Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staan opsy of word geskors, maan Mashatile

ANC-lede wat formeel in ’n hof teregstaan op aanklagte van korrupsie of ander ernstige misdaad, móét teen einde April hul poste ontruim.

Indien nie, sál die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) hulle skors, het Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, Vrydag in ’n onderhoud met eNCA gewaarsku.

Intussen het ’n groep “bekommerde ANC-taklede” wat Donderdag voor Luthuli-huis betoog het, Vrydag gesê dat hulle die party sewe dae gun om sy “opsy staan”-besluit te hersien.

Die groep eis onder meer ook dat pres. Cyril Ramaphosa, sowel as ander ANC-leiers wat by beweerde korrupsie geïmpliseer word, ook soos Ace Magashule, beleërde ANC-sekretaris-generaal, ná die voorgeskrewe 30-dae-tydperk hul poste moet ontruim.

Donderdag was die sperdatum vir die ANC se provinsiale strukture om die name van hul lede wat aangekla word, aan Luthuli-huis te verskaf.

Thabo Baleni, ’n ANC-taklid uit Magashule se tuisprovinsie, die Vrystaat, het Vrydag namens die groep “bekommerde ANC-lede” ontken dat hulle by die ANC-hoofkwartier ter ondersteuning van Magashule en sy faksie van sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET) betoog het.

“Ons is taklede uit Suid-Afrika wat uit liefde en geesdrif vir die ANC betoog het. Ons glo dat die ‘opsy staan’-besluit in sy huidige vorm ’n presedent sal skep wat selfvernietigend en erg verdelend vir die ANC sal wees.”

Volgens hom het hulle as groep Donderdag ’n petisie aan die ANC oorhandig waarop die party binne sewe dae moet reageer. “Die ANC se reaksie daarop sal die weg vorentoe vir ons bepaal.”

Ons is taklede uit Suid-Afrika wat uit liefde en geesdrif vir die ANC betoog het. Ons glo dat die ‘opsy staan’-besluit in sy huidige vorm ’n presedent sal skep wat selfvernietigend en erg verdelend vir die ANC sal wees.

Baleni-hulle stem wel saam met Magashule dat alle ANC-lede wat aangekla word, sowel as diegene wat by korrupsie geïmpliseer word, ná die 30-dae-tydperk hul poste moet ontruim.

Mashatile het egter Vrydag, net soos die ANC se nasionale werkkomitee Woensdag, dit duidelik gemaak dat net mense wat in die howe van korrupsie en ander ernstige misdaad aangekla word, opsy moet staan.

Magashule het Donderdag ná ’n vergadering met oudpres. Jacob Zuma by dié se Nkandla-woonkompleks gesê dat hy ten spyte van wat ook al gebeur, in die ANC sal “bly en sterf”.

Op die vraag van eNCA of Magashule as ’n aangeklaagde nie as ANC-sekretaris-generaal ’n voorbeeld moet stel en sy pos ontruim nie, het Mashatile gesê die party se topsesleiers het ingestem dat hy op sy versoek eers oud-ANC-leiers, onder wie Zuma, in die 30-dae-tydperk oor sy politieke lot konsulteer. Hy sal Ramaphosa daarna ook konsulteer.

“Ná die 30-dae-tydperk sal hy terugkom en ons inlig wat sy besluit is. Ons sal dit dan van daar af verder neem.”

Mashatile het bygevoeg as daar ANC-lede is wat ná die 30 dae nie hul poste ontruim het nie en hulself eers aan die party se integriteitskommissie wil verduidelik, sal hulle dit kan doen.

“Die integriteitskommissie sal dan in ’n verslag aan die NUK aanbeveel wat met daardie gevalle gedoen moet word. As die NUK daardie verslag goedkeur, sal dit ’n kameraad skors wat nie opsy gestaan het nie.”

Volgens Mashatile is korrupsie ’n probleem in ’n groot organisasie soos die ANC, en die “opsy staan”-resolusie is deel daarvan om “beslissend” daarteen op te tree.

“Ons versterk ook ons politieke skool om kamerade voortdurend op te lei en bewussyn te skep sodat hulle aanhou om die ANC-waardes uit te leef van integriteit en om onbaatsugtig vir die mense en nie vir hulself nie, te werk.”

Meer oor:  Nuk  |  Korrupsie  |  Opsystaan  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.