SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping kon tot diktatorskap van buite lei – Chikane

Eerw. Frank Chikane, voormalige direkteur-generaal in die presidensie, glo as staatskaping sou voortgaan, kon dit geboorte gee aan ’n diktatorskap wat van buite die staat beheer is.

Eerw. Frank Chikane, voormalige direkteur-generaal in die presidensie, deel ’n ligte oomblik met adv. Thandi Norman SC, ’n ondervraer vir die Zondo-kommissie, by die kommissie se sitting in Parktown, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Chikane, wat onder oudpres. Thabo Mbeki gedien het, het Dinsdag in Johannesburg voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Hy het in sy getuienis beweer die Gupta-familie het, lank voordat hulle in omstredenheid gedompel is, met ’n plan gewerk om die staat te kaap.

Ingevolge dié plan sou ’n “faksie in ’n party of ’n ander entiteit basies beheer van die staat oorneem, want hulle bestuur dit van buite. Dit sou volgens my geboorte aan ’n diktatorskap kon gee.”

Chikane vermoed dit was nie blote toeval dat die Gupta-familie soveel mag gekry het nie.

“Deur my werk in die regering het ek ontdek dat daar sekere sakelui was wat spesifieke ministers in die visier het.”

Chikane sê hy is oortuig daarvan die Gupta-familie het ’n grootskaalse plan gehad om na leiers uit te reik wat strategiese poste in die toekoms sou bekom.

“Hulle het hierdie mense gekorrupteer met die oog daarop om die staat te kaap,” sê hy.

Hy sê hy twyfel dat nasionale intelligensiestrukture, waarmee oudpres. Jacob Zuma hegte bande het, destyds nié van dié “intelligente operasie” sou geweet het nie.

“Ek verneem twee senior intelligensie-amptenare het die kwessie by die president aangemeld, maar dit het die amptenare hul werk gekos,” beweer Chikane.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, sê twee getuies in intelligensie-strukture sal later vanjaar kom getuig en sal dalk meer lig op die kwessie kan werp.

Chikane het Themba Maseko, voormalige direkteur-generaal van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS), se getuienis voor die kommissie gestaaf.

Eerw. Frank Chikane op pad na die sitting van die Zondo-kommissie om sy getuienis te lewer. Foto: Felix Dlangamandla

Maseko het getuig oudpres. Jacob Zuma het hom uit sy pos verwyder omdat hy nie met Ajay Gupta wou saamwerk nie.

Gupta het op sy beurt Maseko glo opdrag gegee om die volle begroting vir staatsadvertensies na die Gupta-koerant The New Age te kanaliseer.

Volgens Chikane het Maseko hom destyds om raad genader nadat Maseko die Guptas ontmoet het.

Chikane het Maseko aangeraai om nie onreëlmatig op te tree nie.

“Hy (Maseko) het my toe gebel om te sê hy is voor ’n ultimatum geplaas. Hy het gesê as hy nie sy samewerking (aan die Guptas) gee nie, sal hy teen Woensdag nie meer ’n werk hê nie,” sê Chikane.

Maseko is toe inderdaad uit sy pos verwyder en na ’n ander departement geskuif.

Zondo het dit bevraagteken hoekom die ANC tot dusver nie sterk standpunt teen staatskaping ingeneem het nie. As die regerende party dit nie doen nie, kan dit mos weer gebeur, sê hy.

Chikane het hierop gesê hy is nie meer so betrokke by die party om ’n ingeligte mening daaroor te gee nie. Hy sê swak leierskap, eerder as die ANC self, is wat staatskaping moontlik gemaak het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.