Landbou-organisasies het met gemengde gevoelens op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede van Donderdagaand gereageer.
Agribiz se hoof, dr. John Purchase, sê die staatsrede was meer realisties en het die talle uitdagings waardeur die landbou in die gesig gestaar word, erken.
Purchase het veral Ramaphosa se verwysing na die logistieke probleme met uitvoer en sy aankondiging dat dele van Durban se hawe opgegradeer gaan word, verwelkom.
Hy sê ook die organisasie verwelkom die veranderende houding teenoor die land se kragprobleme en hernubare energie en sê dat die daad nou by die woord gevoeg moet word.
Agri SA sê in ’n persverklaring Ramaphosa se staatsrede hou belofte in, maar daadwerklike optrede is nou nodig.
Die TLU SA sê ’n mens kan nie in een sin sê jy wil grondhervorming (deur onteiening sonder vergoeding) versnel en in dieselfde sin sê dat landbouproduksie verhoog sal word nie.
Die koers wat die ANC inslaan is gedoem tot ekonomiese mislukking, sê Louis Meintjes, president van die TLU SA, in sy reaksie op die staatsrede.
Hy sê ook die organisasie is dankbaar dat die regering strategieë het om rampe soos droogte die hoof te bied, maar vra of dit net by sekere boere gaan uitkom en of dit dalk weer so laat sal wees dat boere, hul werkers en hul diere van die honger vergaan.
Agri SA sê in ’n persverklaring Ramaphosa se staatsrede hou belofte in, maar daadwerklike optrede is nou nodig.
“Die president se verbintenis om die land se verswakkende ekonomiese groei om te keer, is positief en sal ook tot voordeel van landbou in die geheel wees,” sê Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur.
Agri SA hoop van harte dat die president en sy onderskeie ministeries en departemente in die komende jaar daad by woord sal voeg, sê hy.
“Dit is jammer dat die president nie meer aandag aan die landbousektor in sy staatsrede gegee het nie. Hy het verskeie planne uitgelig, maar nie genoeg besonderhede verskaf wat die praktiese uitvoerbaarheid daarvan betref nie”, sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur.
Hy sê dit bekommer hom ook dat Ramaphosa nie méér besonderhede oor droogtehulp en praktiese oplossings daarvoor bekend gemaak het nie.