Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spanning het amper presidensie ontwrig – jaarverslag

Die afgelope boekjaar was polities so spanningsvol dat die moontlikheid hoog was dat dit die presidensie as instelling kon ontwrig.

Lusanda Mxenge, die waarnemende bedryfshoof in die presidensie, skryf onder meer in die hoogste ampskantoor in Suid-Afrika se 2017-’18-jaarverslag dat die presidensie egter sy slag gewys en “dié onstuimige waters met die gepaste kalmte omseil” het om sodoende die kontinuïteit van die regering en sy programme te kon verseker.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DIRCO

Dié betrokke boekjaar is veral gekenmerk deur die onwillige bedanking van oudpres. Jacob Zuma as staatshoof in Februarie 2018.

Pres. Cyril Ramaphosa het Zuma in dié laaste deel van die 2017-’18-boekjaar vervang.

Die jaarverslag is Donderdag by die parlement deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluasie, ingedien.

Deur die jaarverslag met finansiële state, wat ’n ongekwalifiseerde oudit-opinie van die Ouditeur-Generaal ontvang het, doen die presidensie verslag aan die parlement, landsburgers en ander belanghebbendes oor of hy sy teikens vir die boekjaar bereik het en verskaf dit versekerings dat die presidensie sy funksies ingevolge die Grondwet, ander landswette en regeringsbeleid uitgevoer het.

Mxenge, wat ook die presidensie se verantwoordende beampte is, voer in die verslag verder aan dat die presidensie in die betrokke boekjaar volgehou het om sleutelprogramme wat met sy grondwetlike mandaat en langtermyn-doelwitte strook toe te pas.

Dié pligte behels die lei van geïntegreerde beplanning, koördinasie, prestasie-monitering en oorsig oor regeringsbeleide en programme om nasionale eenheid en maatskaplike samehorigheid te bevorder, sowel as om Suid-Afrika se belange in die streek en internasionaal te bevorder.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: City Press

“Teen die einde van die 2017-’18-boekjaar is die presidensie deur ’n politieke oorgang ná die bedanking van Zuma en die verkiesing van Ramaphosa as Suid-Afrika se nuwe president.

“Soos enige oorskakeling het dié proses nuwe denkwyses, idees, klem en programme meegebring. Dit vereis dus ook nuwe werkreëlings wat die verwagtinge van ’n organisasie kan beïnvloed.”

Volgens Mxenge het Ramaphosa sy visie vir Suid-Afrika in sy heel eerste staatsrede uiteengesit, wat die vraag geopper het oor of die presidensie optimaal gestruktureer is om aan daardie verwagtinge te voldoen.

Daar is volgens haar om dié rede met ’n proses begin om die presidensie as instelling te hersien en te herbedink om dit operasioneel te laat strook met Ramaphosa se visie.

“Dit is waarskynlik dat veranderinge aan die presidensie gemaak sal word, maar die besonderhede daarvan sal slegs oor die volgende paar maande bekend word.”

Dlamini-Zuma skryf op haar beurt in die jaarverslag dat die regering deur die presidensie hard werk om Suid-Afrika se fiskale skuld te konsolideer en om openbare uitgawes te beheer.

Sy erken ook dat die regering met swak ekonomiese groei en hoë werkloosheidsvlakke deur beduidende uitdagings in die gesig gestaar word.

“Tog, onder die leiding van die president en sy kabinet, het die regering spoedig beweeg om vertroue te herstel en om die land se finansies te stabiliseer.

“Die presidensie het beslissende stappe gedoen om die operasionale prestasie en bestuur van staatsentiteite te verbeter deur in die eerste plek nie-presterende direksies of direksielede te vervang en ook deur stappe om sulke ondernemings te herkapitaliseer deur op kern- operasionele funksies te fokus,” het Dlamini-Zuma geskryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.