Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat se magte in Covid-19-krisis ál hoe meer bevraagteken

Daar is al hoe groter kommer oor die staat se magte en die regulasies wat hy uitvaardig aangaande die Covid-19-krisis in die land, en dat dié magte nie in toom gehou word nie.

Prof. Elmien du Plessis, grondwetkenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het Woensdag dié mening gehuldig oor die magte van die nasionale koronavirusbevelsraad (NKB) onder pres. Cyril Ramaphosa, en die oënskynlike gebrek aan deursigtigheid daaroor wat al hoe wyer begin uitkring soos die staat van inperking voortduur.

Vroeër is berig hoe die aangeleentheid in die kalklig beland het toe adv. Nazeer Cassim SC en adv. Erin Dianne-Richards, twee prominente Suid-Afrikaanse regslui, die magte en grondwetlikheid van die NKB in ’n brief aan Ramaphosa bevraagteken het.

Hulle het daarin onder meer hul kommer uitgespreek oor die grondwetlike en demokratiese gevolge weens die twyfelagtige struktuur en funksies van die NKB, sowel as die gebrek aan deursigtigheid én omdat die hele kabinet nie daarin dien nie.

Hulle is ook bekommerd oor ’n gebrek aan parlementêre oorsig en dat dit geleenthede vir magsmisbruik en die uitermatige gebruik van staatsmag skep.

Hulle het met regstappe gedreig as Ramaphosa hulle nie sou antwoord nie.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press

Die presidensie het in reaksie daarop in sy eie brief aan hulle Maandag, wat ook op sosiale media beland het, geskryf dat die kabinet op 15 Maart besluit het om die NKB te stig.

Die presidensie sê ook in sy brief dat die NKB ’n koördinerende liggaam is wat net soos enige ander kabinetstruktuur die werk van relevante kabinetslede of die hele kabinet fasiliteer. Die ministers wat daarin dien, doen regdeur die staat van inperking steeds virtueel verantwoording aan die parlement.

Die twee advokate word dan ook genooi om dan met alternatiewe voorstelle vorendag te kom oor hoe om die Covid-19-krisis te pak, eerder as om met regstappe te dreig.

Kommer oor aanspreeklikheid 

Du Plessis sê die kommer handel ook oor die aanspreeklikheid van die NKB, veral omdat die skeiding van magte beteken dat die uitvoerende gesag se magte beperk moet word deur die ander twee bene van die staat, naamlik die regbank en die parlement.

“Niks in die Wet op Rampbestuur vereis dat die parlement in die besluitnemingsproses oor regulasies insae moet kry nie. Dit is nie ongewoon om deur middel van ’n wet magte aan die uitvoerende gesag te gee om regulasies te maak nie. Dit word gedoen omdat dit vinnig is, soos wat dikwels in ’n ramp vereis word.

“Ek dink net nie die Wet op Rampbestuur het voorsiening gemaak vir ’n pandemie wat die land in sy geheel tref, en waar die uitvoerende gesag dan sulke ingrypende magte vir so ’n lang tydperk sou hê nie. Dit is daar waar die bekommernis lê.”

Die een oplossing is volgens haar dat die ministers in die NKB, soos weer gebeur, aan die parlement verantwoording moet doen.

Rol van parlement en opposisie

“Die parlement en die opposisie het ’n belangrike rol om te speel in dié tyd sover dit verantwoordbaarheid aangaan.”

Prof. Amanda Gouws, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, sê die NKB kan ingevolge die Wet op Rampbestuur vir drie maande funksioneer.

Volgens haar is die termyn van drie maande nog nie verby nie, maar die bevelsraad se mandaat kan, indien nodig, vir een maand op ’n slag daarna verleng word.

Sy meen egter dat daar veral ook vrae geopper word oor die deursigtigheid van die NKB.

“Daar word nie genoeg gekommunikeer met die burgers nie. Daarom sien ons dat die goeie wil begin verdwyn omdat mense al hoe meer omgekrap raak oor die inperking.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Kommer  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.