Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Staatdiens behoort aan geen politieke party of belangegroep’

Die staatsdiens behoort nie aan ’n enkele politieke party nie en is ook nie die domein van ’n bepaalde belangegroep nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy jongste nuusbrief opnuut gesê die land se staatsdiens moet uit bekwame, doeltreffende, etiese en ontwikkelingsgeoriënteerde amptenare bestaan as die land goeie regering wil hê.

Ramaphosa het gesê dit beteken die staatsdiens moet uit professionele, geskoolde, onbaatsugtige en eerlike amptenare bestaan wat die Grondwet respekteer.

Die opposisie kritiseer die ANC gereeld dat kaderontplooiing, waar bevoegdheid nie die maatstaf is nie, die rede is waarom die land op al drie regeringsvlakke misluk en dienslewering agteruitgaan.

Ramaphosa, wat in ’n stadium voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee was, het erken dat dit te veel gebeur dat mense in die staatsdiens aangestel of bevorder word in poste waarvoor hulle nie geskik óf gekwalifiseer is nie.

Dit het ’n negatiewe uitwerking op doeltreffende regering en bevorder onder meer nepotisme, politieke inmenging, ’n gebrek aan verantwoordbaarheid, wanbestuur en korrupsie.

“Die staatsdiens behoort nie aan ’n enkele politieke party nie. Dit is ook nie die domein van ’n bepaalde belangegroep nie.

“Die staatsdiens behoort aan die mense van Suid-Afrika en moet slegs aan hulle diens lewer en dit goed doen,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê sedert hy president geword het, het hy nog altyd gesê dit is een van sy vernaamste doelwitte om toe te sien dat die land ’n doeltreffende, bekwame en etiese staatsdiens het wat vry van korrupsie is.

Volgens Ramaphosa word daar tans wyd gekonsulteer oor ’n beleidsdokument wat ten doel het om die staatsdiens te verbeter.

Staatsamptenare moet in staat wees om onverstoord voort te gaan met hul werk ongeag of daar veranderinge aan die minister, lede van die provinsiale uitvoerende komitee of ’n nuwe stadsraadslid is
Pres. Cyril Ramaphosa

Die kabinet het reeds verlede jaar ’n beleidsraamwerk hiervoor goedgekeur.

“Ná 27 jaar van demokrasie kan ons sê dat verskeie staatsdepartemente baie ernstige uitdagings in die gesig staar terwyl daar tog afdelings is wat uitnemend is,” het Ramaphosa geskryf.

Politieke inmenging en inmenging van die kabinet in die administrasie van die staatsdiens is boonop nie gewens nie.

“Daar sal ernstig gekyk moet word na die onstabiliteit van departemente waar senior bestuur verander word elke keer wanneer ’n nuwe minister aangestel word.”

Veral direkteurs-generaal en provinsiale hoofde van departemente wat gereeld vervang word, dra by tot die onstabiliteit.

Een van die voorstelle in die beleidsraamwerk is dat die staatsdiens gedepolitiseer en van die politiek geïsoleer word.

“Wat ons nodig het, is professionalisme in die staatsdiens – veral op senior vlak – om stabiliteit te bring.

“Staatsamptenare moet in staat wees om onverstoord voort te gaan met hul werk ongeag of daar veranderinge aan die minister, lede van die provinsiale uitvoerende komitee of ’n nuwe stadsraadslid is.”

Ramaphosa het gesê dit sluit ook regeringsverandering in.

“Ons stel heelwat verreikende hervormings voor soos onder meer die verlenging van hoofde van departemente se termyne op grond van meriete en prestasie.

“Daar moet ook ’n evaluering wees wat bepaal of hulle vir die poste van direkteurs-generaal en adjunk-direkteurs-generaal geskik is. Die Staatsdienskommissie moet hierby betrokke wees.”

Almal wat op die kortlys vir dié poste is, moet integriteitstoetse ondergaan.

Een van die voorstelle is ’n strenger benadering jeens werwing en die keuring van staatsamptenare, het Ramaphosa geskryf.

Klem word in die beleidsraamwerk gelê daarop dat staatsamptenare verantwoordbaar gehou word vir onreëlmatighede en dat daar ontslae geraak word van die kultuur van straffeloosheid wat die wanbestuur en wanaanwending van staatsbronne betref.

Meer oor:  Pretoria  |  Staatsdiens  |  Korrupsie  |  Cyril Ramaphosa  |  Kaderontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.