Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat dok miljoene vir regskoste van Zondo-getuies op
Adv. Paul Hoffman (links.) Foto: Accountability Now

Suid-Afrika se belastingbetalers staan pa vir die regskoste van oudpres. Jacob Zuma, Shaun Abrahams, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, en ander mense met regsgeleerdes aan hul sy toe hulle voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn het. Die koste beloop al bykans R7 miljoen.

Die departement van justisie het te kenne gegee dat hy die koste van die regsverteenwoordigers van altesaam 11 mense dra. Hulle is onder andere Kgomotso Phahlane, voormalige nasionale kommissaris van polisie, en die oudministers Lynne Brown en Nathi Nhleko.

Altesaam R6 968 004,46 is reeds betaal.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement, sê daarby bepaal wetgewing dat enigiemand wat aangesê is om ’n sitting van ’n kommissie by te woon as getuie of wat getuienis gelewer het, geregtig is op staatsvergoeding.

Altesaam R6 968 004,46 is reeds betaal.

Die Sunday Times het Sondag berig dat die koste van die regshulp vir Zuma en ander amptenare deur die land se belastingbetalers gedra word.

Volgens die departement is van die ander mense op die lys wie se koste betaal word, ministers Pravin Gordhan en Nathi Mthethwa. Ook op die lys is ’n aantal polisie-offisiere, soos lt.genl. Baile Motswenyane en genl.maj. Ntebo Mabula.

Volgens Phiri is die advokate T. Sibeko SC en K. Kgoroadira op 19 Maart vanjaar ten behoewe van die departement van minerale bronne aangestel toe die departement ’n voorlegging aan die kommissie moes doen. Altesaam R220 925 is aan die twee advokate betaal.

In Junie het Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, aan Netwerk24 gesê dat die staat in Zuma se geval die koste van ’n prokureur en twee advokate betaal.

Paul Hoffman, direkteur van Accountability Now, sê dat diegene wat uiteindelik aan wandade skuldig bevind word en wie se regskoste deur die staat betaal is, dit sal moet terugbetaal.

“Ons vertrou dat die kommissie in sy aanbevelings iets sal sê met die strekking dat geld verhaal moet word van diegene wat aandadig aan misdrywe was. Ons is bekommerd dat ook in hierdie situasie geld uitgegee word deur ’n land wat op groot skaal geld verloor.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.