Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Speaker ‘oorweeg’ Mmusi se ekstra vraag aan Cyril

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), “sal besluit” of sy Donderdag ’n “dringende” bykomende vraag in vraetyd aan pres. Cyril Ramaphosa sal toelaat wat oor sy CR17-veldtog handel.

Dit kom nadat Mmusi Maimane, DA-leier, haar Woensdag versoek het om dié “dringende vraag” by die bestaande vraelys te voeg wat Ramaphosa geskeduleer is om te beantwoord.

Mmusi MaimaneFoto: ELIZABETH SEJAKE

Alle oë sal op die parlement wees wanneer Ramaphosa Donderdag die eerste keer ná die Mei-verkiesing op ses vrae deur LP’s in die NV sal reageer.

Een van die vrae hou verband met die CR17-veldtog, sy interne veldtog om in 2017 ANC-president te word, en nog een met Bosasa, die omstrede dienstemaatskappy wat met staatskaping verbind word.

Die ander vrae gaan oor die ekonomie, Nasionale Gesondheidsversekering, die presidensiële raadgewende paneel oor grondhervorming en landbou, en die vervreemding van minderhede.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Woensdag gesê Modise sal nog besluit oor die kwessie. “Sy sal op mnr. Maimane (se versoek) reageer,” het hy gesê.

Die bykomende vraag wat Maimane wil hê Ramaphosa moet beantwoord, gaan ook oor sy CR17-veldtog waaroor daar die afgelope weke wyd bespiegel word.

Hy wil weet of die aanstelling van Khumbudzo Ntshavheni as minister van kleinsakeontwikkeling, Thembi Siweya as adjunkminister in die presidensie, Fikile Mbalula as minister van vervoer, en Zizi Kodwa as adjunkminister van staatsveiligheid op enige manier beïnvloed is deur die feit dat hulle vir die CR17-veldtog gewerk het én geld daarvan ontvang het.

Dit volg op onlangse berigte dat betalings aan minstens vier individue gemaak is wat later lid van Ramaphosa se uitvoerende gesag geword het.

Volgens Maimane het dié vier glo “gesamentlik sowat R7 miljoen in betalings” van die CR17-veldtog ontvang – na bewering vir werk wat hulle verrig het om te verseker dat Ramaphosa tot ANC-president verkies word.

“Dit wek groot kommer oor of pres. Ramaphosa onpartydig en rasioneel opgetree het toe hy dié individue aangestel het, en of hy hulle terugbetaal het vir werk wat hulle gedoen het in ’n poging om hom tot president te laat verkies,” lui Maimane se verklaring.

Hy het met verwysing na ’n vroeëre hofuitspraak rakende die president teen die DA en andere, gesê die hof was baie duidelik in dié saak dat ’n uitvoerende besluit rasioneel moet wees en dus moet die president “in staat wees om rasionele redes te gee vir die aanstelling van lede van sy kabinet”.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het in Julie bevind dat Ramaphosa die “parlement mislei” het toe hy in November verlede jaar deur Maimane uitgevra is oor ’n R500 000-betaling deur Bosasa aan sy seun, Andile. Ramaphosa het geantwoord dat Andile konsultasiewerk vir Bosasa gedoen het.

Ramaphosa het egter tien dae later aan die speaker geskryf en gesê dit het onder sy aandag gekom dat dié geld inderwaarheid aan sy veldtog geskenk is om ANC-president te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.