Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Solidariteit het Denel in die visier

Die vakbond Solidariteit volg nou ’n wetlike roete om die wapenvervaardiger Denel te verplig om op te tree teen diegene wat hom glo in sy finansiële verknorsing gedompel het.

Solidariteit het in ’n verklaring gesê Denel is Vrydag met ’n aanmaningsbrief ingevolge art. 165 van die Maatskappyewet bedien om hom te dwing om regstappe teen hierdie individue te doen.

Die aanmaningsbrief om regstappe af te dwing volg nadat Solidariteit in April 2018 verskeie onreëlmatighede onder Denel se aandag gebring het. Volgens die vakbond se verklaring het dit tot ’n reeks afdankings gelei.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, moet Denel binne 60 dae nadat hulle met die aanmaningsbrief bedien is, regstappe teen oortreders doen.

Luidens die verklaring is dié saak uniek, deurdat amptenare by staatsondernemings nou moontlik direk aanspreeklik gehou kan word vir wanpraktyke by die ondernemings.

“As die beweerde onreëlmatighede nié ondersoek word nie, en geen regstappe word gedoen nie, kan ons regsaksie teen die verantwoordelike persone in Denel se diens instel,” sê Van der Bijl.

Johan Botha, adjunksekretaris van Solidariteit, sê die onlangse salariskwessie en verwysings na staatskaping deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, asook Danie du Toit, uitvoerende hoof van Denel, wys hoe hoe noodsaaklik die regstappe is.

Intussen berig William Horne dat werknemers Vrydag ten volle vergoed is, nadat hulle Dinsdag net 85% van hul salarisse ontvang het. Daar is egter geen waarborg vir salarisse vir die res van die jaar gegee nie. Dit was die eerste keer dat Denel versuim het om salarisse ten volle en/of betyds te betaal.

Denel is tans die enigste staatsonderneming wat op groot skaal afdelings sluit, privatiseer en werkers aflê.

Danie du Toit, Denel se hoof- uitvoerende beampte, het aan Netwerk24 gesê sowat 260 werkers het reeds vanjaar skeidingspakkette aanvaar.

Hy sê Denel se herstruktureringsplan is op koers en die maatskappy sál reggeruk word, maar daar sal vir minstens die volgende twee tot drie maande nog beduidend gesukkel word.

Denel sit met ’n mediumtermynbestelboek ter waarde van sowat R40 miljard te danke aan sy pogings om slegs op doeltreffende kontrakte en afdelings te fokus.

Intussen kort die wapentuigvervaardiger ’n minimum van R2,8 miljard van die staat af om behoorlik voor die einde van die jaar te kan herkapitaliseer.

Meer oor:  Solidariteit  |  Vakbond  |  Denel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.