Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spoor-chaos ‘direk as gevolg van Mbalula’

Pendelaars moet tot vier keer meer opdok vir taxi- en busvervoer as vir treinkaartjies, maar weens die haglike toestand van die land se treinstelsel het hulle geen ander keuse nie.

Kaapse wetstoepassers by gekonfiskeerde kabels. Foto: Leon Bonthuys

“Dis ’n onhoubare situasie en moet dringend hanteer word.

“Mense moet in staat gestel word om hulself uit hul swak sosio-ekonomiese omstandighede te kan werk,” sê Angus McKenzie, ’n raadslid van Bonteheuwel in Kaapstad.

In Februarie is 10,7 miljoen passasiersritte op treine in die land onderneem vergeleke met net 145 000 in Julie, aldus Statistieke SA. In dieselfde tyd het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se inkomste van R177 miljoen tot R12 miljoen geval.

‘Prasa se dae is getel.’

Makhosini Mgitywa, Prasa-woordvoerder, sê die hoofrede vir die afname is die vandalisering van infrastruktuur. Altesame 200 stasies is erg gevandaliseer en 60% van hulle moes gesluit word. Net in Gauteng het 88 stasies onder vandale deurgeloop, sê Lillian Mofokeng, provinsiale Prasa-woordvoerder.

Sy sê net drie van die 17 lyne in Gauteng loop deesdae: Pretoria-Pienaarspoort, Leralla-Elandsfontein en Naledi-Johannesburg.

Volgens haar word ’n bestekopname van die skade gedoen en dit sal etlike miljoene rande kos om te herstel. Die herstelwerk sal per lyn geskied en behoort teen Maart voltooi te wees. Oorhoofse lyne word ook herstel, want die gebruik van diesellokomotiewe raak te duur.

’n Gereelde gesig op Kaapse stasies – ’n kabeldief wat doodgeskok is. Foto: Melinda Stuurman

Sy hoop dinge sal verbeter sodra die regering se veiligheidsplan, wat op 14 September bekend gestel is, begin vrugte afwerp.

Chris Hunsinger, DA-woordvoerder oor vervoer, is minder optimisties. “Die DA is oortuig dat Prasa aan die einde van sy leeftyd gekom het.”

Dis weens die agentskap se versuim om die staat se bates voldoende te beskerm, sê hy.

Volgens Hunsinger het passasiersgetalle reeds in 2009-’10, lank voor Covid-19, van drie miljoen tot minder as ’n miljoen gedaal.

Al was die meeste voorstedelike dienste in Februarie aan die gang, was die risiko toe reeds baie hoog. Die spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) het toe op bykans twee miljoen onveilige spoorseksies gewys waaronder sinjaaltoerusting, wat nie bevredigend herstel is nie, en treindeure wat nie werk nie.

Hunsinger sê baie van die onlangse swak bestuursbesluite en bykans totale verval in bestuur hou direk verband met Fikile Mbalula, minister van vervoer, se besluit om die Prasa-raad af te dank, sy “speelgoed-idee” om ’n “oorlogkamer” te vestig, dit te vervang met die aanstelling van ’n administrateur – wat onlangs deur die hof as onregmatig verklaar is – en sy algemene onbetrokkenheid by die lot van pendelaars en passasiers.

Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union (Untu), sê daar is eenvoudig geen politieke wil om Prasa te red en die treindienste te herstel nie. Volgens haar het Prasa herhaaldelik teenoor die vakbond onderneem dat die meeste van die treinroetes van 1 Oktober weer in gebruik sou wees, maar dit het nie gebeur nie.

Niks het ook gekom van die onderneming dat die langafstanddiens Shosholoza Meyl van 1 September weer op die spoor sou wees nie. Dit beteken Prasa genereer sedert die begin van die inperking nie ’n fraksie van die inkomste van voorheen nie.

Carstens sê Prasa gebruik die pandemie as verskoning vir hoekom sy werknemers steeds nog nie hul oortydbetaling vir Maart en April gekry het nie.

“Dit is geld waarop werknemers wie se werk tot noodsaaklike dienste gedurende die inperking verklaar is, geregtig is ingevolge die bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

“Dit word ook gebruik as verskoning vir waarom diensverskaffers soos apteke en psigiaters wat steun aan getraumatiseerde Prasa-werknemers moet bied as deel van Prasa se werknemersbystandsprogram, nie betaal word nie. Die gevolg is dat ’n Prasa-werknemer wat aan diens verkrag is, nie haar chroniese medikasie by die apteek kan kry nie en nie opvolgbesoeke by ’n sielkundige en psigiater kan bywoon nie omdat Prasa se rekenings agterstallig is.”

Volgens Carstens is daar nog geen teken dat Mbalula se veiligheidsplan vrugte afwerp nie.

Sy sê totdat die infrastruktuur beskerm word, sal Prasa nooit in staat wees om ’n veilige en betroubare diens aan pendelaars te bied nie. Dit het ook ’n ernstige impak op werknemers se moreel.

Paul Soto, woordvoerder van United Commuter Voice (UCV), sê mense wat reeds ’n karige inkomste verdien, moet ál hoe meer aan vervoer bestee.

“Sommige moet tot twee taxi’s werk en huis toe neem, of verloor hul werk omdat hulle gereeld laat kom. Dis frustrerend.

“Ons vra ’n einde aan die vernietiging van die treine en -stelsels. Laat mense ook ’n idee van eienaarskap van die treine kry.”

Meer oor:  Sonja Carstens  |  Paul Soto  |  Chris Hunsinger  |  Angus Mckenzie  |  Fikile Mbalula  |  Treine  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.