op die regering se intelligensieagentskappe gedoen om dit dringend te ondersoek wie agter die aanvalle sit en om te verseker dat die oortreders spoedig gevang word.

“Hulle moet veral die betrokkenheid van sindikate en ekonomiese sabotasie ondersoek wat misbruik maak van die griewe en bekommernisse van die plaaslike vragmotorbestuurders.

“Die padvragbedryf is noodsaaklik vir ons land se ekonomiese herstel en werkskepping. Die ernstige ontwrigting van so ’n bedryf het verreikende gevolge vir ons nasie, en dit doen ernstige skade aan ’n reeds brose ekonomie wat sukkel om van die gevolge van die Covid-19-pandemie te herstel,” sê Phalane.

Volgens hom is dit duidelik dat die interministeriële komitee nie die dooiepunt kon oplos nie.

“Ons doen daarom ’n beroep op die president en die interministeriële taakspan om die land in hul vertroue te neem en die gebrek aan vordering om die kommer van plaaslike vragmotorbestuurders te hanteer, te takel. Dit is omdat ’n gebrek aan kommunikasie van die taakspan die indruk skep dat die regering nie ernstig is oor plaaslike vragmotorbestuurders se probleme nie.”

Die konferensie het ook ’n beroep op die parlement gedoen om meer proaktief op te tree en om konsekwent te wees in hul eise vir antwoorde en aanspreeklikheid van die taakspan.

Meer oor:  Weermag  |  Polisie  |  Bheki Cele  |  Vragmotor  |  Aanvalle Op Vragmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.