Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Sonder transformasie gaan talent kwyn’

Geen sportsoort “sonder ’n toevoerpyp van talent” kan oorleef nie en daarom is transformasie in Suid-Afrikaanse sport nodig.

Só het dr. Willie Basson, sekretaris van die Eminent Persons Group (EPG) wat sporttransformasie ondersoek het, Dinsdag in Pretoria met die uitreiking van hul verslag gesê.

’n Banier van die Eminent Persons Group wat die transformasie van Suid-Afrikaanse sport ondersoek het. Foto: Sarel van der Walt

“Ons moet altyd onthou, 84% van Suid-Afrikaners jonger as 18 jaar oud, is swart. Dit is waar ons sportsoorte met die oog op die toekoms talent moet ontgin,” sê Basson.

Terwyl die getal swart jeugdiges toeneem, neem dié van wittes af.

“Sportsoorte is gedoem die dag as hulle nie meer ’n toevoerpyp (van talent) het nie.

“Diegene wat nie transformeer nie, gaan uiteindelik ’n stille dood sterf,” sê hy.

Dit is veral rolbal, jukskei, hokkie, tennis, roei en swem wat dié pad sal loop as hulle nie behoorlik transformeer nie.

Hy het toegegee transformasie word bemoeilik deur die feit dat net ’n derde van die land se munisipaliteite doeltreffend funksioneer en dit daartoe lei dat daar nie genoeg sportgeriewe op voetsoolvlak is nie.

“Daar moet beter samewerking en koördinering tussen al drie die regeringsvlakke en die nasionale en provinsiale sportfederasies wees.

“Saskok (die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee) moet hierin ’n rol speel.”

Basson sê om behoorlike sportdata uit skole te kry, is ’n byna onbegonne taak.

Hy het voormalige Model C-skole geloof dat hulle “uitstekend getransformeer” het.

Die stelsels wat dié skole opgebou het, moet ook na ander skole uitgebrei word.

Basson erken ook die gebrek aan geld kan transformasie kniehalter en meebring dat transformasie in sport ’n “plato bereik”.

Hy sê ook ná 23 jaar is daar ’n lig aan die einde van die tonnel van sport-transformasie. Die grootste uitdaging is skolesport.

Gideon Sam, president van Saskok, het gesê dit is belangrik dat die onderskeie sportfederasies die inligting in die verslag behoorlik ontleed – die algehele leierskap en nie net die voorsitters en uitvoerende hoof nie.

Daar moet beter samewerking en koördinering tussen al drie die regeringsvlakke en die nasionale en provinsiale sportfederasies wees.

Gert Oosthuizen, adjunkminister van sport, het gesê hy hoop die dag sal aanbreek dat ’n groep soos die EPG nie meer nodig is nie.

“Dit sal wees wanneer die sportveld gelyk is en daar gelyke geleenthede en geriewe vir alle Suid-Afrikaners sal wees.”

Alec Moemi, direkteur-generaal van die departement van sport en ontspanning, het gesê weens die nalatenskap van apartheid is daar nog baie ongelykheid wat geriewe betref.

“In dié verslag word nie net die geleenthede wat gebied word vergelyk nie, maar ook die gehalte van die geriewe.”

Moemi het dit duidelik gemaak die huidige stelsel waarvolgens transformasie-doelwitte gestel word, is ’n vrywillige stelsel.

Niks word afgedwing nie en die federasies moet self besluit wat hul doelwitte is, sê hy.

Meer oor:  Gert Oosthuizen  |  Gideon Sam  |  Pretoria  |  Transformasie  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.