Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat wil oudit oor water doen

Die regering se omstrede grondoudit, wat nog onvoltooid is én geheim gehou word, is nog nie eens voltooi nie, of ’n nuwe oudit word beplan – dié keer oor waterregte.

Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het vandeesweek in die parlement gesê hy wil ’n oudit laat doen oor waterregte en die onderverdeling van grond, want “mense verkoop hul grond en loop dan met die waterregte”.

Daar is kommer dat dié oudit opnuut ’n politieke speelbal kan word as die regering sou aanvoer dat sy grondhervormingsprogram misluk het omdat swart boere toegang tot waterregte op plase geweier word. ANC-LP’s het ook vroeër vanjaar in die parlement gekla dat swart boere nie waterverbruiklisensies het nie.

Nkwinti sê kwessies soos waterregte, wat deur individue bekom word en nie aan die grond kleef nie, asook die “vinnige” onderverdeling van grond en veranderinge in grondgebruik het ’n uiters negatiewe invloed op grondhervorming.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het by navraag aan Rapport gesê dit is landwyd ’n probleem dat waterverbruiklisensies in sommige gevalle nie saam met die grond aan begunstigdes van grondhervorming oorgedra word nie. Volgens Ratau word ’n plaas wat bestem is vir grondhervorming onbruikbaar wanneer die waterregte nie aan die nuwe swart eienaar oorgedra word nie, maar in die verkoper se hande bly.

Talle kenners verwerp egter die argument. Die regering het die land se waterbronne in 1998 genasionaliseer en dit is nie ’n eenvoudige proses om ’n waterverbruiklisensie van een stuk grond na ’n ander oor te dra nie. Die nasionalisering van waterbronne beteken dat grondeienaars tegnies nie “waterregte” het nie, maar eerder ’n aanspraak op waterverbruik in die vorm van ’n waterlisensie.

“Nkwinti het die kat aan die stert beet,” sê Adriaan Groenewald, ’n prokureur van Humansdorp wat in waterregte spesialiseer. “Om jou aanspraak op waterverbruik oor te dra, is nie iets wat outomaties gebeur nie. Wanneer jy jou grond verkoop en jy het ’n waterverbruiklisensie, moet jy eers aansoek doen om dit saam met jou te vat. Jy moet dit in jou verkoopkontrak inskryf, maar jy loop die risiko dat die minister dié versoek kan afkeur. Boonop word ’n waterverbruiklisensie aan die waterbron gekoppel en kan jy dit nie tussen provinsies, of selfs streke met verskillende opvangsgebiede, oordra nie.”

Groenewald sê in bykans elke kooptransaksie waarby hy betrokke is, bly die aanspraak op waterverbruik by die grond en “neem” die oorspronklike eienaar dit nie “saam” met hom of haar nie.

Boonop is dit ’n uiters akademiese argument dat aanspraak op waterverbruik aan die grond of aan die individu kleef, sê Groenewald. Boere verhandel wel hul aanspraak op waterverbruik onder mekaar in private transaksies sonder dat die verkoop van grond in die prentjie is, maar die regering wil nou ’n stokkie daarvoor steek. “Die argument is dat jy nie ’n aanspraak op iets kan verhandel nie.”

Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, is besig om die Waterwet van 1998 en die Waterdienswet van 1997 saam te voeg en die nuwe voorgestelde wetgewing gaan glo binnekort in die Staatskoerant gepubliseer word. Volgens Ratau sal dié wysigings insluit dat die regering waterbronne só sal bestuur dat voorheen benadeeldes bevoordeel sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.