Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Soveel dok SA op vir 28 wat Mabuza beskerm

Belastingbetalers moes in net ses maande en terwyl die koronavirus sy piek in Suid-Afrika bereik het, meer as R8 miljoen aan hotelverblyf en etes vir adj.pres. David Mabuza se lyfwagte betaal.

Net in Julie vanjaar is R334 959 op kos vir die 28 lyfwagte bestee, het Bheki Cele, minister van polisie, in ’n parlementêre antwoord onthul.

Dit nadat Manny de Freitas, ’n DA-LP, by Cele wou weet hoeveel daar die afgelope drie boekjare op verblyf vir Mabuza se BBP-veiligheidsbeamptes bestee is.

De Freitas wou ook weet wie die beamptes is, waarom hulle in hotelle moes tuisgaan, uit watter begroting die geld gekom het en watter geld nog op die beamptes bestee is.

Cele het in sy antwoord gesê dat 28 lede van die polisie se BBP-beskermingsdienste Mabuza op ’n weeklikse rotasiegrondslag beskerm.

Adj.pres. David Mabuza Foto: City Press

Volgens hom kan die beamptes se name nie verskaf word nie omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir Mabuza kan inhou.

Hotelle soos die Chill Pepper Boutique-hotel, Stay Easy-hotel, Southern Sun en die Nelspruit Lodge is volgens Cele “vir beskermingspligte” gebruik.

“Die verblyfkoste kom uit die begroting vir die presidensiële beskermingsdienste.”

Luidens die inligting wat Cele saam met sy antwoord verskaf het, is daar van 1 April tot 30 September vanjaar sowat R8,3 miljoen op die lyfwagte bestee. Hiervan was R6,1 miljoen vir verblyf, R1,3 miljoen vir kos, meer as R1 miljoen vir “toevallige” uitgawes en R9 818 vir vervoer.

Cele dui nie in sy antwoord aan wat met “toevallige” uitgawes bedoel word nie.

Die hoogste bedrag wat op kos in een maand vanjaar bestee is, is R334 959 in Julie, gevolg deur April en Junie waarin sowat R231 000 elk bestee is.

Die inligting lui verder dat daar van April 2017-’18 tot 30 September vanjaar meer as R42,1 miljoen op verblyf, kos, vervoer en “toevallige” uitgawes vir die lyfwagte bestee is.

Hoeveel werkgeleenthede kon die geld geskep het, of hoeveel huise kon met die geld gebou word?

Die meeste belastingbetalersgeld wat in een geldjaar daarop bestee is, was in 2019-’20 toe R15,8 miljoen op die beamptes bestee is. In dié boekjaar is sowat R2,4 miljoen net op kos vir die lyfwagte bestee.

De Freitas het Vrydag gesê die “enorme bedrae wat op lyfwagte bestee word, is ’n vermorsing van belastingbetalersgeld. Wat eet hulle, goud?

“Hoeveel werkgeleenthede kon die geld geskep het, of hoeveel huise kon met die geld gebou word?

“Dit is ook nie nodig vir soveel lyfwagte nie. Dit is meestal net om regeringslui se ego’s te streel en om hulle belangrik te laat voel.”

Volgens hom gaan hy beslis opvolgvrae hieroor aan Cele rig omdat hy “ ’n rot ruik”.

Luidens die polisie se jaarverslag vir 2018-’19 was die begroting net vir die BBP-afdeling sowat R1,5 miljard.

Dit lui verder dat dié eenheid “transito-beskerming aan 84 nasionale en 130 provinsiale hooggeplaastes verskaf het, sowel as 12 ad hoc- en 43 buitelandse hooggeplaastes wat Suid-Afrika besoek het”.

Meer oor:  Bbp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.