Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Staat staan in elk geval pa vir Zuma se veiligheid’

Jacob Zuma sal as oudstaatshoof nie aan sy eie lot ten opsigte van sy persoonlike veiligheid oorgelaat word nie omdat die staat, ondanks nuwe beweerde doodsdreigemente, steeds vir sy veiligheid verantwoordelik sal wees.

Vusi Madonsela, direkteur-generaal van die departement van justisie, het Dinsdag so by die parlement gesê nadat Zuma vroeër dieselfde dag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nog ’n bom laat bars het toe hy onthul het dat hy, sy familie en regsverteenwoordiger ná sy hoogs dramatiese getuienis Maandag telefoniese doodsdreigemente gekry het.

Oudpres. Jacob Zuma en sy lyfwagte Dinsdag by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Madonsela se departement is vir die kommissie verantwoordelik.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het die doodsdreigemente as so ernstig beskou dat hy aanbeveel het dat die toepaslike wetstoepassingsagentskappe dit deeglik moet ondersoek en verseker dat dit nie uitgevoer word nie.

Intussen het Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal en Zuma-lojalis, Dinsdag by die kommissiesitting gesê dat “mense nou vra dat ’n kommissie (van ondersoek) gestig word om die beweringe te ondersoek (wat Zuma voor die kommissie) onthul het”, maar dat die ANC eers “gesamentlike” gesprekke daaroor sal voer.

Zuma het Maandag plofbare getuienis gelewer oor hoe hy onder meer die beweerde slagoffer van ’n internasionale intelligensiekomplot is wat oor drie dekades strek, sowel as hoe spioene die ANC geïnfiltreer het én hoe daar al verskeie sluipmoordpogings, kompleet met buitelandse selfmoordbomaanvallers, op sy lewe was.

Dag twee van sy getuienis is oorheers deur ontkennings van Zuma, soos dat die omstrede Gupta-familie niks te doene gehad het met wat in sy administrasie, veral ten opsigte van ministeriële aanstellings of kabinetskommelinge, aangegaan het nie. Hy het ook die beweringe van Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), en Vytjie Mentor, oud-ANC-LP, ten sterkste ontken.

Oor Zuma se bewering dat ’n groot getal ANC-lede bande met die Guptas gehad het, het Magashule Dinsdag verder gesê: “Wys my ’n politikus wat nog nie met sakemanne vergader het nie.”

Zuma se lang verwagte getuienis is byna Dinsdag ook kortgeknip nadat adv. Thabani Masuku SC, sy regsverteenwoordiger, kapsie gemaak het oor die manier waarop adv. Paul Pretorius SC, die getuienisleier, hom ondervra het. Masuku wou weet waarom Zuma anders behandel word deur gekruisondervra te word.

Verrigtinge is ’n ruk lank hieroor verdaag, waarna Zondo aangekondig het dat daar ooreengekom is dat die verrigtinge kon voortgaan, maar dat hy sal “ingryp” indien ’n onregverdige vraag aan Zuma gestel word.

Oor die doodsdreigemente het Zuma gesê dat sy persoonlike assistent Maandagaand tussen 19:00 en 20:00 deur iemand gebel is “wat gedreig het om Zuma en

sy kinders dood te maak”.

“Sy het my vanoggend daarvan ingelig. Soos jy sal onthou, Meneer die Voorsitter, het ek (Maandag) baie gepraat oor hoe my lewe in gevaar is.”

Volgens Zuma is daar ook dreigemente teen sy ander regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane SC, gemaak.

“Ek het ’n kind verloor. Die dreigement is reeds geïmplementeer. Ek sal later daaroor uitwei, maar vir nou wil ek net op rekord plaas dat my lewe asook dié van my kinders in gevaar is.”

Zondo het die beweerde doodsdreigemente as onaanvaarbaar beskryf en die kommissie se regspan versoek om alle moontlike hulp te bied om Zuma en Sikhakhane se veiligheid te verseker.

Madonsela het in reaksie op joernaliste se vrae by die parlement gesê dat daar in die algemeen getuienisbeskermingsprogramme vir alle getuies is wat voel hul lewe word bedreig. Volgens hom word Zuma as oudstaatshoof buitendien reeds deur die regering beskerm en dit sal so voortduur. – Llewellyn Prince, Philda Essop en Christaan du Plessis

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.