Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping: SAKP betoog, eis vervolgings

Ondersteuners van die SAKP het Vrydag buite die kantore van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Pretoria betoog en geëis dat diegene wat by staatskaping betrek word, vervolg word.

Die SAKP meen daar is reeds voldoende bewyse vir strafregtelike vervolgings en dring daarop aan dat die NVG optree op grond van die bewyse oor staatskaping wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek onthul is.

“Ons doen ’n beroep op die NVG om vinnig op te tree teen diegene wat by staatskaping geïmpliseer word,” sê Jacob Mamabolo, die SAKP se Gautengse sekretaris.

Hy sê daar is ’n gebrek aan optrede deur wetstoepassingsagentskappe onder leiding van die NVG om toepaslike stappe te doen om die werk van die Zondo-kommissie aan te vul.

Die Zondo-kommissie is vandeesmaand reeds ’n jaar met sy werksaamhede besig en het getuienis oor beweerde inmenging en korrupsie by staatsbeheerde entiteite, staatsdepartemente en wetstoepassingsagentskappe aangehoor.

Oudpres. Jacob Zuma, die Gupta-familie en hul sakevennote word by die episentrum van staatskaping betrek.

Mamabolo sê as niemand in hegtenis geneem word nie, bestaan die risiko dat die kommissie in die oë van die publiek legitimiteit kan verloor.

“As dié situasie voortduur, is die kanse groot dat mense sal sê dat die kommissie waarskynlik ’n mors van belastingbetalers se geld is en geen positiewe impak het nie,” sê hy.

“Ons wil nie hê dat die kommissie se werk weens ’n gebrek aan optrede aan die kant van wetstoepassingseenhede ondermyn word nie.

“Gebruik asseblief die inligting van die kommissie en wys aan die mense van hierdie land dat die werk van die kommissie nie dieselfde lot as die Seriti-kommissie sal hê nie.”

SAKP, staatskaping, optog
SAKP-ondersteuners het Vrydag 'n optog buite die Nasionale Vervolgingsgesag se kantoor in Pretoria gehou. Foto: Bonolo Selebano

Die 2015-verslag van die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal is vroeër vandeesmaand deur die hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel.

Die SAKP eis in sy versoekskrif aan die NVG en die Valke dat etiese leierskap na dié twee agentskappe terugkeer en dat diegene in die twee agentskappe wat by staatskaping geïmpliseer word, verwyder word.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê in antwoord hierop dat die Valke nie op sy hande sit nie.

“Ons werk daaraan. Ons verstaan die frustrasie, maar dit is nie ons skuld nie. Ongelukkig neem ondersoeke tyd en ten einde alles te kan ontrafel moet ons die korrekte prosedure volg,” sê hy.

Phindi Mjonondwane, Gautengse woordvoerder van die NVG, wou nie kommentaar lewer nie en sê die NVG se nasionale kantoor hanteer navrae oor vervolgings ten opsigte van staatskaping.

Bulelwa Makeke, die NVG se nasionale woordvoerder, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Optog  |  Staatskaping  |  Sakp  |  Nvg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.