Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatsentiteite kán reggeruk word, sê Cyril

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se finansiële krisis het so vererger dat daar geen ander volhoubare en finansieel werkbare keuse was nie as om in te gryp en dit ter wille van dié lugdiens se oorlewing onder vrywillige sakeredding te plaas.

So skryf pres. Cyril Ramaphosa oor dié ingryping in sy weeklikse nuusbrief wat Maandag uitgereik is.

Volgens hom is daar ’n groep staatsentiteite (SOE’s) wat ondanks geldelike en bedryfsprobleme enorme bates, ’n groot en diverse groep opgeleide personeel en ’n goeie rekord het.

Hoewel baie SOE’s diep in die skuld is, bly dit waardevolle staatsbates met ’n groot vermoë.

“Ons sal nie toelaat dat enigeen van hierdie strategiese SOE’s ondergaan nie en sal al die nodige stappe doen, hoe drasties ook al, om dit reg te ruk.”

Dit is waarom die SAL volgens hom verlede week in sakeredding geplaas is.

“Met die steun van sy krediteure, die regering, bestuur en die werknemers sal die SAL in die lug bly én terselfdertyd die nodige herstrukturering ondergaan om dit ’n volhoubare maatskappy te maak.”

Ramaphosa sê hoewel dit nie verkieslik is om SOE’s deur sakeredding reg te ruk nie, raak die besluit alle SOE’s. “Of dit nou Transnet, Eskom, Denel of Prasa is, doen ons alle moontlike stappe om hulle reg te ruk.”

Hy meen sy regering het sedert dit in Februarie verlede jaar aan die bewind gekom het reeds die nodige stappe begin doen deur die doeltreffende bestuur van SOE’s te versterk en om nuwe direksielede en vaardige en ervare uitvoerende bestuurders aan te stel.

Volgens hom was ’n ander voorkeursaak om staatskaping en korrupsie te beëindig wat verskeie SOE’s verlam het. Verskeie individue is aangekla en in sekere gevalle is van die gesteelde geld verhaal. Volgens die president sal dit voortduur totdat alle oortreders deur ’n hof aanspreeklik gehou word.

Van die probleme by SOE’s is deur verouderde sakemodelle veroorsaak en daarom word Eskom in drie entiteite vir opwekking, transmissie en verspreiding verdeel, sê Ramaphosa.

“Dit sal Eskom nie net help om van sy finansiële en bedryfsprobleme te oorkom nie, maar ook bydra tot ’n doeltreffender, koste-effektiewe en lewensvatbare energiesektor.”

Ramaphosa sê ’n belangrike deel van die regrukpogings is om SOE’s se afhanklikheid van reddingsboeie en staatswaarborge te verminder. “Belastingbetalers het te lank ondoeltreffende SOE’s gefinansier wat wanbestuur is.”

Daarom verminder SOE’s nou hul uitgawes en verhoog hul inkomste en bestuur dié entiteite hul skuld om doeltreffendheid te verhoog. “Enige verdere finansiële ondersteuning van die regering af gaan gepaard met streng voorwaardes om volhoubaarheid te bevorder en toe te sien dat hulle selfonderhoudend word.”

Volgens Ramaphosa sal die staat eienaarskap van strategiese SOE’s behou sodat dit steeds hul kritieke ekonomiese en ontwikkelingsfunksies kan verrig.

Strategiese ekwiteitsvennote sal, waar moontlik, egter gesoek word om SOE’s met kapitaal, vaardighede en tegnologie te help.

Hy belowe onbehoorlike politieke inmenging in die bestuur van SOE’s sal voortaan ook verhoed word.

Ramaphosa meen dat SOE’s ondanks hul probleme gered kan word, maar dat dit taai en ongewone besluite verg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.