Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping baie groter as Zuma, sê Jonas

Staatskaping is veel groter as oudpres. Jacob Zuma omdat dit struktureel én sistemies is, het Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg gesê.

Jonas, wat die tweede keer voor die kommissie verskyn het, is onder kruisverhoor geneem deur adv. Piet Louw SC, wat vir Duduzane Zuma, Zuma se seun, verskyn het.

Jonas het verlede jaar in sy aanvanklike getuienis voor die kommissie onder meer getuig dat hy, Duduzane en Fana Hlongwane op 23 Oktober 2015 in die Guptas se huis in Saxonwold in Johannesburg vergader het.

Mcebisi JonasFoto: City Press

Hy beweer dat “ ’n Gupta-broer” hom ’n ministerspos en R600 miljoen aangebied het. Die betrokke Gupta-broer, hy is nie seker watter een nie, het glo ook gedreig om Jonas dood te maak as hy sou uitpraat.

Hlongwane se regspan wat Jonas ook Vrydag sou kruisondervra, het egter nie by die sitting opgedaag nie.

Jonas, ’n ANC-veteraan, het aan die voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, gesê die kommissie behoort te kyk na oplossings vir Suid-Afrika se politieke stelsel wat tans só verpersoonlik word dat strukturele probleme selde aandag geniet.

“Dit is waarom ons nie ons probleme kan oplos nie, soos byvoorbeeld rassistiese uitlatings wat geduld word omdat ’n sekere persoon dit gesê het.

“Daarom is dit ook gevaarlik om staatskaping te wil ‘Zumafiseer’. Om te dink dat dit net Zuma was. Dit is die grootste fout wat ons sal maak omdat dit veel groter, struktureel en sistematies, is. Ons sal die bal misslaan as ons dit doen.”

Volgens Jonas moet daardie strukturele probleme hanteer word om die gevaar te voorkom.

“Gelukkig kan ’n mens sien aan wat tans in die land gebeur dat daar geprobeer word om op die strukturele probleme te fokus. Ons moet die persoonlikhede van ons politiek skei.”

Hy het gesê die verhouding tussen die regering en die regerende party moet ook aandag geniet, omdat “die kaping van die party ’n maklike voertuig is waarmee die staat gekaap kan word”.

“Die politieke stelsel moet herbekyk word. Die lyn tussen die regering en die party moet duideliker gemaak word. Staatsinstellings moet gebou word om verby politieke verkiesingsiklusse te strek.”

Hy is van mening dat staatinstellings wat die staatskaping oorleef het, is dié wat nie met verkiesingsiklusse verbind word nie.

“Soos die regbank, waar ’n hoofregter nie inkom en alle regters afdank nie, en die Reserwebank. Sulke instellings is duursaam.

“Nie soos waar nuwe ministers by departemente aankom en ontslae raak van direkteurs-generaal en ander amptenare in die topbestuur nie. Dit is nie volhoubaar nie. Dit is deel van die probleem.”

Jonas het gesê dat die regering en party daarom van mekaar losgemaak moet word.

Louw het in kruisondervraging aan Jonas gesê Duduzane ontken sy weergawe en sal sy eie weergawe volledig aflê wanneer hy voor die kommissie getuig.

Op sy beurt het Jonas Duduzane en Hlongwane se weergawes dat hulle vergader het om die bewerings uit te klaar dat Hlongwane Jonas afgepers het, verwerp.

Hy het ook die Guptas se weergawe verwerp dat nie een van hulle op die betrokke vergadering teenwoordig was nie.

Adv. Wim Trengove SC, vir Jonas, het gesê die Guptas het in ’n persverklaring van 13 Maart 2016 ontken dat die vergadering ooit plaasgevind het.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Mcebisi Jonas  |  Staatskaping  |  Zondo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.