Solidariteit het aangekondig dat hy dié week dringend aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die nasionale koronavirusbevelsraad sal skryf oor die regering se planne om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) deur die verspreiding van entstowwe te bevorder.
Dit volg nadat Rapport Sondag berig het dat pres. Cyril Ramaphosa op ’n webinaar van die ANC se Progressiewe Sakeforum (PBF) verlede week gesê het dat daar SEB-geleenthede met die instelling van die land se entstofprogram sal wees.
Dit begin in Februarie.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het bygevoeg dat die nasionale bevelsraad regulasies moet afkondig om te verseker dat die aankoop en verspreiding van entstowwe deur die beste en doeltreffendste maatskappye gefasiliteer word.
“Lewens en gesondheid moet nou ’n hoër prioriteit as ras geniet.”
Dit volg nadat Ramaphosa Vrydag in sy uitgelekte politieke oorsig aan afgevaardiges by die ANC-lekgotla gesê het dat die interministeriële komitee wat politieke oorsig oor die entstofprogram moet hou, sal toesien dat “gepaste maatreëls in plek is om korrupsie en vermorste uitgawes met die aankoop en verspreiding van entstowwe te verhoed”. – Llewellyn Prince