Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping: Nuwe NVG-eenheid sif reeds deur getuienis

Die nuwe ondersoek-direktoraat van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) werk ten nouste saam met die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Adv. Hermione Cronjé
Adv. Hermione Cronjé. Foto: Deaan Vivier

Die eenheid is reeds besig om ’n magdom inligting van getuienis voor die kommissie te bestudeer vir moontlike vervolging.

Só het adv. Hermione Cronjé, nuwe hoof van dié eenheid, Vrydag op ’n mediakonferensie by die NVG se hoofkantoor in Pretoria gesê.

Die Estina-suiwelprojek en die Bosasa-skandaal is baie hoog op die eenheid – wat baie soortgelyk aan die eertydse Skerpioene-eenheid is – se radar.

“Omdat dit sake is wat reeds in die hof was, is dit vir ons ’n prioriteit,” sê Cronjé.

Verskeie ander sake is ook reeds geprioritiseer, maar die NVG wil in dié stadium nie daaroor uitwei nie.

Die eenheid, in die kantoor van die nasionale hoof van openbare vervolging, sal net uit ’n klein groepie mense bestaan. Kundiges – soos byvoorbeeld forensiese ouditeurs en regskenners – sal op ’n tydelike grondslag betrek word, maar almal wat vir die eenheid werk, sal eers behoorlik gekeur word.

“Afgetrede forensiese ouditeurs met baie ervaring sal onder meer ook gebruik word.”

Cronjé sê die bekende adv. Geoff Budlender SC, sal die eenheid strategiese regsadvies gee, terwyl adv. Thanda Mngwengwe, ’n voormalige bedryfshoof van die Skerpioene, na die NVG sal terugkeer om die eenheid te help.

“Benewens die polisie en die Valke het ons kollegas van die sentrum vir finansiële intelligensie, die spesiale ondersoekeenheid, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Staatsveiligheidsagentskap ook al hul hulp aangebied om ons te help om suksesvol te wees,” sê Cronjé, ’n internasionale kenner op die gebied van korrupsie en batebeslaglegging.

Afgetrede forensiese ouditeurs met baie ervaring sal onder meer ook gebruik word.

Sy het sedert 2013 as ’n konsultant vir die Stolen Assets Recovery Initiative, ’n gesamentlike inisiatief van die Wêreldbank en die Verenigde Nasies, gewerk.

Haar nuwe eenheid sal fokus op hoëvlak-korrupsie en misdaad.

“Ons sal fokus op die voorbokke en nie net die voetsoldate wat dit uitgevoer het nie.”

Baie van die sake waarop hulle sal fokus, sal voortspruit uit getuienis voor kommissies van ondersoek soos die Zondo-, Nugent- en Mpati-kommissie.

“Wat klaar baie duidelik is, is dat ons nie ’n tekort aan werk sal hê nie. Dit is egter belangrik dat ons nie te veel hooi op ons vurk probeer laai nie en eerder fokus op ’n kleiner aantal (hoëprofiel-)sake,” sê Cronjé.

“Dit is belangrik dat ons eerstens die integriteit van die regering en die geloofwaardigheid van die strafregstelsel moet herstel.

“Ons sal hoofsaaklik op drie gebiede fokus. Eerstens is daar korrupsie in die strafregstelsel wat gepak moet word. Dit is belangrik dat ons eers ons eie huis in orde kry.

Ons mikpunt sal wees om hulle wat die korrupsie om die staatskoffers te stroop, beplan, gekoördineer en aangespoor het aan die pen te laat ry.

“Tweedens sal ons fokus op korrupsie in staatsondernemings soos Eskom, Transnet en Prasa (die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika).

“Derdens sal ons ook fokus op hoëvlak-korrupsie in die openbare en private sektor. Dit sluit in die mense wat stelselmatig en aktief die regering se verkrygingstelsel en -prosesse misbruik om korrupsie te pleeg.

“Ons mikpunt sal wees om hulle wat die korrupsie om die staatskoffers te stroop, beplan, gekoördineer en aangespoor het aan die pen te laat ry.

“Ons sal seker maak ons sake is waterdig voordat ons hof toe gaan.”

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het op die mediakonferensie gesê sy het volle vertroue in Cronjé.

“Daar wag ’n baie groot uitdaging op ons almal. Ek weet nou al ons gaan daarvan beskuldig word dat ons optrede politiek geïnspireerd is. Ons het nie ’n agenda nie. Ons is onafhanklik.

“As daar sulke kritiek is, hoop ek die publiek sal ons ondersteun.”

Die tragedie van staatskaping is nie net die baie geld wat die land verlaat of gesteel is nie, maar ook wat dit kos om dit terug te kry, sê Batohi.

Meer oor:  Nvg  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.