Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping: Hiéroor kan sommige dalk loskom

’n Gebrek aan internasionale samewerking kan daartoe lei dat prominente figure wat by ernstige staatskapings- en korrupsiesake betrek word, skotvry daarvan afkom.

LP’s in die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het Woensdag dié skoknuus gekry toe adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), hulle oor die jongste stand van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en sy vervolgings toegespreek het.

Adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se nuwe ondersoekdirektoraat (OD) – wat veral komplekse staatskapings- en korrupsiesake moet vervolg – en ander NVG-topbestuurders het Batohi vergesel.

Die komitee het gehoor dat die OD tans ook druk besig is om voor te berei om staatskapingsake te vervolg wat voortgespruit het uit getuienis wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer is.

Shamila Batohi
Adv. Shamila Batohi Foto: Daily Sun

Dit sluit in “hoëprofiel- of komplekse” korrupsie-ondersoeke na Estina, Bosasa, Eskom, Transnet, die departement van openbare ondernemings, die polisie en die NVG self.

Oor veral die Estina-suiwelprojek het Cronje gesê die NVG is gereed om dit in ’n hof te vervolg, maar dat sekere mense weens ’n gebrek aan internasionale samewerking dalk nooit strafregtelik daarvoor aanspreeklik gehou sal kan word nie.

Vroeër is berig dat die omstrede Gupta-broers, die Vrystaatse regering, Ace Magashule, huidige ANC- sekretaris-generaal, en oudminister Mosebenzi Zwane, wat tans ’n ANC-LP is, daarby betrek word.

Dit is welbekend dat die Guptas hulle tans onderskeidelik in Dubai en Indië bevind.

Volgens Cronje verdien mense om antwoorde te kry oor of hulle in dié aangeleentheid vervolg gaan word of nie.

Sy sê die OD kan egter weens ’n gebrek aan internasionale samewerking nie die nodige finansiële inligting bekom om die vloei van geld na te volg nie.

Volgens haar is dit reeds onder die uitvoerende gesag se aandag gebring en moet daar besluit word of die NVG met of sonder dié inligting moet vervolg of nie.

Dit beteken dat sommige mense nie aanspreeklik daarvoor gehou sal kan word nie.

“Dit beteken dat sommige mense nie aanspreeklik daarvoor gehou sal kan word nie.”

Die komitee is Woensdag ook amptelik ingelig dat adv. Rodney de Kock, voormalige Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, aangestel is om waar te neem in die plek van die omstrede adv. Nomgcobo Jiba, voormalige adjunk-NDOV.

Batohi het bygevoeg dat adv. Lawrence Mrwebi, voormalige hoof van die gespesialiseerde handelseenheid in die NVG, se pos ook binnekort gevul sal word.

Jiba en Mrwebi is uit hul topposte nadat die parlement in Desember aanbeveel het dat hulle nie weer daarin heraangestel moet word nie. Dit was nadat die Zondo-kommissie vroeër gehoor het dat die twee destyds heimlik vir oudpres. Jacob Zuma en Richard Mdluli, oudmisdaadintelligensiehoof, in die NVG opgetree het en ook by staatskaping betrek word.

Batohi het ook in haar voorlegging aan die komitee gesê die ekstra geld wat in die begrotingsrede aan die NVG toegeken is, gaan help om die enorme kapasiteitsprobleme wat dit tot dusver ervaar het, op te los.

Luidens haar voorlegging het die NVG tans 4 292 werknemers. Dan is daar 1 351 vakante poste. Hiervan is 155 reeds gevul, terwyl 921 poste geadverteer word.

Batohi het ook ten sterkste beweringe van nepotisme en die oorsien van veral swart NVG-personeel vir topposte ontken.

Bulelani Magwanishe, komiteevoorsitter, het ter afsluiting van die voorlegging gesê Batohi en die NVG is “die slagoffer” van hul eie “beeldpoetsery”. “Mense se verwagting is hoog omdat jy hulle belowe het dat vanjaar die jaar van oranje oorpakke (tronkuniforms) sal wees.”

Meer oor:  Nvg  |  Adv. Shamila Batohi  |  Staatskaping  |  Vervolging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.