Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staatskas hoofbron om entstowwe te betaal, sê Cyril
Pres. Cyril RamaphosaFoto: ELIZABETH SEJAKE

Die staatskas sal die hoofbron van finansiering wees vir alle koronavirusentstowwe wat die regering sal aankoop, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Selfs al beteken dit dat daar meer geld daarvoor geleen moet word.

Ramaphosa het dít Vrydag in sy hoedanigheid as ANC-president in sy politieke oorsig op die eerste dag van die regerende party se driedaagse lekgotla aan teenwoordiges gesê.

Dié virtuele lekgotla word bygewoon deur lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), Cosatu en die SAKP, sowel as ANC-ontplooides in al drie regeringsfere én verteenwoordigers van die private sektor, die burgerlike samelewing en tradisionele leiers.

Die Covid-19-pandemie en Suid-Afrika se entstofprogram, waaroor die regering tans erg onder kritiek deurloop, sowel as die land se ekonomiese herstelplan is van die hoofbesprekingspunte.

Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, het Saterdag voor Jackson Mthembu, wyle minister in die presidensie en senior NUK-lid, se huis in eMalahleni, Mpumalanga, aan joernaliste gesê dat die lekgotla weens sy afsterwe in ’n baie somber atmosfeer geskied.

Dit is veral omdat Mthembu, wat Donderdag aan Covid-19 dood is, die afgelope maande die “stem en gesig” van die regering se Covid-19-kommunikasieveldtog was.

Ramaphosa het verder in sy politieke oorsig, wat uitgelek is, aan afgevaardiges gesê dat die eerste entstowwe “binne ’n week of twee” in die land sal aankom en dat die interministeriële komitee onder leiding van adj.pres. David Mabuza – wat politieke toesig oor die entstofprogram sal verskaf – begin werk het om “dinge gereed te kry”.

Ramaphosa het bygevoeg dat Suid-Afrika alle beskikbare kanale sal ondersoek om entstowwe te bekom en om entstofdosisse te bekom “omdat ryker lande baie daarvan vir hulself toegeëien het. Ons is deel van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Covax-inisiatief en die Afrika-Unie se entstofverkrygingsinisiatief en ons is regstreeks in gesprek met vervaardigers.

“Met ons beperkte hulpbronne is die koste vir die aankoop van entstowwe ’n groot probleem. Dit is egter nie iets wat ons kan uitstel nie, omdat die koste aan menselewens en aan ons ekonomie veel groter is as die koste van entstowwe vir 40 miljoen mense.”

Volgens Ramaphosa is dit daarom reg om staatsgeld vir die aankoop van die entstowwe te gebruik, “al beteken dit selfs dat ons staatslenings moet verhoog. Kameraad Tito (Mboweni, minister van finansies) sal later die probleme in dié verband uitlig, maar geld sal daar wees om ons mense se lewens te red.”

Volgens Ramaphosa is sy regering ook in gesprek met die private sektor vir maatskappye om verdere bydraes te maak, “of geld in ’n gesamentlike fonds te stort waar werkgewers in staat is om die koste van inentings vir hul werksmag te kan dek.

“Baie het reeds ’n gewilligheid getoon om nie net met die inentingsinisiatief van hul werknemers te help nie, maar ook vir mense wat in hul omliggende gemeenskappe woon.

Sommige van hierdie maatskappye is in die mynbedryf.

“Die mediese fondse het ook baie werk gedoen oor finansieringsmodelle om die koste van entstowwe vir hul lede te dek en ons werk ook saam met hulle om te kyk tot welke mate hulle ook ander kan finansier.

“Deur hierdie finansieringsbenaderings verwag ons dat ons in staat sal wees om die koste te kan dek – van die aankope, berging, verspreiding en toediening van al die entstowwe wat ons benodig.”

Hy het benadruk dat die entstofprogram ongetwyfeld die grootste logistieke operasie ooit in Suid-Afrika sal wees, wat almal binne die landsgrense – Suid-Afrikaners én buitelanders – moet bereik. Dit is nodig soos die gewensde vlak van kudde-immuniteit bereik kan word.

Ramaphosa het dit ook duidelik in sy oorsig gemaak dat die pandemie waarskynlik vir die hele 2021 “met ons sal wees. Ons weet nie of daar verdere vlae van infeksies sal wees nie en of daar verdere variante, insluitend dié uit ander lande, sal wees nie.

“Ons weet nie verseker teen watter pas ons in staat sal wees om die bevolking in te ent nie of wanneer ons kudde-immuniteit sal bereik nie.”

Volgens hom moet dié werklikhede dus die fokus van alle gesprekke by die lekgotla wees, wat Sondag eindig.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Lekgotla  |  Entstof-Program
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.