SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskaping: Terugveg-tribunaal begin dán

“Die era van straffeloosheid is verby,” het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Donderdag gesê nadat die regulasies in die Staatskoerant afgekondig is wat gestalte gee aan ’n spesiale tribunaal wat staatskapingsgeld van miljarde rande moet terugkry.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se spesiale tribunaal sal Dinsdag met sy bedrywighede begin, sê hy.

Ronald Lamola Foto: gallo

Pres. Cyril Ramaphosa het begin vanjaar in sy staatsrede bekend gemaak so ’n liggaam gaan saamgestel word om die geld en bates te verhaal wat deur onreëlmatighede en korrupsie deur staatsinstellings verloor is.

Luidens ’n verklaring wat die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling Donderdag uitgereik het, is R14,7 miljard betrokke by die sake wat gereed lê om deur die tribunaal oorweeg te word.

Dit sluit blykbaar die geld in wat onregmatig bestee is aan oudpres. Jacob Zuma se woonkompleks in Nkandla.

“Ons stryd teen korrupsie, bedrog en die vloei van onwettige geld het ware stukrag gekry,” sê Lamola. “Die tribunaal is ’n vinnige meganisme om elke sent terug te kry wat uit die staatskas gesteel is.”

Magte en modus operandi

Spesiale tribunale se werksaamhede verskil van siviele regsprosesse – soos wanneer die staat eise teen private persone of maatskappye sou instel om sy geld terug te kry.

Tribunale bespoedig die hele regsproses. Hul doel is om inligting te bekom en daarom word dié deel wat as openbare verhore afgehandel word, gewoonlik deur indringende ondersoekwerk voorafgegaan.

Die tribunaal kan ook besluit hoe vinnig die verrigtinge plaasvind.

Regter Gidfonia Mlindelwa Makhanya sal die voorsitter van die tribunaal wees wat geskeduleer is om drie jaar lank te sit.

Sewe regters sal haar bystaan: Icantharuby Pillay, Johannes Eksteen, Selewe Peter Mothle, Lebogang Modiba, Thina Siwendu, David van Zyl en Siraj Desai.

Die tribunaal sal in die Booysens-landdroshof in Johannesburg sit, maar die regulasies maak ook daarvoor voorsiening dat verhore in enige hooggeregs- of landdroshof in die land gehou kan word.

Lamola het verlede maand gesê die instelling van die liggaam is vertraag omdat hulle steeds aan die regulasies skaaf.

Ramaphosa het in Februarie gesê die tribunaal sou binne drie maande aan die gang wees.

Hulle wou wel “verseker dit is waterdig” en dat die regstegniese probleme en skuiwergate vermy word wat vorige tribunale aan regstappe blootgestel het, sê Lamola.

“Ons ondervinding het daarop gedui dat mense wat staatsgeld gesteel of deur korrupsie en wanadministrasie laat wegraak het nie huiwer om regstappe te gebruik nie.”

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het in Julie aan die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê die tribunaal sal ook geld van die Life Esidimeni-sage, Eskom en verskeie ander staatsdepartemente en -instellings verhaal. “Ons is besig om die verhaling van al die Nkandla-geld te ondersoek.”

Mothibi het toe gesê die SOE werk ook nou saam met die na­sionale vervolgingsgesag ten opsigte van sake van staatskaping.

Die verrigtinge van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping word ook dopgehou en die SOE het in daardie sta­dium reeds aan ’n paar ondersoeke voortspruitend uit dié kommissie gewerk.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Staatskaping  |  Politiek  |  Tribunaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.