Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sport mis sy teikens

Verskeie nasionale sportliggame voldoen nie aan die transformasieteikens wat hulle vir hulself gestel het nie en die minister van sport kan hulle daarvoor straf.

En dié wat wel aan hul teikens voldoen – soos sokker en netbal – se teikens is só laag dat dit eintlik sinloos is.

Die Proteas. Hul transformasieteiken is 58%. Foto: Getty images

Die met hoër selfopgelegde teikens – soos rugby, krieket en atletiek – haal egter nie dié teikens nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket SA (KSA), Atletiek SA (ASA), Netbal SA (NSA) en die SA Sokkervereniging (Safa) se transformasieteikens vir hul nasionale spanne, sowel as hul bestuurs- en afrigtingsposte, word vervat in hofstukke wat die afgelope week deur die vakbond Solidariteit by die Arbeidshof ingedien is. Selfs die poste van mediese personeel en fisioterapeute het ook teikens.

Volgens die teikens, wat in 2014 as ’n vooruitskatting aan die minister van sport en ontspanning verskaf is, voldoen Saru nie aan sy teiken van 45% “generies swart” spelers vir die Springbokspan vir 2018 nie. “Generies swart” verwys na enige gekleurde speler.

‘Kwotas is kwaadwillig gebruik.'

Vir November se Europese toer het die Bok-afrigter Rassie Erasmus se groep slegs 36,1% “generies swart” spelers bevat.

KSA se Proteas moes teen einde verlede jaar ’n teiken van 58% haal, maar in hul toetsreeks teen Pakistan het swart spelers slegs 42,86% van die span uitgemaak.

ASA se mansatletiekspan vaar die heel swakste. Die voorneme was ’n teiken van 84%, maar slegs 64,71% van verlede jaar se span vir die Statebondspele was “generies swart”.

NSA en Safa het egter hul voornemens, albei 25%, met gemak oorskry. Safa het reeds transformasieteikens oorskry toe die handves in werking getree het. Dit is nie bekend hoekom NSA se teiken so laag is nie.

NSA se Protea-netbalspan was 41,6% generies swart in die vierhoekige reeks in September verlede jaar, terwyl Bafana Bafana se groep van 23 vir hul wedstryd teen Nigerië in November slegs een wit speler gehad het. Die Springbokke en Proteas speel later vanjaar in wêreldbekertoernooie, terwyl ASA ’n span vir die Wêreldatletiekbyeenkoms moet aanwys.

Die Springbokke se teiken vir die Wêreldbekertoernooi is 50%, met die Proteas wat mik na ’n teiken van 60% teen Desember, aldus hul eie vooruitskatting. Dit is nie bekend wat ASA se teiken vir die Wêreldbyeenkoms is nie.

Indien daar nie aan die vereistes voldoen word nie, is die minister van sport en ontspanning, Tokozile Xasa, by magte om strafmaat­reëls teen hierdie liggame toe te pas, volgens ’n ooreenkoms wat in 2014 deur die liggame onderteken is om aan hierdie transformasieteikens te voldoen.

Ingevolge hierdie ooreenkoms mag Xasa:

* finansiering aan die liggame onttrek;

* die regering se erkenning van die liggame as nasionale entiteite onttrek;

* die liggame verhoed om internasionale toernooie, soos wêreldbekertoernooie, aan te bied;

* keer dat die liggame nasionale kleure toeken; en

* politieke steun aan die liggame onttrek.

Gevra of sy steeds van hierdie magte kan gebruik maak, het Xasa se woordvoerder, Vuyo Mhaga, erken dat die minister haar regte voorbehou.

Fikile Mbalula, voormalige minister van sport, het in 2016 Saru, KSA, NSA en ASA verbied om aansoek te doen om gasheer te speel vir internasionale toernooie nadat die liggame nie hul transformasieteikens bereik het nie.

Dis juis oor hierdie kwessie dat Solidariteit vir Xasa, saam met Saru, KSA, ASA, NSA, en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sas­kok) hof toe vat om die wettigheid van kwotas te toets.

Solidariteit voer onder meer aan dat Xasa se strafmaatreëls onwettig is, en dat kwotas op sigself onwettig is ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming.

Xasa en die vyf liggame staan Solidariteit se aansoek teen, en voer onder meer aan dat Solidariteit nie in enigiemand se belang behalwe hul eie optree nie.

Adv. Norman Arendse SC het Woensdag gesê Solidariteit het geen lede wat in diens is van die vyf sportbeheerliggame nie en dat professionele sportmense deur hul onderskeie unies verteenwoordig word.

Dié saak het Woensdag in die arbeidshof in Braamfontein voorgekom. Regter Zolashe Lallie het uitspraak voorbehou.

Mhaga meen Solidariteit saai onnodig paniek met die kwessie omdat “kwotas” van “transformasieteikens” verskil.

“Kwotas is deur sportliggame gebruik om kwaadwillig aan kleurvereistes te voldoen,” sê Mhaga. “Dit het ’n stigma teen dié swart spelers veroorsaak, wat ’n groot sielkundige kwessie ontlok het.”

“In 2011 het ons die transformasiehandves bekend gestel om liggame se uitvoerende rade en ontwikkeling op grondvlak te monitor. Dis die totale transformasie van sport.”

Hy kon egter nie die verskil verduidelik tussen kwotas en die teikens wat steeds op nasionale vlak gehaal moet word nie.

Saru het in antwoord op ’n vraag of hy nie bekommerd is oor die minister se strafmaatreëls nie, gesê dat ’n lewelose liggaam soos Saru nie emosies ervaar nie.

Saru beskou kwotas as ’n vereiste uitkoms, en transformasie as ’n gewenste uitkoms.

Oor Wêreldrugby wat regerings se inmenging by sportliggame verhoed, redeneer Saru dat internasionale liggame nie met die nalatenskap van apartheid te make het nie.

Koketso Gaofetoge, KSA-woordvoerder, sê dat hulle die implikasie van die transformasieteikens ten volle verstaan het toe hulle dit voorgeneem het, maar sê dat hulle nie alleen op hul teiken vir die nasionale span beoordeel kan word nie.

Oor die Internasionale Krieketraad wat ook nie regerings se inmenging goedkeur nie, sê Gaofetoge dat hul mandaat vanaf die regering kom.

Meer oor:  Transformasieteikens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.