Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gestraf oor te min wit spelers: Netbal SA met hof gedreig

Solidariteit dreig Netbal Suid-Afrika (NSA) met regsaksie oor sy reëls oor die rassesamestellings van spanne wat op ’n gegewe oomblik op die baan moet wees.

Dit volg nadat die Mpumalanga Sunbirds op 25 Oktober in afdeling B van die nasionale liga hul plek in die finaal kwyt is omdat hulle gedurende die wedstryd te min wit spelers op die baan gehad het.

Die Sunbirds, wat die KwaZulu-Natalse Kingdom Queens met 43-42 in die halfeindronde verslaan het, het al hul punte verbeur omdat die span nie aan die teikenstelsel oor rassesamestelling voldoen het nie.

Reël 3.7 van die toernooi bepaal dat ’n span met ’n rasseverhouding van 2:5 of 3:4 in elke kwart van die wedstryd moet speel.

Gedreig met regstappe

In ’n brief wat Solidariteit Vrydag aan NSA se bestuur gerig het, dreig hy met regstappe sou NSA nie teen 19 November skriftelik onderneem om die reëls nié in toekomstige toernooie toe te pas nie.

Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, het Sondag in ’n verklaring die reëls as belaglik, irrasioneel en vaag beskryf. Die toepassing daarvan kom volgens hom op ’n kwotastelsel neer.

“Suid-Afrika is reeds die mees rasgereguleerde land ter wêreld, maar daar is feitlik geen sfeer van die samelewing waar dié vlak van inmenging eens naby aan Netbal kom nie,” sê hy.

Blanche de la Guerre, uitvoerende hoof van NSA, het Sondag gesê hulle sal die brief intern bespreek voordat hulle kommentaar lewer.

Volgens Bierman is die reël nie in ooreenstemming met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie nie, en is dit ook ongrondwetlik.

Hoe is verhouding bepaal?

“Omdat die reëls nie uit die wetgewing afgelei word nie, is ons vraag op watter gronde NSA die spesifieke verhouding bepaal het,” sê hy.

Die Internasionale Netbalfederasie sowel as die Internasionale Olimpiese Komitee verbied enige vorm van rassediskriminasie.

Solidariteit voer aan dat NSA met sulke reëls nie bloot sekere groepe benadeel nie, maar dat dit alle spelers, afrigters en uiteindelik die hele sport en sy verwante beroepe skade berokken.

“Die vraag was nog nooit wie die benadeelde en wie die begunstigde van sulke absurde reëls is nie. Die feit is dat ons almal slegter daaraan toe is. Die sport is ook slegter daaraan toe.

“Ironies genoeg is die grootste slagoffer van sulke onlogiese reëls die hoop dat daar vordering sal wees met betrekking tot rasseverhoudings in ons land,” sê Bierman.

Meer oor:  Solidariteit  |  Netbal Suid-Afrika  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.