Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spioene hou Zuma se vrou ‘onwettig aan’ oor gif

Die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) het na bewering een van oudpres. Jacob Zuma se vroue onwettig en teen haar sin aangehou.

Nompumelelo Ntuli (MaNtuli) Zuma, wat daarvan verdink is dat sy Zuma probeer vergiftig het, is deur spioene van die SVA aangehou sonder dat daar wetlike prosesse gevolg is, het Loyiso Jafta, waarnemende direkteur-generaal van die SVA, Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangevoer.

Jafta het gesê daar was bewerings in die media dat Zuma deur een van sy vroue vergiftig is. Die SVA het dié bewerings ondersoek en dit het daartoe gelei dat hulle MaNtuli aangehou het.

Loyiso Jafta, waarnemende direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra of sy teen haar sin aangehou is, waarop Jafta geantwoord het hy glo absoluut dat sy teen haar sin aangehou is.

Zondo het hierop gesê indien dit so is, is dit baie ernstig. Dit sal beteken dat ’n staatsorgaan iemand aangehou het terwyl daar geen wet is wat aan hulle die magtiging daarvoor gee nie.

Jafta het gesê dit is een van die voorbeelde wat hy wil noem oor hoe die SVA betrokke was by ’n voorval wat op twee maniere gesien kan word; die een is dat die SVA opgetree het in die hoedanigheid dat Zuma die president van die land was, maar die ander is dat die SVA betrokke geraak het by ’n huishoudelike kwessie in Zuma se persoonlike hoedanigheid.

Jafta se getuienis kom nadat oudmin. Sydney Mufamadi Maandag voor die kommissie getuig het oor die hersiening van die SVA se werkinge wat hy in 2018 in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa gedoen het. Die paneel het inligting ontvang van ’n projek, bekend as Projek Sinkdak, wat gehandel het oor die ondersoek van die beweerde vergiftiging van Zuma deur MaNtuli. Dit het ook ingesluit dat ’n “veilige huis” vir haar betaal is uit die begroting van die SVA teen ’n koste van R5,2 miljoen.

Met nog ’n projek, Projek Akkuraat, is die diens van gifkenners ingeroep om die kos en beddegoed van Zuma te toets vir moontlike gif. Dié projek het oorspronklik R500 000 per maand gekos en die koste het tot R1,5 miljoen per maand gestyg in die 2015-’16-boekjaar.

Jafta het getuig toe hy in April 2018 by die SVA as waarnemende DG aangestel is, het hy ’n beleid gevolg van “volg die geldspoor”.

Hy het besef die SVA se geldsake is onbehoorlik bestuur en daar was ’n menigte gevalle waar lede van die agentskap miljoene rande aan voorskotte geskuld het.

Mense het hulself verryk en vals projekte is geskep hiervoor, volgens Jafta.

Die SVA se geld is gebruik vir projekte wat buite die wettige grens van die SVA se werk geval het.

Dit het duidelik geword dat die Grondwet en ander wette “selektief” gegeld het vir lede van die SVA.

Selfs vuurwapens van die SVA is bloot aan lede van die publiek gegee, volgens Jafta. Hy het gesê die staat gee aan lede van die SVA vuurwapens om hulself te beskerm aangesien hulle soms in gevaar kan wees, maar SVA-vuurwapens is aan mense gegee wat nié beamptes van die agentskap is nie.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier, het uitgewys daar is ’n verslag waarin genoem is dat die SVA nie kan verslag doen oor bates van R9 miljard nie.

Zondo het hierop gesê dit is R9 miljard se geld van belastingbetalers. “Hoe kan so iets gebeur? En ek vermoed geen koppe het gerol nie. Dit kan net nie toegelaat word om so aan te gaan nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.