Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat verwerp aanbiedings oor grondkoop, hoor parlement

Grondeienaars met eise op hul grond het in die vorige boekjaar in 85 gevalle aangebied om die grond aan die staat te verkoop. Die staat het egter dié aanbiedinge van die hand gewys.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Woensdag dié inligting in antwoord op ’n parlementêre vraag van Annette Steyn, DA-LP, verskaf.

Thoko Didiza. Foto: Elizabeth Sejake

Die minister het gesê die 85 gevalle hou verband met die 2018-’19-boekjaar. Sedert April 2019 tot op datum is ’n verdere 32 van dié aanbiedinge deur die staat van die hand gewys.

Steyn het Woensdag by navraag gesê die gevoel op grondvlak is dat die staat sloer om grond aan te koop.

“Die staat was ’n paar jaar gelede vreeslik vasgevang in hofsake, want provinsies het die mandaat gehad om onafhanklik aanbiedinge te doen.”

Sy beoog om Didiza verder te vra oor of die staat besig is om te sloer om grond aan te koop omdat hulle verwag dat hulle later die grond kan onteien sonder vergoeding. “Dit is om vas te stel wat die erns van die staat werklik is om grond te koop,” het sy gesê.

* Intussen het die Alliance for Rural Democracy (ARD) Dinsdag se beslissing van die konstitusionele hof oor die grondeisekwessie as ’n oorwinning vir huurarbeiders bestempel.

Die hof het ’n bevel van die grondeisehof gehandhaaf dat ’n spesiale meester van die hof aangestel moet word om oorsig te hê oor grondeise deur individue wat die reg gehad het om as arbeiders op die grond te leef en te werk, in plaas daarvan om te betaal daarvoor.

Die organisasie het in ’n verklaring gesê die kwessie van grondhervorming moet met dringendheid bejeën word. “Ons sal ’n wakende oog hou oor die volgende stappe wat moet volg op dié mylpaal-uitspraak. Ná dekades van wag, verwag ons nie enige verdere vertragings in die administratiewe proses in die finalisering van eise wat onder die wet ingedien word nie.”

Die ARD verwag dat die spesiale meester van die hof sal verseker dat die verwerking van eise, insluitende dié wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming verloor is “weens suiwer agterlosigheid deur amptenare en swak stelsels”, doeltreffend en met onversetlike deeglikheid opgelos sal word, lui die verklaring.

Didiza het kennis geneem van die uitspraak en gesê sy respekteer dit. Sy is besig om die uitspraak te bestudeer en sal regsadvies inwin oor hoe om aan die uitspraak te voldoen.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Politiek  |  Parlement  |  Grond Verkoop  |  Grondeienaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.