Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat gekap oor veiligheid op plase

“ ’n Boer se primêre verantwoordelikheid is om kos te produseer en nie om nog in die nag te moet patrollie ry om homself en sy eiendom te beskerm nie."

So sê Tommie Esterhuyse, hoof van Agri SA se sentrum vir landelike veiligheid, oor boere wat toenemend onveilig op plase voel.

“Dít is ’n direkte gevolg van die polisie se onvermoë om burgers doeltreffend te beskerm.”

Dit word al hoe moeiliker om die gemoedere van boere en plaaswerkers op grondvlak tot bedaring te bring wanneer hulle op hul reg op veiligheid aandring, sê hy in ’n verklaring, wat uitgereik is na aanleiding van talle onlangse plaasaanvalle.

Suid-Afrika verkeer in een van die moeilikste ekonomiese situasies en daarmee saam het die sektor te kampe met ’n landbou-onvriendelike regering en beleidsonsekerheid. Hierdie onsekerheid en toenemende landelike misdaad dra nie daartoe by om ’n omgewing te skep waarin die landbou kan presteer en tot ekonomiese ontwikkeling kan bydra nie, sê Esterhuyse.

Die boerderygemeenskap moet verantwoordelik bly optree en daarop aandring dat die polisie sy grondwetlike plig nakom en alle burgers beskerm. 

Volgens Esterhuyse moet die regering ook die waarde van die landbou deeglik in ag neem in sy beleidsontwikkeling en sy modelle vir polisiëring in landelike gebiede. Die onvolledige instelling­ van die landelike beveiligingstrategie is volgens hom een van die faktore wat bydra tot misdaad op plase. Hy sê Agri SA probeer sedert Februarie om met die polisie gesprekke te voer oor die landelike beveiligingstrategie en sien daarna uit dat ’n datum daarvoor gefinaliseer word.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag oor plaasaanvalle in die parlement gesê die bekamping van moorde in enige sektor van die Suid-Afrikaanse samelewing is ’n prioriteit vir die polisie.

“Ons werk baie nou saam met boere deur die plaasveiligheidsplan wat ons in Limpopo bekend gestel het. Ons probeer om dit uit te brei.”

Dianne Kohler Barnard, DA-LP en voorsitter van die party se kantoor oor landelike veiligheid, sê die DA het verlede week al ’n debat in die Nasionale Vergadering oor plaasaanvalle versoek, maar het nog nie ’n antwoord gekry nie.

Plaasaanvalle is ’n tweede pandemie in die land en die regering moes lankal daaraan aandag geskenk het.

Die party het ook ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om aan Suid-Afrikaners te verduidelik wat sy regering doen om die groeiende getal plaasaanvalle en -moorde stop te sit “wat al lank deur die regering geïgnoreer word”.


Plaasaanvalle in Junie

Agri SA sê in Junie was daar 29 plaasaanvalle.

TLU SA sê hy het reeds 40 aanvalle, wat ses moorde insluit, geverifieer. Baie slagoffers is ernstig beseer en selfs gemartel.

Onder hulle is die seun en dogter van plaaswerkers wat op 18 Junie op ’n plaas buite Polokwane geskiet is. Die seun is in die bobeen geskiet en sy suster in die elmboog.

In ’n ander geval is 'n seun in die nek geskiet in ’n aanval op ’n hoewe noord van Pretoria. Dié aanval was een van sewe binne 24 uur in dieselfde omgewing.

Pieter (65) en Ann Nel (61) van Remhoogte in Brits is op 5 Junie aangeval. Pieter is in die bors geskiet en in die waakeenheid opgeneem.

Schalk (64) en Lana Coetzee (63) is die volgende dag in ’n plaasrooftog buite Reivillo met kookwater gebrand en gewelddadig aangerand.

Die volgende plaasmoorde is in Junie aangeteken:

  • 1 Junie: Dr. Roelof Botha word by Tulbagh in die Wes-Kaap vermoor. 
  • 4 Junie: Solomon Mbokane, ’n boer van Badplaas in Mpumalanga, word vermoor.
  • 6 Junie: Eduard Neumeister (67) word by Balgowan in KwaZulu-Natal met ’n kapmes aangeval en vermoor.
  • 16 Junie: Kosie Botha (63), ’n boer van Vryheid in KwaZulu-Natal, word dood in sy huis aangetref. Sy hande en voete was vasgebind en hy is vermoedelik verwurg.
  •  21 Junie: Edwin Kotzé (56) word by Buffelsdrift, noord van Pretoria, in ’n rooftog doodgeskiet.
  •  23 Junie: Albert Küssel (63) word by Sundra op ’n hoewe vermoor.

Meer oor:  Agri Sa  |  Tommie Esterhuyse  |  Plaasaanvalle  |  Veiligheid  |  Plase  |  Junie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.