Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spioen het ‘miljoene na oudminister se huis geneem’

’n Geheime agent het drie keer onder groot geheimhouding sakke met R4,5 miljoen kontant aan David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid, in die studeerkamer van sy huis regstreeks aan hom gaan oorhandig.

Dié agent van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder die skuilnaam Dorothy getuig om haar identiteit te beskerm.

Dorothy het getuig sy het drie keer by die kassier van die SVA R4,5 miljoen onder haar naam getrek. Dit was in opdrag van ’n senior kollega.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Argief

By al drie geleenthede is sy gevra om die geld in kontant te trek uit die fonds van die SVA. Daarna moes sy na die huis van Mahlobo gaan en die geld aan hom oorhandig.

Dorothy het getuig sy kan bevestig dat sy die kontant oorhandig het. Die eerste keer het sy alleen na Mahlobo se huis gegaan en die ander twee kere saam met ’n kollega aan wie sy die skuilnaam “Lilly” gegee het.

Volgens Dorothy weet sy wat die bedrae is omdat die kontant elke keer by die kassier van die SVA getel is. Sy het die geld ’n tweede keer getel elke keer wanneer sy dit in Mahlobo se studeerkamer aan hom oorhandig het.

Dorothy het getuig wanneer sy by Mahlobo se huis aangekom het, sou sy die veiligheidswagte daar laat weet sy is daar. Sy sou ná ’n tydjie in die huis gaan waar sy na Mahlobo se studeerkamer sou gaan.

Hulle het nie veel met mekaar gepraat met die oorhandiging van die geld nie, sy sou slegs groet, sê hier is die geld, waarna sy dit voor hom getel het sodat hy bevestiging gekry het dat dit die bedrag is wat hy verwag het.

Mahlobo is nooit gevra om ’n bewys te teken dat hy die geld ontvang het nie en Dorothy weet ook nie waarvoor die geld gebruik is nie.

Volgens Dorothy het sy ook in Februarie 2017 ’n opdrag uitgevoer om R1,5 miljoen kontant aan Mahlobo in Kaapstad te oorhandig.

31 Oktober 2017: David Mahlobo, minister van energie: 'Die IRP sal al in November 2017 afgehandel word.'

Mahlobo was minister van staatsveiligheid toe daar na bewering miljoene rande se spioenasie-geld met sy hulp na oudpres. Jacob Zuma gestuur is, volgens vorige getuienis voor die kommissie.

Hy het in sy getuienis voor die kommissie in April ontken dat daar maandelikse bedrae van R4,5 miljoen na sy huis geneem is.

Hy is in Oktober 2017 met een van Zuma se kabinetskommelings verskuif na die pos van minister van energie.

Hy is nou adjunkminister van menslike nedersettings, water en sanitasie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.