Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spoor sê Zuma het dalk ’n wenbare saak

Dit is allermins ’n uitgemaakte saak dat oudpres. Jacob Zuma sy naderende korrupsiesaak gaan verloor, sê die menseregteprokureur Richard Spoor, wat aanbied om Zuma gratis te verteenwoordig.

Zuma se vorige prokureur, Eric Mabuza, het die hooggeregshof in Pietermaritzburg op 21 April ingelig dat hy hom aan die saak onttrek waarin die 79-jarige oudpresident en die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery.

Die verwagting is dat adv. Muzi Sikhakhane SC, Zuma se advokaat, homself ook sal onttrek omdat hy en Mabuza as ’n span saamwerk, het Zuma se woordvoerder, Vukile Mathebula, bevestig.

Die saak kom op 17 Mei voor.

Richard SpoorFoto: Deon Raath
Oudpres. Jacob Zuma tydens ’n hofverskyning in Pietermaritzburg in 2019. Foto: Gallo Images/ Darren Stewart

Spoor het op 22 April getwiet dat hy te vinde sal wees om die oudpresident gratis te verteenwoordig.

Op kykNET se Verslag in gesprek-program Woensdagaand het Spoor gesê sy aanbod is in erns gemaak.

Toe hy gevra is of hy dink Zuma het ’n wenbare saak, het hy gesê: “Die geskiedenis van die vervolgingsgesag (NVG) in hierdie (tipe) misdade – rampokkery en korrupsie – is nogal sleg.

“Daar’s nie ’n groot presedent hieroor in ons regstelsel nie, en alhoewel Schabir Shaik skuldig bevind is, was dit baie duidelik wat hy verkeerd gedoen het omdat hy direk met die maatskappy gewerk het en die geld (self) gevat het. Ek dink dit gaan iets anders wees om die skakel tussen Schabir Shaik, die voormalige president en Thales te bewys.”

Shaik, Zuma se voormalige finansiële raadgewer, is op 31 Mei 2005 skuldig bevind aan korrupsie.

Regter Hilary Squires het in sy uitspraak van 165 bladsye bevind dat oorweldigende bewyse bestaan van ’n korrupte verhouding tussen Shaik en Zuma.

“Hulle (die NVG) moet ver terug in tyd gaan, en hulle moet bewys dat hy (Zuma) met opset misdadig opgetree het,” sê Spoor.

Spoor het bekendheid verwerf deur groepsgedinge teen hoofsaaklik groot mynmaatskappye namens werkers en hul gesinne.

Volgens Spoor het iemand uit Zuma se private kantoor hom al oor die aanbod gebel “om uit te vind of dit bona fide is. Ek het nog nie persoonlik daaroor met hom gepraat nie”.

Spoor het aan TimesLive gesê hy glo verskeie prokureursfirmas sal spring om die oudpresident gratis te verteenwoordig.

“Ek dink almal verdien ’n bekwame regspan. Dit is ook in die openbare belang dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word. Zuma verdien dít en regsverteenwoordiging,” sê Spoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.